Vra vir Faffa

Entstowwe – die soorte en hul werking

Vraag

Kan ek bloednier en bloutong entstof op dieselfde dag spuit of moet daar 'n sekere tyd verloop? Kan ek bloutong saam met ontwurmmiddel op dieselfde dag spuit maar met verskillende spuite?

Antwoord

Baie vrae word op inligtingsdae gevra oor soorte entstowwe en hulle werking en immuniseringsprogramme. Wat gebeur in die dier na ‘n entstof toegedien is?

Immuniteit
Diere kan ‘n immuniteit teen infeksie op twee maniere bekom:
·         Hulle ontwikkel ‘n beskermende immuunreaksie na hulle blootgestel is aan antigene van ‘n besmetlike agent en hierdie reaksie staan bekend as aktiewe immunisering.
Die nadeel van hierdie immunisering is dat dit ‘n redelike tyd neem voordat beskerming intree, maar as beskerming eers ingetree het, hou dit lank en kan dit versterk word.
 
·         Diere kan ook beskerm word deur die toediening van teenliggame (antisera) afkomstig van diere wat immuun teen ‘n spesifieke siektetoestand(e) is. Ons noem hierdie immunisering passiewe immunisering. Hierdie immunisering het die voordeel dat beskerming onmiddellik intree, maar die nadeel is dat die beskerming van korte duur is deurdat die immunoglobuliene deur die liggaam afgebreek word veral as die antiserum afkomstig is van ‘n ander spesie. Daar is ook altyd die gevaar dat ‘n hipersensitiwiteitsreaksie kan intree, wat ons ook serumsiekte noem.
Aktiewe immunisering
Beskermende immuniteit hang baie van die natuur van die veroorsakende organisme en die verloop van die siekte wat veroorsaak word, af. In sekere gevalle word beskerming verleen deur neutraliserende immunoglobulien A (IgA) teenliggame wat op die slymvliese voorkom. In ander gevalle is daar ‘n sistemiese reaksie wat immunoglobulien G (IgG) teenliggame insluit. Sitotoksiese (seldodende) en T helper limfosiete (witbloedselle) is nodig om die infeksie te beveg. Al hierdie faktore word in ag geneem wanneer entstowwe ontwikkel word.
Natuurlike infeksie het die beste bekerming tot gevolg
Die beste beskerming volg gewoonlik nadat ‘n dier herstel het van ‘n siekte wat deur ‘n virulente virus of bakterie veroorsaak is. Dit maak dus sin dat in meeste gevalle waar ‘n entstof ‘n besmetlike lewende geattenueerde (verswakte) patogeen (virus/bakterie) bevat, die beskerming baie beter sal wees in vergelyking met die liggaam se reaksie teen ‘n ge?naktiveerde (“dooie”) entstof. ‘n Ge?naktiveerde entstof bevat dooie organismes of sekere spesifieke proteïene van die organisme waarteen die liggaam teenliggame vervaardig.
Kruisweerstand
Waar teenliggame die vernaamste meganisme van immuniteit is, is dit onwaarskynlik dat daar kruisweerstand teen ander tipes van die bakterie of virus verwek sal word, veral as die entstof ge?naktiveerd is.
Geheueselle
Die sukses van immunisering hang daarvan af of tipe T en B geheueselle vervaardig word. Die rede is dat die T en B witbloedselle wat die aktiewe beskermingswerk moet gaan doen net ‘n paar dae of weke lewe nadat hulle na inenenting van ‘n entstof vervaardig is. Dit is die geheueselle, en nie die T en B witbloedselle nie, wat reageer nadat die liggaam weer met antigene (kieme en viruse) wat in die entstof teenwoordig was, in aanraking kom.
As ‘n re?l kan die volgende gesê word:
  • Gemodifiseerde (“makgemaakte entstof”: die entstof is lewend en stimuleer immuniteit, maar veroorsaak nie siekte nie)  en ge?naktiveerde entstowwe wat diere teen sistemiese infeksies immuniseer, produseer geheueselle wat lank leef.
