Vra vir Faffa

Fotosensitiwiteit of liggevoeligheid in diere

Vraag

My skape is liggevoelig. Wat kan die oorsaak wees?

Antwoord

Fotosensitiwiteitsreaksies word volgens hulle oorsprong geklassifiseer  in vier tipes:

Primêre  fotosensitiwiteit

Die tipe fotosensitiwiteit kom voor wanneer fotodinamiese verbindinge nie nodig het om gemetaboliseer te word om geaktiveer te word nie. Die verbindinge kan onder die vel versamel direk na inname deur die dier. Voorbeelde is Johanneskruid, bokwiet en fenotiasien.

Fotosensitiwiteit veroorsaak deur pigmente

Hierdie tipe fotosensitiwiteit word veroorsaak deur aangebore foute in die metabolisme van sekere biologiese pigmente. In die afwesigheid van sekere sleutel metaboliese ensiemes versamel intermediêre metaboliese produkte. Hierdie produkte word uitgeskei in die uriene en liggaamsvloeistowwe of word neergeslaan in liggaamsweefsel soos bene en tande. ‘n Algemene toestand is aangebore porferie a.g.v. die aansameling van uroporfirien wat in tande en bene neergeslaan word en wat vir hulle ‘n pienk verkleuring gee, óf uitgeskei word in die uriene en wat pienk fluoriseer onder ultraviolet lig.

sekondêre fotosensitiwiteit

Hepatiese (lewer) fotosensitiwiteit, is die mees algemene fotosensitiwiteitsreaksie wat in diere gesien word. In hierdie tipe is die fotodinamiese verbinding filloeritrien, ‘n derivaat van klorofiel wat in die liggaam geproduseer word. Normaalweg word filloeritrien in die dermkanaal uitgeskei deur die galsisteem en daarna in die mis.  In sekondêre fotosensitiwiteit is daar beskadiging van die lewer en/of die galvervoersisteem wat die uitskeididing van filloeritrien verhoed. Hierdeur word die fotodinamiese verbinding in die bloedstroom opgeneem en versamel onder die vel. Die kondisie word vererger deur die teenwoordigheid van lewerslakwurms.

Ander tipes fotosensitiwiteit

Fotosensitiwiteit kom soms voor na die inname van seker plante soos sekere klawers o.a. Medicago polymorpha (burr clover), lusern (M. sativa) en Brassica soorte (rape, beeskool). Die werking van hoe dit gebeur is onbekend.

Stellenbosch se fotosensitiwiteit

Fotosensitiwiteit van onbekende oorsprong kom  in die lente en vroeë somer in die winterreënvalstreek voor. Op sekere plase kom dit elke jaar voor met tot 50% van skape wat aangetas word en vrektes van ongeveer 50%. Lammers wys liggevoeligheid binne 48 uur nadat hulle op giftige weiding geplaas word.

 

Hieronder word meer inligting gegee oor plante en swamme wat liggevoeligheid veroorsaak.

Primêre liggevoeligheid

Primêre liggevoeligheid kom voor a.g.v. die inname van agente wat liggevoeligheid veroorsaak.

Middels soos euflavine en tetrasikliene kan liggevoeligheid veroorsaak en alle produksiediere asook voëls kan vergiftig word.

Plante soos Hypericum perforatum  (St John’s wort, Johanneskruid, vlieëbossie) veroorsaak primêre liggevoeligheid wêreldwyd, maar is nog nooit as oorsaak in Suid-Afrika beskryf nie. Hierdie plante kom voor op ongeveer 20 000 hektaar in die Boland.  Liggevoeligheid is wel eksperimenteel veroorsaak deur H. aethiopicum en H. revolutum en  liggevoeligheid wat vermoedelik deur hierdie plante veroorsaak is, het wel voorgekom.

Ander plante wat primêre liggevoeligheid kan veroorsaak, is: Erodium moschatum (musk heron’s bill), Fagopyrum esculentum (bokwiet),.

Fotosensitiwiteit  word ook veroorsaak deur die Apiaceae bv. Ammi majus (lace flower) en is gesien  waar koeie se spene in aanraking kom met hierdie plante as hulle deur die veld stap. Waar volstruise hooi vreet wat hierdie plante bevat, het hulle ook liggevoelig geword.

