Vra vir Faffa

Druksere by honde

Vraag

Meer inligting en raad oor druksere by veral groot honde.

Antwoord

Vraag:
Ek teel met boerboele wat in teelhokke aangehou word en van tyd tot tyd uitkom vir oefening. Die hokke het ‘n sementvloer. My honde kry druksere op hul gewrigte wat later opswel en septies word. Die plaaslike veearts het ‘n operasie aanbeveel. Kan u asb. raad gee. – Danie Venter (dventer@tiscali.co.za)

Antwoord:
Ek neem aan dat u verwys na elmboog-higroom. Dit kom algemeen voor by grootras honde wat op harde oppervlakte lê en herhaaldelik die benerige areas waar daar min sagteweefsel tussen die been en die vel is, traumatiseer. Dit is veral algemeen oor die elmboog areas. Die herhaaldelike skade lei tot weefselskade en die vorming van ‘n seroom (aansameling van vloeistof (serum) onder die vel). ‘n Seroom is dus ‘n sagte, nie-pynlike swelling oor die elmboog area.

In serome kan sekondêre infeksies ontstaan wat dan sal lei tot ‘n pynlike swelling wat ‘n ulkus(seer) kan vorm. Indien higrome sekondêre infeksies in kry, kan dit met antibiotika behandel word. Met tyd word die seroom omring deur veselagtige weefsel en lyk dit soos ‘n eelt. Die beste manier om die kondisie aan te spreek is om dit te voorkom deur sagte beddegoed te voorsien. Onthou ook dat ‘n operasie se sukses afhang van die nasorg en in die geval sal dit die voorsiening van sagte beddegoed insluit. Indien sagte beddegoed nie voorsien word nie, kan die kondisie weer ontstaan.

 

  • Geskryf deur dr. Sunelle Strydom, Intervet

    2 Maart 2007


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X