Vra vir Faffa

Hartwater-behandeling

Vraag

Ek boer in die Bela-Bela (Warmbad) omgewing. Ek het vir my bokke en skape aangeskaf en gereël dat 'n veearts almal met hartwater-bloed inspuit. Ons het daarna behandel met 'n tetrasiklien en was gelukkig om geen diere te verloor nie. Die lammers begin nou mooi herstel en die vraag is of ek weer dieselfde prosedure moet volg (wat redelik duur is, maar goeie resultate lewer) of word die weerstand vanaf die moeder of vader na die klein skapies en bokkies oorgedra? - Deon Nepgen (deon.nepgen@za.pwc.com)

Antwoord

Vraag:
Ek boer in die Bela-Bela (Warmbad) omgewing. Ek het vir my bokke en skape aangeskaf en gereël dat ‘n veearts almal met hartwater-bloed inspuit. Ons het daarna behandel met ‘n tetrasiklien en was gelukkig om geen diere te verloor nie. Die lammers begin nou mooi herstel en die vraag is of ek weer dieselfde prosedure moet volg (wat redelik duur is, maar goeie resultate lewer) of word die weerstand vanaf die moeder of vader na die klein skapies en bokkies oorgedra? – Deon Nepgen (deon.nepgen@za.pwc.com)

Antwoord:
Hartwater-behandeling:
Jong diere het ‘n natuurlike aangebore weerstand teen hartwater wat hulle verloor as hulle ouer word. Die hartwater entstof bevat die lewende, Ehrlichia ruminantium (Ball 3 stam), organismes. Deur die natuurlike weerstand te gebruik, word kalwers jonger as ‘n maand en lammers en jong bokkies onder 7 dae ingeënt.

Deur hierdie prosedure te volg, wys die diere gewoonlik geen simptome nie. Dit word ook aanbeveel dat rektale temperature 2 keer per dag geneem word, wat die veiligste opsie is. As temperature ontwikkel, is dit gewoonlik 9 tot 14 dae ná enting. Uitsonderings in kleinvee is dat temperature reeds 7 dae ná enting styg. Neem temperature vroeg in die oggend. Gewoonlik is dit onnodig om die dier op die eerste dag te behandel as die temperatuur styg, behalwe as daar ‘n skielike styging van 1,5 °C of meer is.

Behandel die dier eers op die tweede dag as die temperatuurstyging hoër of dieselfde as die eerste dag van styging was. As die temperatuur egter daal, is die dier weerstandig of gedeeltelik immuun. As die temperatuur egter bly styg moet die dier onmiddellik behandel word.

Behandel met ‘n tetrasiklien met die dosis 10mg/kg. ‘n Langwerkende of kortwerkende middel bv. Reverin 100, Intervet, Reg. No. G2871, Wet 36/1947 of Reverin LA, Intervet, Reg. No. G3442, Wet 36/1947 kan gebruik word.

As die temperatuur bly styg na behandeling en ná 48 uur hoër is as op die dag van behandeling, moet ‘n tweede dosis tetrasiklien gegee word.

Daar moet onthou word dat ‘n insinking mag plaasvind en dat die temperatuur van veral waardevolle diere vir 2 weke ná behandeling geneem moet word.

Waar dag 0 die dag van inenting is, word die volgende behandelings aanbeveel:
Eksotiese Bos taurus beeste en hulle kruisings: dag 14
Inheemse Bos indicus beeste en kruisings: dag 16
Skape en Angorabokke: dag 11
Boerbokke en kruisings: dag 12

In veral ouer diere moet hulle eers ‘n koorsreaksie ontwikkel voordat hulle immuun is. As hulle te vroeg behandel word, sal hulle nie immuun wees nie. ‘n Praktiese metode om te volg waar ‘n groot aantal diere geënt is, is om 10 diere uit ‘n groep se temperature te neem. As 5 of meer se temperature bo die gemiddelde temperatuur styg vir 2 agtereenvolgende dae, behandel al die diere.

Daar is ook ‘n doksisiklien implantaat beskikbaar waar tablette onder die vel geïmplanteer word op die dag van enting.

Deon, jy sal die proses met die lammers elke jaar moet herhaal. Sterkte met die boerdery!

Bron: Infectious diseases of livestock, 2nd edition 2004, Coetzer, J.A.W.en Tustin, R.C. Oxford University Press, ISBN 0195761693

9 Maart 2005


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X