Sekere plante ( Apiaceae, Rutaceae, Fabaceae, Moraceae en Orchidaceae) wat swaminfeksies opdoen, beskerm hulself deur furanokoumariene te produseer wat liggevoeligheid in diere veroorsaak. Hierdie is dalk die oorsaak van onverklaarbare liggevoeligheid wat soms in diere voorkom.

Die voorkoms van primêre liggevoeligheid in vergelyking met liggevoeligheid wat deur lewerbeskadiging veroorsaak word, is bykans weglaatbaar min. Kliniese tekens is baie dieselfde behalwe dat waar lewerbeskadiging voorkom en geelsug ontwikkel.

Sekondêre fotosensitiwiteit veroorsaak deur beskadiging van die lewerparenkiem

Die grootste groep van fotosensitiwiteit of liggevoeligheid siektes  behoort aan hierdie groep.

Die volgende plante kan liggevoeligheid veroorsaak:

Lantana camara (Verbenaceae) Lantana

Hierdie vergiftiging is heelwaarskynlik die tweede belangrikste lewervergiftiging van beeste in Suid-Afrika en word verantwoordelik gehou vir ongeveer  3%  van alle  produksiediervrektes  weens plant- en swamvergiftigings.  L. rugosa het ook vergiftiging van beeste in die Hoopstaddistrik veroorsaak.

Lippia rehmannii en L. pretoriensis , wat ook lid is van die Verbenaceae plantfamilie, het ook fotosensitiwiteit veroorsaak toe dit vir beeste en skape gedoseer is.

Onder natuurlike toestande kom vergiftiging veral voor in beeste, maar vergiftiging is ook al in bokke aangemeld nadat bokke wat nie die plante geken het nie,  in ‘n gebied waar die plante voorgekom het,  ingebring is.

Kliniese tekens wat gesien word, is: anoreksie, erge depressie, rumenstase, diarree, geelsug en liggevoeligheid.

Die gifstowwe is triterpene en word in die dermkanaal opgeneem en deur die poortaar na die lewer vervoer. Die stowwe word gemetaboliseer en in die gal uitgeskei wat weer die galbuise beskadig en in onbruik stel sodat gal nie uitgeskei kan word nie. Deurdat die rumen in stase gaan, hoop gifstowwe daar op.

Behandeling

Probeer diere so ver moontlik in die skadu hou bedags.

Behandeling berus daarop om hierdie gifstowwe se opname te verhoed deur 2,5 kg van geaktiveerde koolsof in 20 liter van ‘n elektrolietoplossing vir diere met ‘n maagbuis in te gee.

‘n Tweede dosis van elektroliete moet die volgende dag ingegee word. Indien geen verbetering gesien word na 4 of 5 dae nie, moet die behandeling herhaal word.

Indien nierbeskadiging plaasgevind het, is die uitkoms van behandeling swak.

Lasiospermum bipinnatum (Asteraceae) ganskweek

Die belangrikste kliniese tekens wat gewoonlik  binne 3 dae nadat diere in ‘n giftige kamp wei, gesien word,  is: geelsug, variërende liggevoeligheid, anoreksie, depressie, rumenstase, konstipasie, koliek en kners van tande en ‘n hoë temperatuur (41°C) mag voorkom.

Athanasia minuta (Asteraceae) vuursiektebossie

Hierdie plant kom voor in die westelike berg Karoo en strek tot in die sentrale droë Karoo. Ahoewel dit in die droë dele voorkom, groei die plant altyd naby water soos damme, panne, vleie en riviere.

Hierdie plant veroorsaak gewoonlik perakute vrektes en soms liggevoeligheid in skape.

Athanasia trifurcata (Asteraceae) Klaaslouwbos

Hierdie onsmaaklike plant kom algemeen op sanderige veld in die Westelike Provinsie voor. Skape kan vrek en ander liggevoeligheid ontwikkel as diere in ‘n kamp kom waar baie van hierdie plante voorkom en hulle daarvan vreet.

Nidorella foetida (Asteraceae)

Die plant groei in die Kus Renosterveld en Weskus Strandveld van die Wes-Kaap veral in nat plekke.

Sianobakterieë (Blougroen alge)

Hierdie bakterieë produseer senuwee- en lewergifstowwe. In Suid-Afrika is nog slegs lewervergiftiging beskryf. Die genera wat in Suid-Afrika vergiftiging veroorsaak, is: Microcystis aeruginosa en moontlik Nodularia spumigena.

