Vra vir Faffa

Hartwater in bokke

Vraag

Ek het ’n paar boerbokke en beeste waarmee ek my net buite Pietersburg in die Limpopo Provinsie besig hou en dit lyk my hier is erg hartwater. Graag wil ek dan aan u ‘n paar vrae vra. (1) Is daar ander siektes wat dieselfde simptome gee as hartwater? (2) Is daar ’n manier /metode om te bepaal of ‘n dier natuurlike immuniteit het teen die siekte? (3) Maak droogtestres of enige stres ‘n dier meer vatbaar vir hartwater? (4) Waarom reageer sommige diere op behandeling en ander nie? (5) Waarom vrek ‘n dier twee dae nadat jy dit geblok het nog steeds of kry hartwater drie dae voor die volgende blokbehandeling? Ek blok met Terramycin/LA elke sewende dag. (6) Hoe lank kan ek met behandeling aangaan voordat ek die dier vankant moet maak? Die beeste is nie so ’n groot kopseer nie, maar my bokke wel. Het laasjaar drie kalwers verloor en ses bokke Die jaar nege bokke in een maand en dit kan nog meer word indien ek nie drasties hulp kry nie. Dok weet, 17 H00 is ek in die kraal om die hanslam melk te gee omrede die se ma ook gevrek het, dan makeer die bokke niks. Die volgende môre lê daar ‘n bok met kop agteroor getrek, stywe bene, blêr ,haal vinnig asem, groot oë en koors. My reaksie is, hardloop yskas toe kry 5ml Engemycin en 1ml Kortico en spuit dit binneaars. Ek help dan die bok op sodat die kan staan, maar is van balans en val dan later weer om. Soms kom die bok reg en soms nie. Die Kortico veroorsaak dan ook dat die ooie wat moet lam, aborteer. Die bokke word elke derde week gedip met Virbac Ami dip en Pro dip. Dok gee asseblief raad. Indien dit so aangaan het ek eersdaags niks bokke oor nie. L.M du Plessis

Antwoord

Ek gaan heel eerste begin om die eerste 3 vrae te beantwoord. Die res van die artikel sal moontlik meer duidelikheid oor hartwater en die beheer/behandeling daarvan gee.

 
1)    Daar is ander siektes in bokke wat soortgelyke kliniese tekens as hartwater kan veroorsaak. Dit wissel van virussiektes soos bv. hondsdolheid, bakteriese siektes wat breinvliesontsteking en absessasie in die brein veroorsaak, plantvergiftigings soos bv. plakkies en melktou, swaar metale soos bv. Loodvergiftiging en ander vergiftigings soos organofosfore en ureum. Dit is daarom van uiterste belang dat ’n behoorlike diagnose deur ’n veearts gemaak moet word of die bokke wel van hartwater vrek. ’n Diagnose van hartwater word bevestig deur ’n breinsmeer van ’n dier wat van die siekte gevrek het, te maak en die parasiete kan dan onder ’n mikroskoop in die bloedvatwande van die brein gesien word. Ongelukkig is dit die enigste metode om hartwater in diere te bevestig. Ons kan wel ’n diagnose van die siekte maak deur die geskiedenis van die diere (nuwe diere wat op “hartwater veld” geplaas word) , senuweesimptome met ’n koorsreaksie (> 40 ºC) en die teenwoordigheid van die hartwater bosluis (Amblyomma hebraeum) op die diere in ag te neem.
2)    Bloedmonsters kan van die diere geneem word en na ’n laboratorium gestuur word om te bepaal of die diere teenliggaame teen die siekte ontwikkel het. Weereens moet die veearts genader word om hiermee behulpsaam te wees.
3)    Enige stresomstandighede soos bv. swak of wanvoeding, hoë parasiet (interne en eksterne parasiete) ladings en ander siektes kan wel verooorsaak dat diere hul immuniteit teen enige siekte verloor of meer vatbaar raak.
 
Hartwater is ’n bosluisoorgedraagde siekte van beeste, skape, bokke en sommige wildsoorte en word veroorsaak deur ’n Rickettsia, Ehrlichia ruminantium. Die kliniese tekens van hartwater is redelik tipies met koors, senuwee simptome, oormatige vog in die borsholte, hartsak, longe, brein en uiteindelik vrektes.
 
