Vra vir Faffa

E.coli besmetting

Vraag

Ek boer by Brandvlei in die Noord-Kaap met Dorpers. Ons gemiddelde reënval is 125mm per jaar. In die laaste 8 jaar het E. coli begin om vrektes onder lammers van 2-3 weke oud te veroorsaak. Dit kom sporadies voor op verskillende plase en ook net by een of twee troppe per plaas en ook nie elke jaar nie. Hoe oorleef en versprei die E. coli-kiem? Kan kraaie dit versprei deur waters te besoedel?..... hier is die afgelope 10 jaar 'n beduidende toename in witborskraaie wat vroeër glad nie hier was nie. Sal dit enige doel hê om suipings te ontsmet en waarmee?

Antwoord

Die naam E. coli (Escherichia coli) verteenwoordig ‘n baie groot groep van verwante bakterieë, waarvan die meeste onskadelike dermkanaalinwoners is. Slegs min E. coli stamme veroorsaak siekte, en die meeste van hulle veroorsaak maagwerk in baie jong diere, 1 – 3  dae oud. ‘n Paar E. coli stamme wat siekte in diere tussen 2 en 3 weke veroorsaak is bekend, maar hulle kom nogal skaars voor. Daar is ook ‘n derde groep E. coli stamme, wat as opportuniste optree. Opportuniste kom orals voor en indien die dermkanaal of organe deur ‘n ander siekte beskadig word, dan kan E. coli die beskadigde weefsel indring en vermenigvuldig. Dan lyk dit asof E. coli die oorsaak was, maar dit het maar net sekondêr die weefsels beskadig en was nie die primêre oorsaak van die probleem nie.

E. coli  word maklik in ‘n laboratorium gekweek, maar dit is ook ‘n algemene kontaminant in karkasse. Dit sprei vanaf die dermkanaal na die ander organe na dood, veral as daar meer as ‘n paar ure tussen vrekte en monsterneming voorkom.   Om te kan onderskei tussen die baie onskadelike stamme en die min stamme wat siekte veroorsaak, verg verdere ingewikkelde en duur laboratoriumtoetse, soos serotipering en PKR vir virulensiefaktore. Hierdie toetse word selde uitgevoer, omdat hulle so duur is en omdat min laboratoriums die toetse kan doen.  Dit is dus onwaarskynlik dat daar een enkele patogene [siekteveroorsakende] stam in u distrik by al die plase voorgekom het.

Omdat E. coli  in die dermkanaal voorkom, bevat mis E. coli en dit versprei  dan ook algemeen in die omgewing in. Dit kan maande lank in ‘n droë omgewing lewe en kan in vogtige plekke selfs in die omgewing vermenigvuldig. Plekke soos om drinkbakke is gewoonlik vogtig genoeg om E. coli te laat vermenigvuldig. E. coli wat in stof voorkom, kan deur die wind versprei word.

Omdat E. coli in die dermkanaal van alle diere voorkom, kan enige soort dier of voël dit dra. Besoedeling van waterbronne is egter gewoonlik van die diere self, wat daar suip.

Dit is dus ook sinneloos om suipings te ontsmet, want direk daarna sal hulle weer besmet raak, sodra diere weer toegelaat word om daar te drink. Stof wat E. coli  bevat, kan ook in drinkbakke en damme ingewaai word.

Die feit dat die gevalle in u distrik sporadies voorkom, pas ook  by al die bogenoemde faktore in.

Die goeie nuus is dat PKR toetse al hoe meer algemeen en goedkoper word en hoort in die toekoms baie meer algemeen beskikbaar te wees. ‘n Mens sal dus dan kan weet of die siekte deur ‘n patogene stam veroorsaak word en, indien wel, sou ‘n spesiale entstof van die stam berei kon word om die ander te beskerm. Maar dis nog in die toekoms en huidiglik nie baie prakties nie.

Geskryf deur: dr. Marijke Henton, bakterioloog (maryke@idexxsa.co.za)

9 Februarie 2014


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X