Microcystis aeruginosa

Op ‘n kalm, warm, mooi dag styg die alge na die oppervlakte van die water om ‘n blaarslaai-groen skuim te vorm wat deur die wind na die oewer van damme en panne gewaai word. Hier kan die massa alge vrek wat dan die blou tot pers chromoproteïen, fikosianien,  vrystel.  Die stank wat deur die ontbinde alge vrygestel word, kan afstootlik wees.

M. aeruginosa kom wydverspreid in Suid-Afrika voor en vrektes in diere kom hoofsaaklik voor in Mpumalanga, Gauteng en die Noord-Vrystaat.

Gifstof word in die water vrygestel as die sianobakterieë afsterf of disintegreer. Dit kan gebeur na kopersulfaatbehandeling of in die rumen of maag na inname deur die dier. Die gifstof breek maklik af in water maar konvensionele watersuiwering mag nie die vergifte water  geheel en al ontgif nie.

Nie alle stamme van M. aeruginosa is giftig nie. Giftigheid hang af van die konsentrasie van alge in die water. Lae temperature laat die alge sink.

Perde, beeste, skape, honde, kalkoene, eende en visse is al vergiftig deur alge in Suid-Afrika maar herkouers is die spesie wat oor die algemeen geaffekteer word.

Alge was steeds giftig na storing vir ongeveer 10 jaar by ‘n temperatuur van 4°C. Wanneer skape daarmee gedoseer is teen ‘n dosis van 2 gram per kg, het vrektes binne 24 uur voorgekom. Teen 0,5 g/kg vir 3 agtereenvolgende dae het liggevoeligheid voorgekom.

Kliniese tekens tydens akute vergiftiging is verlamming en konvulsies. Minder akute vergiftiging het tekens van konstipasie (harde mis met bloed daarom), swakheid, val in melkproduksie en liggevoeligheid getoon. Geelsug, swak eetlus en rumenstase het ook voorgekom.

Ander sianobakterieë,  wat ook al vergiftigings veroorsaak het, is: Anabaena, Oscillatoria en Merismopedia.

Beheer van alge wat algemeen gebruik word, is 1 tot 2 dele per miljoen kopersulfaat in die water.

Phomopsis leptostromiformis (Fungi: Coelomycetes)

Hierdie swam is ‘n fitopatogeen van sekere Lupinus spp. wat saprofities kan groei op dooie plantreste. Op die lewende plant vorm die swam geel tot bruin ingesonke letsels wat swart piknidia bevat. Besmette sade is bruin en grof.

Die swam veroorsaak lupinose, ‘n lewergifstof wat veral vergiftiging in skape en  beeste en soms in perde en varke veroorsaak. In ‘n geval van vergiftiging in die Hermondistrik het 530 ooie  gevrek a.g.v. lupinose op wit lupiene.

Kliniese tekens is: anoreksie, lusteloosheid, swakheid, rumenstase, konstipasie en geelsug wat somtyds met liggevoeligheid gepaard gaan. Verlies aan produksie mag ook voorkom deurdat die ovulasietempo  onderdruk word en minder ooie dragtig word.

Lupinus angustifolius is meer weerstandig vir die swaminfeksie as L.albus of L. luteus, maar hierdie weerstand breek af as die plant ouer word en saprofitiese groei van die swam dieselfde is vir alle spesies. L. mutabilis bied die meeste weerstand teen die swam asook teen saprofitiese groei.

Fotosensitiwiteit a.g.v . beskadiging van die  galsisteem

Nie baie liggevoeligheidsiektes behoort tot hierdie groep nie, maar hulle is van groot ekonomiese belang.

Pithomyces chartarum (Fungi: Hyphomycetes)

Gesigekseem is een van die belangrikste liggevoeligheidsiektes van produksiediere in die wêreld. Die vergiftiging vind plaas wanneer plante (gewoonlik Lolium perenne) besmet is deur sporidesmin-bevattende konidia van P. chartarum.  In Suid-Afrika kom gesigekseem sporadies voor.

Die fungus kom in ‘n wye gebied in die land voor: In die koel, relatief vogtige  kusstroke, in die warm, semi-ariede Karoo en in die warm grasvelde van die Hoëveld. Die swam kom voor op raaigras/klawerweidings en groen koringlande.