Die siekte is net teenwoordig op plase waar die vektor van die siekte, die hartwaterbosluis of bontbosluis (Amblyomma spp.) voorkom. Die bontbosluis spesie wat in Suid Afrika voorkom is Amblyomma hebraeum. Die bosluise word met die siekte besmet deur op diere wat die siekte onder lede het, te voed. Nie alle bosluise dra die siekte nie, maar oor die algemeen word aanvaar dat tot 7% van ’n bosluispopulasie op ’n plaas waar die siekte endemies voorkom, besmet kan wees. Verhoogde gevalle van hartwater kom voor wanneer groot getalle bosluise voorkom soos bv. na goeie reën.
 
In die natuur kom stamme van hartwater voor wat antigenies verskil met wisselende virulensie. Daar is ook baie swak kruisbeskerming van diere met die verskillende stamme. M.a w. diere wat immuun is teen ’n sekere stam van hartwater wat op een plaas voorkom, is nie noodwendig immuun teen ’n ander stam wat op ’n ander plaas voorkom nie.   
 
Skape en bokke (Angora en Boerbok) is meer vatbaar vir hartwater as beeste terwyl die bokke weer meer vatbaar is as skape en die immuniteit wat hulle teen hartwater ontwikkel, is van korte duur. Genetiese weerstand teen hartwater is in sekere bokspesies gevind, wat waarskynlik a.g.v. ’n resessiewe geen teenwoordig kan wees.
 
Wanneer ’n dier deur ’n bosluis met hartwater besmet word, infiltreer die parasiete die endoteelselle (selle in die bloedvatwande) van die bloedvate van verskeie organe in die dier waar hulle vermeerder. Dit kom voor asof die parasiete ’n voorkeur het vir die bloedvate van die brein van die dier.   Die parasiete veroorsaak ’n verhoging in die deurlaatbaarheid van die bloedvatwande vir vog en vog begin aansamel in en rondom die organe wat dan lei tot hidro-toraks (vog in die borsholte), hidro-perikardium (vog in die hartsak), longedeem ( verhoogde vog in die longe) en breinedeem (verhoogde vog rondom die brein). Die vog om die brein is waarskynlik verantwoordelik vir die senuweesimptome, vog in die hartsak vir hart disfunksie en die vog in die longe en borsholte vir versmoring. M.a.w ’n dier wat vrek a.g.v hartwater vrek nie weens die parasiete nie, maar versuip letterlik in sy eie vloeistowwe.
 
 Die inkubasieperiode van die siekte (tydsverloop van infeksie tot eerste siektesimptome waargeneem word) in bokke en skape wissel van 7 tot 35 dae met ’n gemiddeld van 14 dae. Die siekte kom gewoonlik per-akuut en akuut in bokke voor. Die meeste diere val net om en vrek na ’n paar wilde senuweesimptome (skoppe op die grond) sonder dat opgemerk word dat hul siek was. Sommige kan egter ophou vreet, toon oormatige flikkering van die ooglede, blêr aanmekaar, sukkel om asem te haal, toon herhaaldelike koubewegings en gaan lê later met tipiese “fietsry bewegings” van die bene.
 
Daar is verskillende metodes om diere te immuniseer teen hartwater. Die bokke kan met die Onderstepoort hartwaterentstof ingeënt word. Jong lammers moet binne die eerste week van geboorte geënt word wanneer hul ’n natuurlike immuniteit teen die siekte het. Volwasse diere moet geënt word en temperature moet van die diere geneem word. Sodra die diere ’n koorsreaksie toon, moet hulle met ’n oksitetrasiklien behandel word. Ongelukkig hang die graad van immuniteit in bokke af van wanneer die diere behandel word na die koorsreaksie waargeneem is.  Diere wat op die 2de en 3de dag nadat die eerste koorsreaksie waargeneem is behandel is, het ’n beter en langdurige immuniteit ontwikkel vergeleke met diere wat vroeër behandel is.
 
Ongelukkig kan sukses met die entstof nie altyd gewaarborg word nie aangesien, soos reeds genoem, stamme van hartwater in die veld voorkom wat meer virulent is as die stamme wat in die entstof gebruik word. Daar bestaan ook min of geen kruis immuniteit tussen die verskillende stamme.
 
