Vra vir Faffa

Ergotvergiftiging

Vraag

Weens die droogte is ek genoodsaak om beeste, koeie en kalwers te verskuif vanaf Klerksdorp na Lüneburg. Daar is nou van die kalwers, 20 van die 36, waarvan die punte van die sterte afval. Aanvanklik vorm daar ‘n ring sowat 5 cm vanaf die punt van die stert, die hare begin afval en dan verdroog daardie deel van die stert. Die diere loop op natuurlike veld en dit gebeur nie by die koeie nie. Hierdie is stoetdiere en dit sal implikasies hê op die verkoop van die geregistreerde diere.Kan u vir my meer inligting gee asseblief wat betref die oorsaak en natuurlik die voorkoming en behandeling?

Antwoord

Ergot alkaloïedvergiftiging word gekenmerk deur die vernouing van bloedvate wat tekens van droë gangreen van die ekstremiteite of verhoogde liggaamstemperatuur (somersindroom) tot gevolg het.  Ergot of ergotswamme verwys na ‘n groep swamme of fungi van die genus Claviceps (https://en.wikipedia.org/wiki/Ergot) . In die lewensiklus van die swamme word sklerotia  (https://en.wikipedia.org/wiki/Sclerotium) gevorm. C . purpurea en C. cyperi asook die endofitiese swam Neotyphodium coenophialum (kom tussen plantselle van Fescue of swenkgras voor) vervaardig alkaloïede wat vergiftiging veroorsaak.  C.purpurea is ‘n parasitiese swam van verskeie grasse en  graansoorte en C. cyperi ‘n swam van uintjies . Die swam verplaas die sade van die gasheerplant met  giftige sklerotia of ergotte.

http://repository.up.ac.za/handle/2263/8523

https://www.google.co.za/search?hl=en&site=imghp&tbm=isch&source=hp&biw=1133&bih=508&q=ergotism+in+animals&oq=ergotism&gs_l=img.1.6.0l10.2317.6653.0.10145.8.7.0.1.1.0.268.1625.2-7.7.0….0…1ac.1.64.img..0.8.1632.WTduPSwoE4o

Kliniese tekens

Die ergot alkaloïedgif veroorsaak periferele vernouing (vasokonstriksie) van die bloedvate wat suurstoftekort aan weefsels tot gevolg het en tot gangreen lei. Die pituïtêre klier word ook aangetas wat tot gevolg het dat prolaktienvlakke daal met gevolglike daling in melkproduksie.

In die somer kan diere nie van hitte ontslae raak nie weens die vernouing van bloedvaatjies in die vel (somersindroom).  Diere haal deur hulle bekke asem, tong steek uit, soek skaduwee op en hulle loop  soms in damme in. In koeler weer is hierdie tekens nie so uitgesproke nie.

Met erge vergiftiging en veral in die winter (veral in kalwers) word gangreneuse nekrose (weefsels sterf af) van die ekstremiteite (ore, stert, kloue en selfs die onderste deel van ledemate) gesien.

In suiwelkoeie is daar ‘n groot val in melkproduksie weens verminderde voedselinname asook verminderde  prolaktienafskeiding.

Konsepsiesyfers is swak en die swart haarkleed in die winter het ‘n rooi skynsel.

Mortaliteit is raar en as die bron van vergiftiging verwyder word, mag dit weke duur voordat die liggaamstemperatuur normaliseer en melkproduksie styg.

Groot uitbreke kom gedurende die somer en herfs in die Wes-Kaap op eenjarige raaigras voor. Uitbreke is ook aangeteken in Mpumalanga hoëveld (Greylingstad) en tussen Memel en Newcastle.

Besmette uintjies watergras (Cyperus spp.) in mieliekuilvoer of tef hooi het ook ergotvergiftiging veroorsaak.

Dit blyk dat hierdie toestand wydverspreid in Suid-Afrika voorkom.

Behandeling

Diere met hoë temperatuur moet onderdak of in  koelte gehou word en verder afgekoel word.

Waar gangreneuse nekrose van weefsel voorkom, moet jou veearts gekonsulteer word sodat die regte behandeling toegepas kan word.

Beheer en voorkoming

As kliniese tekens waargeneem word, moet onmiddellik na ‘n ergotvrye dieet oorgeskakel word.

http://www.merckvetmanual.com/mvm/toxicology/mycotoxicoses/ergotism.html

Bestuur potensiële gevaarlike weiding op so ‘n wyse dat diere die weidings bewei voordat sade gevorm word.

Bronne: Kellerman, T.S., Coetzer, J.A.W., Naude, T.W. and Botha, C.J. 2005. Plant Poisonings and Mycotoxicosis of Livestock in Southern Africa. Oxford University Press.

Verskeie webbladsye: Merck Vet Manual, Wikipedia, Universiteit van Pretoria en Google images soos op  5 April 2016.

Saamgestel deur: dr. Faffa Malan, Veeartskonsultant (dokfaffa@nashuaisp.co.za) en prof. Christo Botha, Toksikoloog, Fakulteit Veeartsenykunde, Universiteit van Pretoria.

5 April 2016

 


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X