Vra vir Faffa

Groeistimulante en inplantate

Vraag

Deur 'n dier spesifieke groeistimulante op spesifieke tye te gee, kan 'n mens sekere voordele vroeër laat ontwikkel sodat so 'n dier vroeër in sy lewe groter en swaarder kan wees as in die veld.

Antwoord

Vraag:
Kan u asb. meer inligting verskaf oor die nut en gebruik van groeistimulante en inplantate?

Antwoord:
As die groeivermo? van ‘n jong bulletjie vergelyk word met dié van ‘n vers of ossie, of die groei van ‘n rammetjie met die van ‘n ooitjie en hamel, is dit duidelik dat die manlike hormoon testosteroon ‘n groot rol speel by die groeivermo? van ‘n dier. ‘n Dragtige ooi of koei tel ook baie vinniger kondisie op as ‘n dier wat nie dragtig is nie, omdat sy baie meer van die vroulike hormoon progesteroon produseer.

Dit is dus duidelik dat hormone ‘n baie belangrike rol speel in die groeivermoë en in die omskakeling van voer na vleis in die dier. Maar soos by die mens word die produksie van die hormone in die dier vertraag tot na pubertiteit, sodat die dier eers groot en sterk kan groei terwyl hy onder sy moeder se sorg is en nie te gou rammetjie uitnek raak en moeilikheid optel met die groter diere nie. Deur stimulante in ‘n vroe? stadium van ‘n slagdier se lewe te inplanteer, kan so ‘n dier se groeitempo vroeër versnel word.

Deur ‘n dier spesifieke groeistimulante op spesifieke tye te gee, kan ‘n mens sekere voordele vroeër laat ontwikkel sodat so ‘n dier vroeër in sy lewe groter en swaarder kan wees as in die veld. Groeistimulante is nie ‘n wondermiddel wat ‘n dier net eenvoudig vinniger laat groei nie, maar dit skep die kapasiteit om addisionele voer hoogs doeltreffend om te skep in addisionele karkasmassa.

Indien ‘n groeistimulant op ‘n vroeë ouderdom toegedien word, stimuleer dit die dier se kliere om meer van verskeie hormone af te skei. Die dier se bene groei vinniger met ‘n groter raamwerk tot gevolg. Dit stimuleer die dier se aptyt, sodat hy meer vreet en vinniger groei. Dit stimuleer die metabolisme sodat meer spier vinniger geproduseer word, wat die uitslagpersentasie verbeter en dit verseker dat die ingeneemde energie eerder vir spierproduksie as vir vetproduksie gebruik word.

Vinniger energie
Daar is verskeie groeistimulante op die mark. Daar is die produkte wat in die voer ingemeng word, sodat rumenbakterie vinniger energie vir die dier produseer of dit onderdruk bakterieë wat nadelige produkte produseer soos melksuur, wat suurpens veroorsaak.

As ons na groeihormone kyk wat in oorinplantate voorkom, is daar ‘n paar belangrikes waarvan ons kennis moet neem. Daar is die manlike en die vroulike hormone. Die manlike hormoon testosteroon is die belangrikste hormoon vir spiergroei. Dit is maklik waarneembaar as ‘n mens na die verskil in bouvorm van ‘n groot bul kyk in vergelyking met sy koeie. Trenbolone is ‘n kunsmatige alternatief wat ‘n honderd maal meer kragtig is as testosteroon en wat gebruik kan word in ‘n oorinplantaat. Aangesien trenboloon so ‘n kragtige stimulant is, is dit baie belangrik om dit korrek te gebruik en die diere nie te veel daarvan te gee nie. Te hoë dosisse in klein diere kan aanleiding gee tot ‘n oormaat geryery, die onvermoë om ‘n bietjie vet aan te sit en taai vleis.

As ons na die vroulike hormone kyk, is daar twee wat van belang is. Die een wat van die minste belang is, is progesteroon, die hormoon wat dragtige diere in groot maat produseer en dan vinnig kondisie optel en vet word. Die hormoon in ‘n inplantaat bevorder dus ekonomiese voerverbruik, maar is meer daar om ‘n dier te help kondisie kry as vir groei. Die belangrikste vroulike hormoon is estrogeen. Die hormoon werk in verskeie areas, om die dier se aptyt te bevorder, haar metabolisme te verhoog en haar groeitempo te versnel. Dit speel dus ‘n baie belangrike rol om die dier se GDT (gemiddelde daaglikse toename) te bevorder. Weereens is daar kunsmatige produkte op die mark wat in die oorinplantate gebruik word en die oordosering daarvan kan aanleiding gee tot probleme soos rektale prolapse.

