Vra vir Faffa

Groot sak hang voor koei se uier na kalwing

Vraag

Ons koei het gekalf en ‘n dag daarna het ons opgemerk dat daar net voor haar uier 'n groot sak hang. Die kalf drink normaal. Die koei het vir ‘n dag lank siek voorgekom, maar eet normaal en versorg die kalf goed. Die sak hang egter steeds. Kan jy dalk enige lig hierop werp?

Antwoord

Sommige koeie, maar dan veral verse, ontwikkel  ‘n groot swelsel van die uier asook van die buik voor die uier as gevolg van druk wat die vergrote baarmoeder  op die melkkliere  en are uitoefen. Die swelling kan so groot word dat dit die elmboë kan bereik en laag afsak onder die buik. Aanvanklik word gedink dat dit ‘n breuk mag wees. Die weefsel wat die vloeistof voor en somtyds agter die uier bevat, sal dril soos jellie as die koei beweeg. Die uier lyk styf en as jou vinger daarteen gedruk word, sal daar ‘n duik in die weefsel ontstaan sonder dat die vel  terug  beweeg om die area glad te maak (“pits on pressure”).

Gewoonlik is die verskynsel nie iets om oor bekommerd te wees nie en verdwyn die swelsel ‘n ruk na kalwing.

‘n Breuk is nie so algemeen nie en kom in een van twee plekke voor.  Die algemeenste plek waar ‘n naelbreuk tipies  sal vookom, is in ‘n area voor, waar normaalweg ‘n uierswelsel (uieredeem) gesien word. Hierdie toestand geskied gewoonlik voor kalwing en is die gevolg van ‘n naelstring wat nie volkome afsluit terwyl die kalf nog besig is om te groei nie.  As die sluiting swak is, kan daar ‘n breuk ontstaan wat vergroot as gevolg van abdominale drukking gedurende kalwing.  Afhangende van die ouderdom van die dier en die grootte van die breuk, mag chirurgiese herstelling oorweeg word. Gewoonlik word dit nie oorweeg in volwasse koeie en groot verse nie.

Minder algemeen is die skeur van die prepubiese ligament en  abdominale spierlae in die periode ‘n maand voor en gedurende kalwing. Die resultaat is dat daar ‘n swelsel voor die uier ontstaan wat simmetries aan beide kante van die middellyn is. Hierdie toestand mag net soos uieredeem, wat hierbo beskryf is, lyk maar die area is gewoonlik styf en sal nie skud as die koei loop nie.  Slagting van die dier is gewoonlik die enigste uitweg as so ‘n toestand gediagnoseer word. Indien die toestand voor kalwing gediagnoseer word, kan die koeie geïnduseer word om te kalf en kan ‘n keisersnee ook oorweeg word.

http://peppersplants.com/wp-content/uploads/2014/02/001.jpg

Geskryf deur: dr. Martin  van der Leek (martin@dairyvet.info), Fakulteit Veeartsenykunde, Universiteit van Pretoria en dr. Faffa Malan , Veeartskonsultant (dokfaffa@nashuisp.co.za).

 

22 November 2015


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X