Vra vir Faffa

Groeibevorderaars vir skape en bokke

Vraag

Ek wil graag weet wat die wette oor hormoonbehandeling in diere in Suid-Afrika is en dan spesifiek vir beeste en boerbokke? Ek weet daar is Ralgro vir skape, kan mens dit vir bokke gebruik? Wat sal die uitwerking wees op kapaters en ooitjies?

Antwoord

Daar bestaan geen “wette” vir hormoonbehandeling nie.  Die term, “groeibevorderaars” word gebruik vir die implantate wat by skape en beeste gebruik word om presies dit te doen wat die naam sê.  Groeibevorderaars se doel is om produksiekoste van ‘n skaap- of beesboerdery te verlaag deurdat swaarder lammers of kalwers gespeen  word en diere meer winsgewend afgerond en slaggereed gemaak word.

Daar is twee tipes implantate wat gebruik word nl. die wat Zeranol bevat en die tipes wat verskillende konsentrasies van manlike en vroulike hormone en/of hormoon-nabootsers bevat.  Die implantate wat Zeranol bevat, word Ralgro (G1082/Wet 36 van 1947) genoem en is geklassifiseer as ‘n plantaardige stof afkomstig  van ‘n gistingsproses en is ‘n nie-hormonale stimulant.  Die hormonale implantate is bedoel vir die voerkraalbedryf om daar ook groei te bevorder.

Ralgro-skaap word aanbeveel vir gebruik in skape, maar is nie geregistreer vir bokke nie, hoewel dit behoort te werk op bokke. Die middel kan dus alleen op aanbeveling van jou eie veearts voorgeskryf word!

Ralgro het min of meer dieselfde voordelige effek vir manlike en vroulike diere – dus kapaters en ooitjies.  Ralgro vir skape bevat 12mg Zeranol en kan vanaf 6 weke ingeplant word en weer na 30 dae herhaal word  vir lammers wat bestem is vir die voerkraal of uiteindelik geslag gaan word.  Dit word nie aanbeveel vir teeldiere nie !.

Zeranol (Ralgro)  stimuleer die hipofise wat groeihormoonafskeiding verhoog en tot gevolg het dat beengroei (raamwerk) en spiergroei verbeter en vetneerlegging verlaag.  Dit stimuleer ook insulienafskeiding deur die pankreas en verbeter eetlus en dwing meer suiker in die spiere in.  Dit  verhoog ook die insulien-groeihormoon wat spierweefsel-kerne vermeerder.  Verder het Zeranol ‘n kalmerende effek op die diere met gevolglik makliker aanpassing, minder stres en verbeterde immuniteit  deurdat die kortisolvlakke verlaag word.

Met ‘n beter voeromsetting en verhoogde uitslag-persentasie en verhoogde daaglikse toename in gewig lewer die implantaat dus goeie rendement op die belegging.  Dit is egter belangrik dat bestuur en voeding ook op standaard moet wees om die volle voordeel van die belegging in implantate te verkry.

Geskryf deur: dr. Eben du Preez, Voerkraalkonsultant (edupreez1@telkomsa.net)

27 Mei 2016


Aanhangsels

Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X