Vra vir Faffa

Groenboerdery deur die natuur gelei

Vraag

Ek soek inligting oor suksesverhale waar organiese boerderypraktyke toegepas word.

Antwoord

Met manipulasie kan daar vandag amper enigiets op enige plek geproduseer word. Drastiese inmenging met die natuur is egter duur. Dit is hoekom The Drift Farm in die Overberg besluit het om eerder in harmonie met die omgewing te boer as om dit te dwing om by produksie aan te pas.

Daar is ’n groot variasie in die grond van The Drift Farm aan die voet van die Akkedisberge naby Napier in die Overberg.’n Paar meter uit mekaar sal jy sanderige en kleigronde kry, met ook groot ’n variasie in die klipperigheid van die grond. In plaas daarvan om die grond met kunsmatig metodes meer eenvormig te maak, het die span by The Drift Farm besluit om liefs produksie by die grond te laat aanpas.

Die resultaat is ’n groot verskeidenheid kruie, groente (op 1 ha) en vrugte asook wyn (16,5 ha wingerd) en olywe (sowat 1 500 bome op 2,5 ha) op die plaas waarvan sowat 200 ha bewerkbaar is.
Die groente- en kruieproduksie op die plaas kan nog met omtrent 7 ha uitgebrei word, maar die boere wag dat die ekonomie en aanvraag verbeter.
Die gewasse saam met die groot dele groen gebiede met natuurlike veld help om produksie te bevorder deur woudtoestande na te boots, sê mnr. Jason Snell, die bemarkingsbestuurder en peetkind van die plaaseienaar, mnr. David Jack. Volgens hom help die verskeidenheid flora om voordelige en nadelige insekte in balans te hou.
Die groente sluit ’n klomp ou, skaars kultivars (heirlooms) in, wat nou weer in aanvraag kom as gevolg van ’n groter bewustheid by verbruikers oor die herkoms van hul kos. Die bewustheid is veral aangewakker deur die Slow Food-beweging wat in 1989 in Italië begin het (lees die kassie
“Beweging teen kitskos”).
Op die plaas word onder meer Violetta Lunga-eiervrugte met hul lang, effens geronde vrugte; hawerwortel, ’n geurige meerjarige plant wat veral lekker smaak in disse met truffel-olie; hartvormige Poblano-soetrissies (die gedroogde vorm word in Mexiko ancho genoem); asook tweekleurige Tigerella-tamaties verbou.
Daar is ’n hele paar saadmaatskappye wat deesdae die saad van dié ou kultivars verkoop en Snell het ook al saad gekry van mense wat by die plaas se kraampie op markte, soos die Biscuit Mill in Kaapstad, aanklop. Groente- en kruiesaad word op die plaas vermeerder en hulle kweek ook
saailinge.
Hulle maak olyfolie van Frantoia- en Mission-olywe, terwyl suurdruiwesap (verjuice) en wyn van Touriga Naçional-en Tinta Barocca-druiwe gemaak word.
Vir die volledige artikel klik op onderstaande pdf’s.
Hierdie artikel het in die Landbouweekblad van 24 Februarie 2012 verskyn.
Geskryf deur: Glenneis Kriel  (glenneis.kriel@landbou.com)

Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X