Vra vir Faffa

E.coli in diere

Vraag

Ek boer in Parys in die Vrystaat. Met my laaste 7 groepe lammers het ek erge E. coli onder hulle ondervind. Ek het al my krale ontsmet en omtrent enige medisyne wat daar is al probeer. Is daar regtig niks op die mark wat hierdie kiem kan doodmaak nie? Ek het nou onlangs van die lammers Onderstepoort toe gevat en wag nog vir hulle uitslae. Asseblief gee raad ek is moedeloos.

Antwoord

E. coli is ‘n bakterium wat baie algemeen voorkom. Wanneer ‘n mens  van E. coli  praat, dui dit eintlik ‘n baie groot groep van verskillende E. coli- stamme [biotipes of serotipes] aan. Daar is letterlik duisende verskillende stamme.

E. coli kom in die dermkanaal van alle diere voor en in water en die omgewing, veral waar daar mis is, soos in krale. In al hierdie plekke kom die E. coli  gewoonlik as ‘n mengsel van ‘n hele aantal stamme voor. E. coli vorm ook ‘n belangrike deel van die gewone dermbakterieë  van alle diere.

Die meeste van hierdie E. coli-stamme veroorsaak geen siekte nie. Diere kan hierdie stamme in hulle dermkanaal dra, sonder enige nagevolge.

Slegs min E. coli stamme veroorsaak siekte. Hierdie stamme dra sekere faktore [virulensiefaktore] wat hulle as siekteveroorsakende stamme identifiseer. Die faktore is gewoonlik gekoppel aan beide ‘n toksien [gifstof] en ‘n aanhegtingsfaktor, wat hulle toelaat om aan die dermwand te heg en nie saam met verteerde voedsel  uitgeskei te word nie. Die twee werk saam, sodat die kwaaddoener lank in die dermkanaal kan lewe en deurentyd gif kan uitskei.

Gewone E. coli vervaardig geen gifstof nie en hulle kan nie permanent in die dermkanaal  vestig nie.

Gewone laboratoriumtoetse kan nie tussen die gewone en die siekteveroorsakende E. coli-stamme onderskei nie. Voorheen is serotipering gebruik om tussen hulle te onderskei, maar nou is daar PKR toetse om die virulensiefaktore te identifiseer. Hierdie toetse is duur en word nie algemeen in Suid-Afrika uitgevoer nie. Dit is egter die moeite werd om die aanvraag  vir sulke toetse te ontwikkel, want indien die spesifieke virulensiefaktore bekend is, kan die korrekte entstof  aangewend word.

U vra vir ‘n middel om E. coli dood te maak. Antibiotikas maak wel bakterieë dood, maar weens misbruik en oormatige gebruik van antibiotikas, is baie E. coli-stamme bestand teen die meeste antibiotikas. Onder sulke omstandighede is ‘n entstof aangewese, omdat entstowwe die siekte verhoed en dan sal antibiotikas nie nodig wees nie.

Aanbeveling om die probleem op te los.

Roep jou veearts uit.

Neem mis- en orgaanmonsters op ys.

Stuur weg na ‘n geakrediteerde laboratorium.

‘n Laboratorium kan die kiem of virus bepaal wat die siekte veroorsaak.

Die laboratorium kan ‘n antibiogram doen en dan bepaal watter antibiotika die beste werk teen die veroorsakende kiem.

Virulensiefaktore van die spesifieke E.coli bakterieë kan bepaal word.

Indien die geregistreerde entstowwe op die mark nie die bepaalde tipe E.coli bevat nie, kan ‘n outogene entstof gemaak word vir die spesifieke plaas.

Kontak jou veearts oor hoe om te werk te gaan.

Vir verdere inligting  kan jou veearts die skrywer kontak.

Geskryf deur: dr. Marijke Henton, Bakterioloog (Marijke-Henton@idexx.com)

24 Desember 2015

 


Kommentaar

Een kommentaar op “E.coli in diere

  1. Danie Bruwer
    Danie Bruwer

    More Ek het n baie groot probleem gehad met E coli Aanvanklik was dit baie moeilik om dit te identifiseer Na baie moeite en koste het ons n lam na Pathcare gestuur wat die diagnose kon doen en die regte medisyne kon aanbeveel Kontak my gerus sel 0828069410


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X