Vra vir Faffa

Ekstra inkomste: Maak kalwers groot

Vraag

Hoeveel melk moet 'n beeskalf kry van die dag wat hy gebore is tot wanneer hy begin vreet?

Antwoord

Vraag:
Ek wil graag weet hoeveel melk ‘n beeskalf moet kry van die dag wat hy gebore is tot wanneer hy begin vreet? En hoeveel melk hy verder sal moet kry en tot op watter stadium. Alle inligting oor sy voeding. Sal dit sy maag affekteer as ek hom poeiermelk gee en beesmelk wanneer ek het? Kan die twee verskillende melke sy maak omkrap? – Nico Els (koonap@imaginet.co.za)

Antwoord:
Innoverende en ondernemende boere, al het hul geen koeie nie, kan ekstra inkomste verdien deur verskalwers vir melkerye en bulkalwers vir die slagmark groot te maak.

Hoewel die meeste suiwelverskalwers deur melkprodusente self grootgemaak word, verhinder niks hulle om hierdie taak na geskikte en bekwame produsente, wat oor die nodige kennis en infrastruktuur beskik, uit te kontrakteer om dit teen vergoeding te doen nie. Verskalwers bly by die "uitgekontrakteerde" eienaars tot ongeveer 12 tot 14 maande of selfs totdat hulle geïnsemineer en dragtig gesertifiseer is voordat hulle na die oorspronklike eienaars terugkeer.

Volgens Mike Murray, ‘n landbou-ekonoom, kan suiwelprodusente veral waar grond ‘n beperkende faktor is, ‘n groter wins realiseer as die grootmaak van verse uitgekontrakteer word. Die grootmaak van kalwers is ‘n gespesialiseerde taak wat deeglike kennis en bestuursvernuf vereis. ‘n Ekstra inkomste kan ook verdien word deur die aankoop van bulkalwers vanaf melkerye om hulle groot te maak en vir die slagmark af te rond. Die eerste ses maande word bulkalwers op dieselfde wyse as verskalwers grootgemaak.

Belang van voldoende biesmelkinname
Alle kalwers moet binne die eerste 24 uur van hulle lewe voldoende kolostrum (biesmelk) inkry om ‘n doeltreffende immuunsisteem te ontwikkel en om hulle natuurlike weerstand teen siektes te maksimeer. Biesmelk is ryk aan teenliggaampies waarvan die absorbsie deur die kalf die hoogste is gedurende die eerste 12 uur van sy lewe. Die ideaal is dat die kalf 1,5 tot 2 liter biesmelk binne die eerste 30 minute na geboorte inneem en binne die volgende 8 uur nog 1.5 tot 2 liter. Kalwers word normaalweg op Dag 2 van die koeie verwyder en in individuele hokkies by die nuwe eienaar geplaas waarna na volmelk of melksurrogaat (melkvervanger) oorgeslaan word. Waar enigsins moontlik, is dit hoogs aan te beveel om die kalwers liewer vir nog ‘n dag of drie óf by die koeie te laat óf om 1,5 tot 2,5 liter biesmelk per kalf twee maal per dag uit ‘n emmer te voer.

Grootmaakstelsels
Hoewel verskeie variasies bestaan, word vandag hoofsaaklik twee stelsels (10 % van geboortemassa- en vroegspeenstelsel) gebruik om kalwers groot te maak. Met eersgenoemde stelsel ontvang die kalwers daagliks 10 % van hulle geboortemassa as volmelk of melksurrogaat in twee voedings. In die praktyk word hierdie stelsel aangepas en word kalwers tans 3 tot 4 kg melk (helfte soggens en helfte saans) gevoer. Die melk word in emmers of via ‘n outomatiese suipstelsel met kunsspene gevoer. Vanaf die stadium dat kalwers in die hokkies geplaas word, word een van die kalfrantsoene in tabel 1 ad lib. beskikbaar gestel.

(Lees meegaande tabel, onder aan.)

Die kalwers moet geleer word om hierdie rantsoen so gou as moontlik te leer eet. Die beste metode is om sodra die kalwers die melk klaar gedrink het, ‘n handvol van die rantsoen in hulle bekke te plaas sodat hulle die smaak daarvan kan aanleer. Droë voer moet in geen omstandighede met melk of melksurrogaat gemeng word nie. Water is veral belangrik om die inname van die droë voer op ‘n jong ouderdom te stimuleer en moet van die begin aan die kalwers in die hokkies voorsien word. Die water moet tydens en vir die eerste een tot twee uur na melkvoeding verwyder word om die kalwers te dwing om, omdat hulle nog honger is, die kalfpille of -meel te vreet. Verskalwers op hierdie stelsel word gewoonlik tussen twee en drie maande gespeen sodra hulle 1 kg droë kalfpille of -meel per kalf vir drie agtereenvolgende dae inneem.

