Vra vir Faffa

Eperitrosoönose in skape

Vraag

Eperitrosoönose is onlangs gediagnoseer in skape in die Karoo. Kan daar asb. meer inligting oor die siekte verskaf word.

Antwoord

Eperitrosoönose is ‘n siekte in skape en bokke wat veroorsaak word deur die bakterie Mycoplasma ovis (voorheen bekend as Eperythrozoon ovis). Hierdie siekte veroorsaak dat diere swak groei en die siekte kan selfs vrektes in meer vatbare diere veroorsaak. In Australië is aangeteken dat tot 30% van ‘n lammeroes gevrek het. Slagplase mag besmette karkasse afkeur weens geelsug.

Soortgelyke bakterieë kom ook voor in beeste en varke.

Siektetekens in skape

Siektetekens sluit die volgende in:

  • swak groei
  • bloedarmoede (anemies – wit slymvliese).
  • geelsug (geel slymvliese)
  • donker urine
  • vrektes (veral na diere gestres word soos bv. wanneer hulle aangejaag of vervoer word) 

Die Mycoplasma ovis bakterieë besmet die rooibloedselle van die diere en die milt probeer om die infeksie te verwyder deur die besmette rooibloedselle te vernietig. Dit is hierdie oormatige vernietiging van die rooibloedselle wat tot bloedarmoede, geelsug en vrektes lei. Siekteuitbreke kan vir 14 tot 28 dae duur.

Dit is belangrik om die korrekte diagnose van die siekte te maak want om stres op anemiese diere te plaas soos bv. vervoer en aanjaag kan tot vrektes lei. Ander oorsake van swak groei, bloedarmoede en vrektes soos wat bv. met haarwurmbesmetting, koper of vitamien B12 tekorte voorkom, moet uitgeskakel word.

Vatbaarheid van diere

Nie alle diere wat besmet word, sal siektetekens wys nie. Die immuunsisteem van sommige skape sal die infeksie effektief beveg en die kieme uit die bloedstroom verwyder. Ander diere se immuunsisteem sal die kieme nie totaal verwyder nie, maar hulle op so ‘n lae vlak hou dat diere nie siek word nie. Sulke diere kan lewenslank besmet bly. Hierdie diere kan terugval en kliniese siekte ontwikkel as hulle gestres word of kan herhaalde bloedarmoede elke 2 tot 4 maande ontwikkel. Sulke draerdiere dien dan as bron van infeksie vir ander skape. ‘n Reservoir van infeksie word heelwaarskynlik behou in teelooie.

Uitbreke van die siekte kan wissel in graad en word beїnvloed deur die stam van M. ovis  wat voorkom en die gesondheidtoestand van die skape.

Die siekte is gewoonlik strawwer in:

  • jong skape
  • skape wat nie voorheen blootgestel is aan die infeksie nie
  • skape met ander siektes (bv. inwendige parasiete, ondervoedig)
  • dragtige ooie. 

Hoe word eperitrosoönose versprei?

Die siekte word versprei deur die oordraging van besmette rooibloedselle van die een dier na die ander. Uitbreke kan 4 tot 6 weke voorkom nadat diere se sterte afgesit en gekastreer is, oorplaatjies ingesit is of met dieselfde naald ingeënt word. Die siekte kan ook deur bloedsuiende vlieë, muggies en muskiete oorgedra word. Dit is moontlik dat vlieë wat op wonde voed ook die bakterie kan oordra. Ander ektoparasiete mag dalk ook ‘n rol in oordraging speel.

Hoe algemeen is die siekte?

Die meerderheid skape ontwikkel geen sigbare kliniese tekens van die siekte nie. Dit is moontlik om besmette skape op jou plaas te hê sonder dat jy daarvan weet.

In Australië waar opnames gedoen is, is bv. die volgende gevind:

  • Ongeveer 5% van speenlammers in Wes-Australië mag met M. ovis besmet wees.
  • Die besmetting kan op 50% van plase teenwoordig wees.
  • Sekere areas kan meer besmet as ander wees. 

