Vra vir Faffa

Gevriesde semen vir Angoras

Vraag

Is daar gevriesde semen beskikbaar vir inseminasie by Angoras?

Antwoord

Die sybokhaarbedryf maak goeie vordering met die gebruik van gevriesde semen om die gehalte van diere te verbeter.
Mnr. Ray Hobson, hoof van teelmateriaal by Sybokhaar Suid-Afrika, sê die projek is in 2007 begin. Die droogte wat die Oos-Kaap destyds getref het, het die toepassing van die projek vertraag, maar die eerste diere is in 2009 kunsmatig met gevriesde semen in pilvorm geïnsemineer.
“Ons sal dit graag ook in strooitjies wil voorsien, aangesien dit die proses kostedoeltreffender sal maak. Die projek is tans egter nog nie ver genoeg gevorder om dít te kan doen nie, dus moet ’n veearts nog die diere kunsmatig insemineer en dit is duur,” verduidelik Hobson.
Hobson sê van sy en mnr. Arthur Short, ’n boer van die distrik Jansenville, se ooie is in 2009 geïnsemineer met ’n sowat 60% suksessyfer.
“Tussen die twee van ons is 255 ooie geïnsemineer. Altesame 151 het dragtig geraak en 165 lammers is gebore.”
Die twee boere wag tans vir die tweede ronde se lammers om gebore te word. Dié slag is sowat 210 bokke geïnsemineer.
Hobson sê hulle het groot verwagtinge vir die lammers wat nou gebore moet word.
Volgens Hobson is die projek aanvanklik onderneem om die bedryf in staat te stel om die teelmateriaal van topdiere te behou. “Dit is in ’n mate ’n versekeringspolis.”
Hobson sê dit stel hulle nou ook in staat om top-teelmateriaal beskikbaar te stel aan almal wat daarin belang stel.

 
Geskryf deur: Alani Janeke, Landbouweekblad.
 
30 Augustus 2011
 

Hierdie artikel het in die Landbouweekblad van 26 Augustus 2011 verskyn


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X