  • Geïnaktiveerde virusentstowwe verwek swak immuniteit en korttermyn geheue teen slymvliesinfeksies en daarom moet gemodifiseerde lewende entstowwe liefs teen hierdie tipe infeksies gebruik word.
  • Ge?naktiveerde (dooie) bakteriële entstowwe verwek nie langtermyn beskerming nie en derhalwe is skraagdosisse nodig om immuniteit in stand te hou.
Slymvlies-immuniteit
Immuunreaksies wat op die slymvlies plaasvind, is gewoonlik onafhanklik van reaksies wat sistemies (in die liggaam) plaasvind. Die gevolg hiervan is dat waar ‘n entstof ingespuit (parenteraal) word, daar wel immuniteit of dalk geen lokale immuniteit nie, op die slymvlies mag ontwikkel. As ‘n gemodifiseerde lokaal (bv. in die neus gespuit) toegedien word, ontwikkel die dier lokale sowel as sistemiese immuniteit. As ‘n geïnaktiveerde (dooie) entstof parenteraal (per inspuiting) toegedien word, sal die dier nie ‘n lokale immuunreaksie ontwikkel nie, maar heelwaarskynlik ‘n sistemiese immuunreaksie.
Gemengde entstowwe
T. w. v. gemak vir die boer is dit vandag algemeen om in ‘n enkele entstof ‘n verskeidenheid van patogene (antigene) te vind. Entstowwe teen asemhalingsiektes in beeste kan bv. parainfluensa 3 virus, aansteeklike beesrinotrage?tis virus, bees virus diarree virus, bees respiratoriese sinsitialevirus en Mannheimia haemolytica leukotoksien bevat. Van die multiklostridiale entstowwe bevat tot 10 antigene.
Die immuunsisteem het die vermoë om met ‘n groot verskeidenheid van antigene op ‘n voortdurende grondslag te hanteer, MAAR waar verskillende antigene saam toegedien word , mag daar kompetisie tussen die antigene ontstaan.
Wanneer lewende geattenueerde virusentstowwe gekombineer word, kan die produksie van interferon alfa en beta inmeng met die vermeerdering van een van die komponente. Daarom moet entstowwe nooit lukraak vermeng word nie. Vervaardigers van entstowwe hou dit altyd in gedagte en vervaardig hulle entstowwe volgens wetenskaplike riglyne. Vir ‘n maatskappy om ‘n entstof te registreer, moet hulle bewys lewer dat elke komponent in die entstof die verlangde beskermingsvlakke in die ge?nte dier induseer en dat die produk veilig is.
Bogenoemde vraag  is of bloutongentstof saam met bloednier toegedien kan word. As ‘n algemene riglyn word aanbeveel dat een lewende entstof saam met 2 ge?naktiveerde entstowwe toegedien kan word. ‘n Gekombineerde entstof word as ‘n enkele entstof beskou, maar waar daar so baie antigene in sommige entstowwe is (tot 10) , sou ek nie nog ‘n entstof met so ‘n entstof toedien nie, tensy behoorlike wetenskaplike toetse gedoen word om die teendeel te bewys.
In antwoord op die spesifieke vraag: Ja, een van die komponente van die bloutong entstof A, B of C (lewend) kan saam met bloednierentstof (“dooie entstof”) toegedien word. Lees ook die antwoord: “Entstof vir bloutong“
‘n Wurmmiddel kan wel saam met entstoftoediening gegee word.
Adjuvante
Om die entstof, wat ge?naktiveerde organismes bevat, effektief te maak, is dit nodig om die immuunreaksie aan te help. ‘n Adjuvant word bygevoeg wat tot gevolg het:
  • dat die antigeen(e) gekonsentreer word sodat limfosiete (witbloedselle) met hulle in aanraking kan kom
  • die aktivering van sekere witbloedselle (makrofage) en teenliggaamproduserende selle
  • die vorming van sitokiene wat witbloedselfunksie beheer
Vandag is daar verskeie adjuvante beskikbaar bv. aluminiumhidroksied, sekere olies en nog meer nuwerwetse samestellings. Baie geld en tyd word vandag bestee om nuwe toedieningsisteme te ontwikkel, wat tot beter immuunreaksies en beskerming sal lei.
 