Uitbreke het meer in die lente voorgekom.

Daar word vermoed dat hierdie siekte ook ‘n rol kan speel waar lammers in die Oos-Kaap swak groei. Waar hierdie toestand voorgekom het, word die siekte bleeksiekte genome.

Diagnose van M.ovis

Die siekte kan serologies gediagnoseer word deur serologiese toetse in die labarotorium en/of die identifisering van die bakterie in ‘n dik bloedsmeer. Dit is soms moeilik om die bakterieë in ‘n bloedsmeer te vind want waar kliniese tekens in die dier gesien word, is die geaffekteerde rooibloedselle klaar verwyder uit die bloed. Dit is dus belangrik om smere vroeg in die verloop van die siekte te neem. Neem monsters van 10 sigbaar aangetaste en 10 normale diere.

Behandeling

Behandeling van die siekte berus daarop om diere nie te laat stres nie. Plaas diere in ‘n kamp met genoeg goeie kos en water en los hulle vir 4 tot 6 weke. Skape behoort vanself te herstel na hierdie periode. Uitbreke mag duur vir ‘n paar weke. Tradisioneel is behandeling met antibiotika as onsuksesvol beskou omdat herbesmetting plaasvind en die geleentheid vir skape om immuniteit te ontwikkel verlore gaan.

Daar is huidig nuwe antibiotika op die mark wat teen mikoplasmas werk, bespreek moontlike behandeling met jou veearts. 

Voorkoming

Vermy stres vir 4 tot 6 weke nadat diere gemerk is (waar bloeding in diere plaasgevind het).

Plaaslike mededelings:

Prof. Gareth Bath: Hierdie gesien in KZN by die Cato Ridge Abattoir. Lamkarkasse afgekeur weens ligte geelsug, andersins normaal. Kan nie onthou waar die lammers vandaan gekom het nie, vermoedelik Natal. Nuttig is om smere van die milt te maak selfs as die karkas uitgebloei is. Het ook die toestand in Middelburg, Oos-Kaap gesien. Dink ook  Glenn Burroughs het die kondisie as een van die oorsake van swak groei in die Port Elizabeth area geblameer.

Dr. Jaco Pienaar, Beaufort-Wes: Ek glo dis die probleem wat ek by Britstown het.

Chroniese vermaering van merino ooie. Lae persentasie – 2%.

Verskillende ouderdomme. Oor lang tydperk.

Geen reaksie op enige behandeling nie.

Klinies – erge anemie, verder slegs maer.

Post mortem – totaal negatief. (gedink aan Johne se siekte, haarwurm, bankrotwurms, absesse, ens)

Bloedsmeer het ons organismes soos Epiritrosoon ekstra sellulêr gesien.

Dubbel stel monsters is gestuur na Pathcare en Stellenbosch. Wag vir uitslae.

Gedink aan swak groei (Ill Thrift) – kombinasie met Kobalt?

Dr. Roland Larson, Graaff-Reinet: Enkele gevalle al gesien. Veral waar (jong) skaap gekraal word. Samedromming.

Veral geelsug, “ill-thrift”/swak groei.

Bloedsmere kan verwarrend wees.

Moontlik meer algemeen as wat ons dink…?

Onlangs Alpacas gesien met al die simptome. Bloedsmere gemaak. Nie seker of dit wel die geval was nie. (Amper gelyk soos Anaplasmose). Aangeneem dit is Epiritrosoon. Behandel. Goeie herstel, maar groei definitief benadeel.

Bronne:

https://www.agric.wa.gov.au/livestock-biosecurity/eperythrozoonosis-e-ovis-sheep

Coetzer, J.A.W. and Tustin, R.C. 2004. Infectious diseases of livestock. Oxford University Press.    ISBN 0 19 578202 X

27 Mei 2016


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X