Aangesien melksurrogaat baie duurder as kalfpille of -meel is, word die vroegspeenstelsel al meer en definitief vir bulkalwers gebruik om kalwers sodoende vroeër te speen. Met die vroegspeenstelsel word kalwers, na die biesvoedingperiode, volmelk of melksurrogaat teen 2.75 kg/dag vir Holstein- en 2.25 kg/dag vir Jerseykalwers met ‘n enkele voeding (soggens of saans) gevoer. Die kalfmeel of -pille moet altyd in die hokke ad lib. beskikbaar wees. Die kalwers word ook gespeen sodra hulle drie agtereenvolgende dae 1 kg van die droë kalfpille of -meel inneem. In hierdie stelsel kan dit so vroeg as 30 dae realiseer.

Om die speenskok te verminder, word kalwers vir nog sewe tot 10 dae na speen in die hokkies gehou met die betrokke kalfrantsoen en water vrylik beskikbaar. Daarna word hulle in groepe, volgens grootte, in klein kampies gegroepeer. Die betrokke kalfrantsoen word steeds ad lib.saam met goeie gehalte ruvoer gevoer. Wanneer die daaglikse inname van die Voermolpille ‘n vlak van 2 tot 2.5 kg/kalf bereik, word dit op hierdie vlak tot ses maande ouderdom beperk, wat hulle dan forseer om meer ruvoer te vreet om hulle voedingsbehoefte te bevredig. Die SS 200-gebaseerde kalfmeel word ad lib.tot ses maande ouderdom saam met addisionele ruvoer gevoer. Op ongeveer ses maande ouderdom word die kalwers vanaf die klein kampies na kampe met goeie gehalte weidings oorgeplaas met beperkte kragvoerbyvoeding. Indien weidings nie beskikbaar is nie moet addisonele ruvoer voorsien word.

Kalfrantsoene vir optimale rumenontwikkeling en groei
Optimale ontwikkeling van die rumen stel die kalf in staat om in ‘n groot gedeelte van sy proteïen- en energiebehoeftes self te voorsien. Die inname van droë voer in die vorm van veral grane (mengsels in Tabel 1 bevat hoë vlakke grane) is primêr verantwoordelik vir die optimale ontwikkeling van die rumen. Verder is die tekstuur van die kalfrantsoen van wesenlike belang en moet dit grof genoeg wees om inname daarvan te stimuleer wat weer die groeitempo verhoog. In hierdie verband voldoen ‘n grondstof soos brouersgraan, wat in produkte soos Voermol Kalfaanvangspille, SS 200 en Procon 33 ingesluit is, aan hierdie vereiste en vervul dit dus ‘n uiters waardevolle funksie. Tabel 1 verskaf voorbeelde van kalfrantsoene wat ad lib.gevoer word en wat spesiaal geformuleer is om vinnige en volledige ontwikkeling van die rumen asook optimale groei te verseker.

Die produsent kan óf Voermol Kalfaanvangspille tot op drie maande ouderdom gee waarna Voermol Sweet 16 pille tot op ongeveer ses maande ouderdom gevoer word óf ‘n SS 200-gebaseerde volledige kalfmeel kan regdeur tot ses maande ouderdom gevoer word. Addisionele goeie gehalte ruvoer word ad lib.beskikbaar gestel sodra kalwers in groepe in klein kampies geplaas word. Verskalwers moenie gedurende puberteit te vinnig groei nie (teikengroeikurwes is beskikbaar) omdat dit tot vetaansit in die uier sal lei wat sekretoriese (melkvormende) weefsel met tot 23 % kan verminder en gevolglik sal hulle melkproduksie verlaag. Dit is daarom van kritieke belang om die regte voedingstowwe teen die regte vlak vanaf drie maande ouderdom tot puberteit (sowat 15 maande) te voorsien om oormatige vetneerlegging in die uier te voorkom en uierontwikkeling te maksimeer.

Samevatting
Die grootmaak van kalwers blyk ‘n lewensvatbare en winsgewende vertakking te wees, mits sekere basiese beginsels gevolg word. Die inname van voldoende biesmelk vroeg in die kalf se lewe is die fondament van suksesvolle kalwergrootmaak. Daarbenewens is die optimalisering van rumenontwikkeling ‘n noodsaaklike vereiste. Arbeid is die grootste koste in ‘n kalfgrootmaakstelsel gedurende die eerste drie maande en daarom moet dit eenvoudig gehou word deur die gebruik van volledige Voermol Kalfaanvangspille. Na drie maande ouderdom is die grootste uitgawe voerkoste en dit kan beperk word deur koste-effektiewe rantsoene (bv. Voermol Sweet 16 of ‘n SS 200-gebaseerde kalfmeel) te gebruik. Die volgende fase (na ses maande ouderdom) van die grootmaak van verskalwers en afronding van bulkalwers sal by ‘n volgende geleentheid bespreek word.

Indien spesifieke kalfrantsoene of meer tegniese inligting verlang word, raadpleeg Voermol se tolvrye Inligtingsentrum (0800 310 078) of stuur ‘n e-pos aan info@voermol.co.za.

 

  • Dr. Jasper Coetzee is verbonde aan Voermol Voere.

    27 Maart 2006


Kommentaar

Een kommentaar op “Ekstra inkomste: Maak kalwers groot

  1. Christine Nel
    Christine Nel

    Baie dankie. Baie leersaam.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X