Vra vir Faffa

Estrussiklusse in ooie en bokke

Vraag

Ek KI tans al my kleinvee wat bestaan uit geelbek merinos en boerbokke. Ek weet dat die 1ste siklus ooie ongeveer 150 dae na konsepsie gaan begin lam, en dat die merino ooie se siklus 17 dae en die boerbokke se siklus 20 dae is. Ek wil graag meer te wete kom van die 2de siklus en die 3de siklus, sal ooie wat met die siklusse gevat het ook nog akkuraat gesinkroniseer wees om almal in ‘n week te lam, en sal die aantal dae in die siklus nog die selfde bly?

Antwoord

In die geval van reproduksie by kleinvee, kan mens nooit altyd op presiese teoretiese terme werk nie.  Wat in die teorie bestaan, is nie noodwendig altyd wat in die natuur gebeur nie.  Ek glo my antwoord sal jou vraag beantwoord, maar onthou dat daar uitsonderings kan wees.

Ek gaan my antwoord van toepassing maak op skape.  Dieselfde riglyne geld vir bokooie, behalwe soos jy tereg noem dat bokke se siklusse langer is – 19 tot 20 dae.

Ooie wat beset raak van KI, se lamtyd wissel gewoonlik tussen 145 en 155 dae na KI met die piek lamdatum op dag 149, 150 en 151.

Opvolgramme word by ooie geplaas op dag 14 na KI.  Die meeste ooie wat nie beset is nie, behoort weer op hitte te kom op dag 16, 17 en 18, na KI.  Maar weer eens moet jy werk op ten minste ‘n week, m.a.w. vanaf dag 14 tot dag 21 na KI.  Hierdie spesifieke groep ooie kan dan in bietjie meer as ‘n week lam, aangesien enkele ooie op dag 14 of 15 gedek kan word en enkeles weer op dag 20 en 21.

Daar is altyd ‘n klein persentasie ooie wat nie op die 1e siklus na KI weer op hitte kom nie, maar eers op die 2de siklus na KI.  Dit is dus goeie praktyk om die opvolgramme vir ‘n maand by die ooie te laat.  Sodoende kry elke ooi dus drie lam kanse:  KI + 1e siklus + 2e siklus.  Goeie rekordhouding is hier baie belangrik want ooie wat dan nie beset is nie, moet van ontslae geraak word, tensy daar ‘n ooglopende rede is waarom sy nie beset is nie.  Onthou ‘n onproduktiewe ooi, vreet net soveel as ‘n produktiewe ooi.

Ooie se siklusse bly dus deurgaans ongeveer dieselfde as onder normale omstandighede.  Maar omdat gesinchroniseerde hitte ‘n “kunsmatige” proses is, mag daar skommelings wees.  Dit sal egter nie uitermate verskil nie.

Die gereelde sinchronisasie van ooie kan ook geen negatiewe uitwerking hê op die vrugbaarheid van ooie nie.

Geskryf deur: Hendriette Stafford, Ramsem (hendriette@ramsem.com)

14 Desember 2013


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X