Immuniseringsprogram
Dit is nie moontlik om ‘n skedule vir elke spesifieke entstof te gee nie, maar algemene riglyne kan gegee word.
Pasgebore diere word passief beskerm deur maternale teenliggame wat deur die kolostrum (biesmelk) ingeneem word. Dit is dus van kardinale belang dat die moeder se immuunstatus teen die heersende siektes op die plaas optimaal is en die pasgeborene betyds genoeg biesmelk inneem. As gevolg van die hoë vlakke van maternale teenliggame is dit dus moeilik of onmoontlik om hierdie pasgeborenes suksesvol te immuniseer.
Jong diere kan slegs suksesvol inge?nt word as die maternale teenliggame genoegsaam afgeneem het. Aangesien dit onmoontlik is om vas te stel wanneer die teenliggaamvlakke genoegsaam afgeneem het, moet jong diere twee keer ingeënt word. Die tweede inenting moet in honde en katte op 15 weke gegee word en op 6 maande in plaasdiere. Diere met geen maternale teenliggame nie kan suksesvol ge?mmuniseer word op ‘n baie jonger ouderdom.
Die tussenposes tussen inentings varieer. Geïnaktiveerde entstowwe wat swak geheue induseer, moet meer dikwels inge?nt word (bv. Arcanobacterium pyogenes – elke 6 maande). Lewende entstowwe produseer ‘n langer beskerming en kan dan eers na 2 of 3 jaar weer geskraag word. Sommige entstowwe induseer ‘n lewenslange beskerming (bv. lewende Slenkdalkoors entstof).
Die besluit om ‘n entstof toe te dien, mag ook afhang van wanneer die risiko die grootste is, bv. wanneer hoendermis gevoer gaan word, is die risiko vir lamsiekte baie groot. In die reënseisoen is die risiko vir bloutong, Slenkdalkoors, perdesiekte en drie-dae-stywesiekte baie ho?r.
Dit is belangrik dat 3 tot 4 weke verloop na die die primêre inenting (eerste keer dat ‘n dier met ‘n spesifieke antigeen ingeënt word) voordat ‘n skraagdosis toegedien word.
Lees die instruksies deeglik op die voubiljet van elke entstof voor gebruik.
 
Lees ook die volgende antwoorde wat reeds op Vra-vir-Faffa verskyn het deur die opskrif tussen aanhalingstekens in die soekblok in te tik bv, “Waarom faal immunisering“
 
     Waarom faal inenting?
     Entstowwe vir skape
     Bestuursriglyne vir skape en bokke
     Inenting van ramme
     Inenting-breë spektrum-entstof
     Yster regulerende proteïene (Pasteurella entstof)
     Entstof vir pasteurellose
     Pasteurella-inenting: Wanneer?
     Pasteurella inenting
     Inentings vir Pasteurella by skape
     Bloednier-inenting vóór wurmdosering?
     Spuit vir spons-, milt- en lamsiekte
     Entstowwe: Onderhuids of binnespierse toediening?
     Entstowwe teen aborsies, blou-uier by bokke
     Bloutong- inenting vir dragtige skape
     Entstof vir bloutong
     Enting en dragtigheid
 
Geskryf deur: dr. Faffa Malan, Veeartsenykundige konsultant (dokfaffa@nashuaisp.co.za)
20 September 2009
Bron:
Crafford, J. Responses to immunization. Veegesondheid en produksie oorsig. Volume 1. 2007. Vetlink publications.
 
 
 
 
 

Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X