Vra vir Faffa

Entstowwe teen aborsies, blou-uier by bokke

Vraag

Watter entstof kan gebruik word om te keer dat ooie aborteer?

Antwoord

Vraag:
Ek wil graag weet watter entstof kan gebruik word om dooie lammers te voorkom? Wat kan gebruik word om blou-uier te voorkom? – Zurial (zalcock@meatco.com.na)

Antwoord:
Dit is baie belangrik dat u met u veearts gesels oor watter siektes in u area voorkom wat aborsies kan veroorsaak. Dit is ook aan te beveel dat as aborsies voorkom, die nodige monsters na ‘n veeartsenykundige labarotorium gestuur word om die veroorsakende organisme te isoleer.

Daar het al ‘n paar artikels op hierdie webwerf verskyn oor siektes wat aborsies veroorsaak en ek sal aanbeveel dat u dit lees.

Ensoötiese aborsie:
Hierdie siekte kom wydverspreid voor en ek beveel aan dat jong ooitjies ten minste 4 weke voordat hulle na die ram gaan, ingeënt word (Ovilis Enzovax, G2758) Hierdie is ‘n lewende entstof en dragtige diere mag nie ingeënt word nie. Daar is ook ‘n dooie entstof beskikbaar wat vir dragtige diere gegee kan word. Daar moet kennis geneem word dat meeste entstowwe slegs vir skape geregistreer is en dit sal daarom goed wees dat u eie veearts ‘n aanbeveling maak dat u ook bokke mag immuniseer.
Lees meer oor dié siekte en inenting by 1943904 Ensoötiese aborsie: Aborsies by skape en bokke 1/6/2006.

Slenkdalkoors:
Hierdie siekte kom nie elke jaar voor nie en word deur muskiete oorgedra. As dit baie reën en panne ontstaan, broei die muskiete uit en die siekte kan uitbreek. Aborsiestorms kom voor. Lees meer oor die siekte en inenting by 1976355 Vrae oor Slenkdalkoors 1/8/2006.

Wesselsbronsiekte:
Baie dieselfde toestand as vir Slenkdalkoors heers hier.
Lees meer by 1912283 Wesselsbronsiekte in die Karoo 6/4/2006.

Blou-uier:
Blou-uier word hoofsaaklik deur Mannheimia (Pasteurella) haemolytica (mastitis pasteurellose) asook Staphylococcus aureus veroorsaak. Die siekte kom gewoonlik net na lam voor, of aan die einde van die laktasie. Blou-uier kom gewoonlik by jong ooie voor. Die voorkoms van die siekte by ooie met tweelinge is opvallend hoog. Lammers wat aggressief suip, die uier stamp en die spene beskadig, predisponeer tot die besmetting. M. haemolytica kom normaalweg in gesonde skape se asemhalingstelsel voor en, saam met omgewingsbesmetting, is dit belangrike bronne van besmetting wat gewoonlik deur die speenkanaal plaasvind. Lammers van ooie wat mastitis het, probeer dikwels om melk by ander gesonde ooie te suip omdat die mastitisooi nie melk het nie. Sodoende word die gesonde ooi se uier besmet.

Siektetekens
Die ooi met mastitis weier dat haar lam drink en dikwels vrek die lam van honger. Blou-uier kom sporadies voor en tot 5% van ooie kan mastitis kry, waarvan 50% kan vrek. Die ooi het koors, eet nie, haal vinnig asem, beweeg traag en ontwikkel ‘n lamheid in die agterpoot aan die kant waar die uier mastitis het. Die uier is warm, geswel, gevoelig, pynlik en rooi tot blourooi van kleur. Die uier se melk is waterig of bloederig met vlokkies en die melkproduksie staak meesal. Ooie kan binne ‘n paar dae vrek. Die blouswart verkleurde deel van die uier (gangreneuse mastitis) gaan dood en kan afval.

Voorkoming en beheer
 

  • Behandel ooie wat mastitis het tydig met antibiotika. Doeltreffende ondersteunende behandeling en behandeling vir skok is noodsaaklik en kan lewensreddend wees. Melk beide uierhelftes (siek en gesond) gereeld om van die inflammatoriese produkte in die uier ontslae te raak.
     
  • Ooie se voerinname moet verminder word ‘n paar dae voor die lammers gespeen gaan word om uierswelling na spening by die ooi te verminder.
     
  • Ooie met mastitis en hulle lammers moet van die trop geïsoleer word.
     
  • Ent dragtige ooie ses weke en weer twee weke voordat hulle lam met blou-uier entstof wat ‘n samestelling is van M. haemolytica– en Staphylococcus aureus– bestanddele. Daarna moet ‘n skraagdosisentstof elke keer 2-3 weke voordat die ooi lam, toegedien word.
     
  • As die oorsaak van die blou-uier M. haemolytica is, kan ooie voorkomend met Multivax P ingeënt word, G1517.

    Ten slotte is voeding baie belangrik. Gaan lees weer wat dr. Jasper Coetzee geskryf het by 1838748 Bokooie het nie genoeg melk vir lammers 22/11/05.

    Bron: Du Preez J en Malan F. 2006. Entstowwe en Immunisering van Plaasdiere. Agri Connect ISBN: 978-0-620-37335-7.

     

  • Geskryf deur: Dr. Faffa Malan, Intervet

    30 Maart 2007


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X