’n Immuniseringsmetode wat “chemoprofilakse” genoem word, word met sukses deur sommige boere gebruik om hulle diere teen hartwater te immuniseer in areas waar groot hoeveelhede bontbosluise en hartwater voorkom. In bokke behels dit die behandeling van die diere met ’n langwerkende oksitetrasiklien soos bv Terramycin LA of Reverin LA teen ’n dosis van 1 ml / 10 kg elke 17 dae.  Die teorie is dat die middels die diere teen hartwater sal beskerm vir 2 tot 3 dae na behandeling. As die dier dan daarna deur ’n bontbosluis gebyt word, is die inkubasieperiode gemiddeld 14 dae voordat die dier ’n koorsreaksie ontwikkel. Die volgende behandeling 17 dae later sal die siekte beheer. Na 3 tot 6 maande, afhangende van die seisoen en bosluislading, behoort die diere volledige immuniteit teen hartwater te ontwikkel. Tydens die periode word die diere minimaal gedip.
 
Behandeling van die diere elke 7 tot 14 dae gaan nie die probleem oplos nie omdat die diere nie immuniseer nie. Die diere moet die infeksie van bosluise of deur inenting kry om immuniteit te ontwikkel en behandelings elke 7 tot 14 dae voorkom dat hul die siekte kry. Ons sê dit “steriliseer” die siekte.
 
Dit is belangrik om daarop te let dat die dip van diere nooit bosluisoorgedraagde siektes gaan en sal voorkom nie. Dip kan wel die siektes beheer. Vir ’n dier om sy immuniteit teen hartwater te behou, is dit uiters noodsaaklik dat hy/sy herhaaldelik aan die siekte blootgestel word. Om suksesvol met “chemoprofilakse” te wees, moet diere dus nie te gereeld gedip word nie aangesien die diere deur bosluise gebyt moet word om die siekte oor te dra en vir die dier om sy immuniteit te behou. Om immuniteit te behou moet die diere dus net gedip word wanneer die bosluislading te hoog raak m.a.w. wanneer die bosluise absesse en wonde veroorsaak. Kolbehandeling met ’n dipmiddel of bosluisghries kan gebruik word en diere moet gereeld deur ’n voetdip loop om voetabsesse te voorkom.
 
’n Verdere punt om op te let, is dat sekere oksitetrasikliene wat oor die toonbank beskikbaar is, erge weefselskade en pyn veroorsaak. Die weefselskade voorkom voldoende opname van die middel om die siekte suksesvol te beheer en te behandel, veral as daar herhaaldelike behandelings toegedien word.
 
Die behandeling van hartwater is tweërlei. Eerstens moet die parasiete doodgemaak word met ‘n oksitetrasiklien of doksisiklien. In akute gevalle is doksisiklien (Doxymycin QA) die middel van keuse. Die middel word binneaars toegedien en die terapeutiese vlakke vir die behandeling van hartwater met die middel word baie vinniger (binne ’n paar uur) bereik as met ’n middel wat binnespiers toegedien word. As doksisiklien gebruik word vir behandeling, moet dit die volgende dag met ’n langwerkende oksitetrasiklien opgevolg word. 
 
Tweedens moet daar gepoog word om so vinnig as moontlik van die oortollige vloeistof wat in die longe, in die hartsak, in die borsholte en in die brein aangesamel het, ontslae te raak en moet ’n diuretikum bv. ‘n kortwerkende kortikosteroied (kortisoon) soos bv. prednisoloon ook toegedien word. ’n Eenmalige behandeling is egter nie voldoende nie en moet 2 x / dag toegedien word totdat die dier begin herstel. ’n Middel soos dimetiel sulfoksied (DMSO) werk ook baie goed om van die vloeistof ontslae te raak en moet binneaars deur ’n veearts toegedien word. Ongelukkig kan hoë dosisse van sekere kortisone wel aborsies van dragtige ooie veroorsaak, maar akute hartwater as sulks kan ook veroorsaak dat ’n dragtige ooi aborteer. Die boer moet dus opweeg of die groter kans op herstel van die dier (ten spyte van aborsie) swaarder weeg as ‘n kortisoon toegedien word as wat die dier wat akute simptome van hartwater toon ’n groot kans het om te vrek sonder kortisoonbehandeling. Dit word aanbeveel dat u die behandeling met u lokale vearts bespreek wat u van die nodige middels kan voorsien.
 
Geskryf deur dr. Tom Strydom, Intervet/Schering-Plough Navorsingsinstituut, Malalane (tom.strydom@sp.intervet.com)
 
4 Desember 2009

Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X