Vra vir Faffa

Haarverlies in diere

Vraag

My buurman het 'n klein kalfie wat normaal gebore is met geen probleem nie. Na 'n ruk het sy hare net begin uitval vir geen rede nie en soveel so dat slegs 'n kwart van die kalf se lyf met hare bedek is. Wat kan die rede wees?

Antwoord

Alopesie of haarverlies kan beskryf word as die gedeeltelike of algehele afwesigheid van hare in areas waar hare normaalweg sou voorkom. Indien ‘n dier sou jeuk, moet hierdie probleem eerste ondersoek word.

Daar is baie oorsake van haarverlies, enige siekte wat die haarfollikels kan aantas, sal tot haarverlies lei.

Oorsake van haarverlies word hoofsaaklik  in twee verdeel nl. oorerflik en verworwe.

Verworwe kan weer verdeel word in inflammatoriese en nie-inflammatoriese oorsake.

Oorerflike haarverlies word gevind in beeste, perde, honde, katte en varke. Aangebore haarverlies mag of mag nie oorerflik wees nie.  Dit word veroorsaak  deur ‘n gebrek aan haarfollikels en is sigbaar tydens geboorte of kort na geboorte.

Diere kan ook gebore word met vertraagde haarverlies d.w.s. hulle word gebore met ‘n normale haarkleed en gedeeltelike of algemene haarverlies vind plaas wanneer diere hul jongdier haarkleed afgooi of wanneer hul jong volwassenes word.

Kongenitale hipotiroïedisme (kropgeswel ) a.g.v. jodiumtekort in die moederdier lei tot diere met haarverlies.

Verworwe haarverlies kan weens hormonale versteurings plaasvind asook a.g.v. immuunverwante reaksies.

Siektes kan ook beskadiging van die haarskag of haarfollikel veroorsaak. Voorbeelde van siektes is bakteriële infeksies, demodekose, swaminfeksies, brandwonde, bestraling en vergiftigings (bv.  thallium, kwik, jodium).

Toestande wat haarfollikelgroei vertraag, is bv. voedingsverwant (veral  proteïen- en sinktekorte), hipotiroïedisme, hiperadrenalism, te veel estrogeenproduksie. Tydelike haar- en wolverlies kan plaasvind na ‘n erge siekte of hoë koors.

Na virusontsteking (BVD) van die koei en ooi (Bordersiekte) kan die kalf en lam sonder hare en wol gebore word.

Haarverlies kom ook voor waar diere met ektoparasiete (myte, luise,vlooie) besmet is en hulself skuur. Ander oorsake is allergieë en velkanker.  

Die inname van bitterbos (Chrysocoma tenuifolia) deur die ooi veroorsaak kaalsiekte by lammers wanneer hulle melk van die ooi drink. Van die derde tot die 14 de dag begin hul hare uitval. Die toestand word kaalsiekte genoem.

Bronne:

The Merck Veterinary Manual, tenth edition, 2010

Radostis, O. M., Gay, C.C., Hinchcliff, K.W. and Constable, P.D. 2007. Veterinary Medicine. Saunders, Elsevier.

De Wet, J. en Bath,G.1964. Kleinveesiektes. Tafelberg.

Geskryf deur: dr.Faffa Malan, Veeartskonsultant (dokfaffa@nashuaisp.co.za)

14 Desember 2013                                                    


Kommentaar

Kommentaar (3) “Haarverlies in diere

  1. Dawie Pretorius
    Dawie Pretorius

    Ek soek raad . Ons het ‘n hanslam sy wol val uit eers by sy kop nou die lyf. Is dit die honde pille of wat? By ons is daar sovat 100 veldplante en hy loop saam met hond en storm saam hul. Ons plaas is op Delmas -area

    • Jan Bezuidenhout

      Dawie, kontak asb. die NWKV-kantoor op Ermelo om te help om vas te stel wat met die hanslam fout is.
      Jacques Janse van Vuuren, Production Advisor
      Mobile: +27 83 2355467 Email: wolskaap@mweb.co.za

  2. Lidia
    Lidia

    Ek soek asb raad. Ek het n wit bulterrier. Eers was daar n knop in sy lies. Daar was 2 stukkende plekkies op die knop. Dit het gebloei. Ek het dit skoongemaak en salf opgesit. Dit het gelyk of dit beter word. Nou is daar 2 knoppe. Sy vel is droog en rooi. Sy hare begin uitval. Help asb . Ek is baie bekommerd oor my kind


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X