Daar is ook ‘n natuurlike groeistimulant wat nie hormonaal is nie, maar dieselfde resultate lewer as bogenoemde groeihormone. Die stimulant het verskeie interessante eienskappe wat dit vir die boer ‘n baie goeie hulpmiddel maak. Hierdie produk, met seranol as aktiewe bestanddeel, stimuleer hoofsaaklik die kliere om hul hormoonproduksie te verhoog. Die eerste belangrike hormoon waarvan die vlakke verhoog word, is somatotropien, wat verantwoordelik is vir die groei van been en spier en sodoende ‘n groter en swaarder dier produseer. Hierdie voordeel gee nie net ‘n groter raamwerk, wat later ‘n groter karkas tot gevolg het nie, maar ook ‘n groter pelvis, wat met makliker kalwing vir eerste kalf verse, veral Holsteins, kan help.

Onderdruk ontwikkeling van teelballe
Omdat baie van die aksies van seranol ooreenstem met dié van estrogeen, onderdruk dit die ontwikkeling van die teelballe in die vroeë stadium van die bulkalf se ontwikkeling. Hierdie proses het ‘n kastrasie effek sonder dat die dier deur die tauma van kastrasie gaan en daardeur teruggesit word. Sulke diere presteer baie beter in die voerkraal, eerstens omdat hulle rustiger is en tweedens omdat die stimulasie van die seranol hulle al reeds voorberei het vir die vinniger groei in die kraal.

As daar ‘n besluit geneem word oor watter inplantaat gebruik moet word, is dit belangrik om te weet hoe oud die dier is, van watter geslag, hoe lank dit gevoer gaan word en wanneer dit bemark gaan word.

Daar is ‘n groot verskeidenheid inplantate op die mark. Om die korrekte keuse te maak, moet daar eerstens na die draer van die inplantaat gekyk word, want dit bepaal hoe lank die inplantaat gaan werk.

Silikooninplantate kan vir ‘n baie lang tyd aktief wees, Die inplantate met ‘n cholesteroldraer kan tot 150 dae aktief wees, terwyl inplantate met ‘n laktosedraer selde nog aktief is na honderd dae. Die inplantate met ‘n laktosedraer reageer egter baie gouer omdat hulle hul stimulante vinniger vrystel. As dus besluit word om ‘n inplantaat met ‘n laktosedraer en hoë dosisse hormone te gebruik, word dit sterk aanbeveel dat dit slegs by swaar en groot diere gebruik word.

Speenkalwers wat gereed is
Inplantate wat seranol, testosteroon, estrogeen en progesteroon bevat, is gewoonlik meer geskik vir klein diere wat vir ‘n kort periode voorberei word vir ‘n voerkraal. Speenkalwers wat gereed is om in ‘n voerkraal te gaan, moet inplantate met trenboloon en oestradiol 17β ontvang, sodat die vlakke in die dier hoog genoeg is vir die voerperiode. Aangesien meeste beeste vir periodes van oor die honderd dae tot 150 dae gevoer word, is dit belangrik dat inplantate met ‘n cholesteroldraer vir die periode gebruik word. Dit is ook belangrik dat klein diertjies nie inplantate met te hoë vlakke ontvang nie en dat sulke diere eerder eers ‘n inplantaat met laer vlakke ontvang totdat hulle gereed is vir die voerkraal en dan herinplanteer word.

Groeistimulante wat korrek gebruik word, is ‘n groot aanwins vir die boer en speel vandag ‘n baie belangrike rol in die winsgewendheid van die voer van diere.

 


Kommentaar

Kommentaar (2) “Groeistimulante en inplantate

  1. Riek Truter
    Riek Truter

    Zeromec groeistimulant stimulants kan een keer op verse gebruik word, kan dit ook eenkeer op bulkalwers wat laat loop word vir bulle gebruik word?

  2. Casper
    Casper

    Dis nou alles goed en wel vir die boer maar watter effek het dit op die verbruikers van die vleis?Want as jy sien hoe vinnig kinders “ryp” word en kanker onder kinders voorkom wat is die hormone se uitwerking en watter reguleering is daar op die tipe groei stimulante op kinders? Soos jyself noem”
    Maar soos by die mens word die produksie van die hormone in die dier vertraag tot na pubertiteit, sodat die dier eers groot en sterk kan groei terwyl hy onder sy moeder se sorg is en nie te gou rammetjie uitnek raak en moeilikheid optel met die groter diere nie. Deur stimulante in ‘n vroe? stadium van ‘n slagdier se lewe te inplanteer, kan so ‘n dier se groeitempo vroeër versnel word.” Ek oorweeg self om die hormone te gebruik op my beeste maar sal dit nie ten koste van ons kinders om groter wins maak nie


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X