Vra vir Faffa

Eenjarige raaigrasvergiftiging

Vraag

My Ngunibeeste het blykbaar raaigrasvergiftiging. Is daar behandeling daarvoor?

Antwoord

Eenjarige raaigrasvergiftiging (ERV)

Eenjarige raaigras (Lolium spp.)vergftiging veroorsaak ‘n dodelike senuweevergiftiging van beeste, skape, bokke en perde. Dit gebeur wanneer die raaigrassade wat galletjies (‘n klein kapsule) bevat, wat deur ‘n wurm (Anguina sp.) veroorsaak is,  besmet word deur die bakterie Rathayibacter toxicus. Die bakterieë produseer corynetoksiene (gifstowwe) wat die vergiftiging veroorsaak. Die siekte kom net voor in die Winterreënvalarea van die Wes-Kaap.
Die tweede stadium van die wurm bly dormant in die galle van die raaigrassaad wat op die grond lê gedurende die droeë warm somers. Na die eerste herfsreën ontsnap hulle uit die galle en migreer op die raaigrassaailinge. Soos wat die raaigras groei, beweeg hulle passief tot waar die groeipunt is en penetreer die voorstadium van die saadjie. In plaas daarvan dat saadjies gevorm word, word galle gevorm. In die gal ontwikkel die wurmlarwes tot volwassenes, wat hulle eiers daar lê. Wanneer die migrerende larwes deur grond beweeg, tel hulle die bakterieë op wat die vergiftging veroorsaak.
Vergiftigde hooi kan ook vrektes veroorsaak en kan tot 10 jaar giftig bly.
Kliniese tekens
In diere wat nie erg aangetas is nie, word tekens gesien as hulle versteur word. Diere is dan prikkelbaar, het spiertrekkings, loop waggelend, onvas, tel pote hoog op en het sametrekkings. Tydens sametrekkings lê diere op hulle sy met bene uitgestrek en nek agteroor gebuig. Later bly diere op hulle sy lê, het sametrekkings, oë beweeg heen en weer en daar is spoeg by die bek. Dragtige ooie aborteer op groot skaal.
Die tekens begin gewoonlik 3 dae nadat diere in ‘n besmette kamp loop en vrektes kan ongeveer 4-24 uur na die aanvang van tekens voorkom. Vrektes kan nog vir 4 of 5 dae voorkom nadat hulle uit ‘n besmette kamp verwyder is.
Raaigrasvergiftiging word beheer deur raairas uit te roei of te verhoed dat die saadkoppe van die raaigras deur vee ingeneem word. Uitroeiing van raaigras op groot skaal in die praktyk is baie moeilik omdat eenjarige raaigras ‘n onkruid  op stoppel- of braaklande in die Winterreënvalstreek is. ’n Beter opsie is seker om besmette weidings druk te bewei voordat die saadkoppe van die raaigras ryp word. Lae vlakke van onkruiddoder kan gespuit word of die weiding kan gesny word. Die mees praktiese metode van beheer is om die weiding te brand en dan die volgende jaar ‘n gewas (koring, gars, rog of peulgewasse) daarop te plant en dan selektiewe onkruiddoder te gebruik om raaigras te beheer. Moenie hawer saai nie, want raaigras in dié graansoort kan moeilik chemies uitgeroei word. Sodra ‘n uitbreek voorkom, moet vee na ‘n skoon kamp of ‘n kamp wat kunsmatig skoongemaak is van raaigras en die saad van raaigras, geskuif word.
Behandeling
Magnesiumsulfaat as ‘n 50% waterige oplossing wat binnespiers ingespuit word teen ‘n dosis van 0,2 g/kg twee maal per dag vir 2 tot 5 dae of totdat die kliniese tekens afneem, het belowende resultate gelewer.
“Ryegrass staggers” veroorsaak soortgelyke siektetekens, maar dit kom voor wanneer diere jong groen meerjarige raaigras vreet. Diere herstel feitlik almal wanneer hulle van die weiding afgeneem word.
Bronne:
Kellerman, T.S. , Coetzer, J.A.W.. Naude. T.W. en Botha, C.J. 2005. Plant poisonings and mycotoxicosis of livestock in Southern Africa. Oxford University Press.                                         ISBN 978 0 19 57613 4
DeWet, J en Bath, G.1994. Kleinveesiektes. Tafelberg-uitgewers. ISBN 0 624 03203 5
Geskryf deur: dr. Faffa Malan, Veeartsenykonsultant (dokfaffa@nashuaisp.co.za)
27 Maart 2010
 

Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X