P. chartarum leef saprofities op dooie plantmateriaal op lande en gedurende gunstige omstandighede word baie konidia geproduseer. Hierdie konidia bevat die lewertoksien sporidesmin. Die giftige konidia word deur wind versprei vanaf die dooie plantmateriaal na die omliggende raaigras/klawerweidings waar hulle aan die blare vaskleef. As genoegsame besmette blare deur diere ingeneem word, sal gesigekseem ontstaan. Beide giftige en nie-giftige stamme van P. chartarum kom voor.

Die galbuise, galblaas, lewer , niere en blaas word aangetas. Daar is ‘n latente periode  van 9 tot 24 dae nadat sporodesmin ingeneem is,  voordat liggevoeligheid intree.

Beheer van gesigekseem berus op die vermyding van gevaarlike weiding, swamdoders wat gebruik word op weidings en die teel van weerstandige diere.

In Nieu-Seeland word sinksoute (oraal, in drinkwater of as stadige vrystellingkapsules)  gebruik as profilakse.

Min is bekend oor die beheer van gesigekseem in Suid-Afrika.

Tribulus terrestris (Devil’s thorn, dubbeltjie)

Tribulus terrestris is die oorsaak van liggevoeligheid in skape en bokke,  wat veroorsaak word deur verstopping in die galbuise in die lewer met gevolglike belemmering van galvloei. Saam met Panicum fotosensitiwiteit (dikoor) is hierdie vergiftigings die oorsaak van vrektes van ongeveer 75 000  kleinvee in Suid-Afrika alleenlik. Geeldikkop word beskou as die belangrikste plantvergiftiging van kleinvee op die subkontinent.

Wêreldwyd is daar ander plante wat hierdie tipe vergiftiging veroorsaak, naamlik Panicum spp., Brachiaria decumbens, Narthecium ossifragum, Agave lechuguilla en Nolina texana.

Dubbeltjies kom landwyd voor, maar word veral bewei in die Karoo en is veral algemeen in oorbeweide veld.

Uitbreke van geeldikkop gebeur tipies as jong dubbeltjies verlep is gedurende warm weer na somerreëns. In raar gevalle mag ander groeistadiums ook giftig wees. Lammers is meer vatbaar vir geeldikkop.

Kliniese tekens is tipies die van lewergeassosieerde liggevoeligheid.  Die latente periode voordat liggevoeligheid intree, kan so kort as 2 tot 5 dae wees.

Die lewer is kaki tot geelbruin gekleur. Kristalagtige materiaal word in die galbuise neergeslaan en blokkeer hierdie buise. Die materiaal word ook in die galblaas en niere gevind.

Die volgende antwoord oor Geeldikkop het reeds op Vra vir Faffa verskyn:

Skape toon kenmerkende tekens van geelsug en ‘n kop wat geswel is. Die oorsaak is dubbeltjies (Tribulus terrestris) wat wydverspreid in Suider-Afrika voorkom. Veral as veld uitgetrap of versteur is, groei dit welig. Kyk veral by krale, suipings, hekke en dongas. Dubbeltjies kom voor in vrugbare spoelgrond en saad versprei met reënwater. Partykeer as weersomstandighede gunstig is, kom hulle selfs op goeie weiding voor.

Alle skaap- en bokrasse is vatbaar. Skape met swart koppe toon nie geswelde koppe nie maar die wit dele is aangetas.

As genoeg reën geval het, groei die duwweltjies vinnig en as dit daarna vir ‘n tydperk warm en droog is, verlep die plante. Ná 2 tot 6 weke kan die duwweltjies giftig wees. Diere is baie lief vir dié plant. Partykeer groei daar ‘n swam op die plante wat hulle nog meer giftig maak. Wat verwarrend is, is dat nie alle verlepte plante giftig is nie, asook dat alle plante wat groen is, nie veilig is nie. Plante wat giftig is, bly giftig totdat hulle heeltemaal verdroog of ná reën weer groen word. As dit weer verlep, word dit weer giftig!

Die rede waarom diere siek word, is dat die duwweltjies se gifstof die galbuise van die lewer verstop wat tot geelsug lei en wat weer tot liggevoeligheid lei.

Kliniese tekens:
Vandat die skape of bokke die giftige plante gevreet het, neem dit vanaf 2 dae tot 3 weke voordat diere siek word. Gewoonlik verwissel ‘n boer kampe en dan volg ‘n uitbreking daarna.

