Vra vir Faffa

Episoötiese hemoragiese siekte in beeste en skape

Vraag

In die Kathu-omgewing het ‘n siekte voorgekom wat net soos bloutong lyk. Die siekte is bevestig as Episoötiese hemoragiese siekte. Ek soek meer inligting oor die siekte.

Antwoord

‘n Seldsame virussiekte, episoötiese hemoragiese siekte,   is in die Kathu-omgewing gesien. Die siekte is ook bekend as Epizoötic Haemorrhagic Disease (EHD) of Deer. Die siekte is die eerste keer in 1955 in Noord-Amerika beskryf waar dit veral in die “white- tailed deer “ voorgekom het.

EHDV (episoötiese hemoragiese siekte virus) is ook ‘n orbi-virus , net soos die bloutong- en Afrika Perdesiektevirus.

Klein bietjie geskiedenis: In die begin van 1998 het beeste in die Molopogebied van Vryburg begin mank word. Gewoonlik het die een agterbeen gesleep en as die beeste nie dadelik met  ‘n anti-inflammatoriese middel (destyds fenielbutason 20% inspuiting) behandel is nie, het hulle drie dae later gevrek.

Simptome wat ons kon identifiseer, was:

  1. Koorsreaksie, rektale temp. >41°C
  2. Mankheid (as gevolg van ‘n laminitis), geen gewrigte was aangetas nie. Al vier kloue baie warmer as die been, handbreedte bokant die klou.
  3. Stomatitis (inflammasie in die bekslymvlies)
  4. Tydelike rumenstase, rumen kom weer aan die gang sonder enige rumenstimulante. Rumen pH is 6-7 wat normaal is.
  5. In sommige gevalle het ons senuweesimptome gekry soos ataksie en disoriëntasie, “stargazing”, beeste wat dan val en konvulsies kry as hulle gejaag word.
  6. Edeem van die vel veral by Brahman- en Simbraverse teen die nekvel gesien (druk duikies in soos duimdruk in deeg)

Die simptome het ons toegeskryf aan ‘n vaskulitis (inflammasie van die bloedvatwande), later ook op histopatologie bevestig

Op post mortem het ons baie erge petechia (klein bloedinkies), asook groter bloedings (eggimose)  in die hele lugpyp mukosa gekry (vaskulitisontsteking van die bloedvate), sowel as bloedings by die basis van die pulmonêre arterie (orbi virus patognomoniese (siekteaanwysende) letsel), longedeem en kongestie was ook teenwoordig. EHDV isolasie is ook uit een vars post mortem geїsoleer. Die enigste geval wat ons verkoel op ys op OVI kon kry.

Muggies was tydens die uitbreek deur Rudi Meiswinkel met muggie “traps” gevang en EHDV is ook uit die muggies geisoleer.

Hierdie simptome het ons ook by enkele kleinvee gesien.

Ons het uitgewerk die morbiditeit is so rondom 10% en die mortaliteit van onbehandelde kliniese  gevalle >90%.

Vroeër in die jaar het ons in Kathu gevalle gehad van skaapeienaars wat bloutong by skape aanmeld. Die meeste gevalle wat ingebring was vir ondersoek het egter nie bloutong gehad nie, maar wel EHD.  ‘n Paar jaar gelede, as ek reg kan onthou so rondom 2010, het ons in Kathu bogemiddelde reën gehad. Daardie seisoen het ons ook ‘n paar EHD gevalle by boerbokke gesien.

Klagtes hierdie jaar  was, skape raak mank, lippe lyk geswel en bek is dik.

Simptome gesien:

  1. Hoë koorsreaksie >41.5°C
  2. Stomatitis (ontsteking van die bekslymvlies), mondslymvlies lyk vuil, vaalrooi kleur (geen letsels op die tandkussing nie)
  3. Rumenstase
  4. Laminitis met kloue baie warmer as die been ‘n handbreedte bokant die hoef (geen koronitis/ blou, rooi verkleuring van die kroonrand nie)
  5. In sommige gevalle kan edeem (waterige swelsel) van die vel teen die nek en lieste gevoel word.

Hierdie gevalle het ons net met NSAID’s (nie-steriodale anti-inflammatoriese middels) behandel en hulle het almal herstel. Kuddes van oorpsrong is met piretroїede) gespuit (firefighter) om muggieoordraging te beheer.

Die enkele bloutong gevalle wat ek gesien het hierdie jaar het almal duidelike stomatitis met letsels op die tandkussing gehad en ook ‘n duidelike koronitis.

Aangesien daar nie ‘n entstof teen EHD is nie moet diere na hoogliggende gebiede verskuif word en muggiebeheer toegepas word.

Prente van EHD in takbokke

https://www.google.co.za/search?hl=af&tbm=isch&source=hp&biw=1366&bih=648&q=Epizootic+haemmorhagic+disease+in+deer&oq=Epizootic+haemmorhagic+disease+in+deer&gs_l=img.12…4937.22810.0.25377.0.0.0.0.0.0.0.0..0.0….0…1.1.64.img..0.0.0….0.pq0hfQvcjL0

Prente van EHD in beeste

https://www.google.co.za/search?hl=af&biw=1366&bih=648&tbm=isch&sa=1&q=Epizootic+haemmorhagic+disease+in+cattle&oq=Epizootic+haemmorhagic+disease+in+cattle&gs_l=psy-ab.12…104039.108253.0.110995.0.0.0.0.0.0.0.0..0.0….0…1.1.64.psy-ab..0.0.0….0.7Mz9R2iz3q4

Geskryf deur: Dr. Jan Vorster, Privaatveearts, Kathu (toska@kingsley.co.za)

26 September 2017

 


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X