Die skape is liggevoelig — hulle soek skaduwee op, druk hulle koppe onder mekaar in, hulle jeuk en krap hulle koppe. Die vel word rooi en dan swel die kop en ore op.

Geelsug ontwikkel — kyk na die oogkleur en mondslymvliese. Skape hou op vreet en kan moeilik asemhaal. Diere is hardlywig. As diere herstel, kan die vel hard word en afdop. Van die diere kan selfs hulle lippe en ore verloor en die kloutjies kan selfs afval.

As ‘n skaap geslag word, is die karkas geel en lewer geel en bros en die derminhoud is hard.

Behandeling:
Bring diere na skaduwee vir 2 weke of selfs langer (skure, bome). Hou weg van duwweltjies en gee sagte kos en water. Water (1-3 liter) kan selfs met ‘n maagbuis ingegee word en 50-100g suiker kan elke tweede dag in die water opgelos word. Droë vel kan ingesmeer word met wondsalf of Carron-olie (gelyke hoeveelhede kalkwater en roulyn-olie). Waardevolle diere kan met antibiotika behandel word. Raadpleeg u plaaslike veearts vir addisionele behandeling.

Voorkoming:
Pas goeie weidingsbestuur toe. Skuif diere na rantjiesveld wanneer toestande vir duwweltjies gunstig is. Verskaf genoegsame skaduwee — diere wat al reeds giftige duwweltjies ingeneem het, mag dan selfs geen tekens wys nie.

Sommig boere bewei duwweltjies — voordat hulle verlep — met ‘n groot aantal skape. Ondersoek skape daagliks vir die eerste tekens van geeldikkop en verskuif hulle dan. Daar is tot op hede geen entstof of middels beskikbaar nie.

Lees ook ander antwoorde oor geeldikkop op Vra vir Faffa.

Panicum spp. (Poaceae)

Uitbreke van fotosensitiwiteit kom sporadies voor in skape wat wei op Panicum spp. en dan veral P.  coloratum (kleinbuffelgras) in die somer. Hierdie gras groei welig in die Hoëveld van die Vrystaat, Gauteng, Mpumalanga en KwaZulu-Natal veral waar die grond versteur is deur bewerking.

Die siekte wat hierdie grasse veroorsaak, word “dikoor” genoem en die kliniese tekens is dieselfde as die van geeldikkop.

Panicumgras word giftig onder sekere toestande bv. as die gras verlep onder warmtoestande na somerreëns.  Hierdie toestand kom in skape voor en is nog nie in beeste beskryf nie. Soos in geeldikkop kom kristalagtige materiaal in die gal voor.

Algemeen

Dit is nie moontlik om ‘n diagnose te maak deur net na die kliniese tekens te kyk nie. Daar moet ‘n deeglike studie gemaak word van die verspreiding van plante en swamme wat moontlik liggevoeligheid kan veroorsaak in die omgewing waar gevalle van liggevoeligheid voorkom.

Die geswolle gesigte wat dikwels voorkom, kan verwar word met bloutong, dikkop sponssiekte en inwendige parasietinfestasies. Velletsels kan verwar word met sweetsiekte, kroniese olifantsvelsiekte en swaminfeksies van die vel.

Behandeling: Verwyder diere so gou moontlik uit die kampe waar vergiftiging plaasvind. Plaas diere in die skaduwee en voorsien hulle van sagte kos. Raadpleeg u veearts wat u van geskeduleerde middels kan voorsien om simptome te verlig.

Identifisering van plante

Om te sien hoe die plante lyk, besoek  Google Images en tik die wetenskaplike name in die soekblokkie in.

Bronne:

Kellerman, T.s., Coetzer, J.A.W., Naude, T.W. and Botha, C.J.2005. Plant Poisonings and Mycotoxicosis of Livestock in Southern Africa. Oxford University Press.

Steyn, D.G. 1949. Vergiftiging van mens en dier. .L. Van Schaik, Bpk. Pretoria.

http://en.wikipedia.org/wiki/Photosensitivity_in_animals as at 13 April 2014

Saamgestel deur: dr. Faffa Malan, veeartskonsultant (dokfaffa@nashuaisp.co.za) en prof. Christo Botha, Fakulteit Veeartsenykunde, Universiteit van Pretoria (christo.botha@up.ac.za)

13 April 2014


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X