Vra vir Faffa

Droogtevoeding vir skape

Vraag

Ek het raad nodig i.v.m. die voeding van 'n volrantsoen aan Merinoskape. Ek voer tans 'n mengsel bestaande uit Voermol Corn Candy (25 kg), hawer (160 kg), mielies (40 kg), voerkalk en ammoniumsulfaat (vir ramme) teen 400 g vir droë ooie en 500 g vir dragtige en lakterende ooie. Garsstrooi word ad-lib gevoer. Kan u aandui of dit voldoende is vir onderhoudsvoeding gedurende die droogte? Ek is ook van plan om 'n voermenger aan te skaf om 'n volledige rantsoen te kan meng. Ingesluit in die rantsoen is gras- en hawerstrooi om vermorsing te beperk. Kan u my raad gee oor die samestelling van sodanige mengsel? Let wel dat mielies ingekoop moet word wat ek sover moontlik probeer vermy a.g.v. koste.

Antwoord

Gebruik die volgende kragvoeraanvulling (sjokoladegrane) as onderhoudsvoer vir droë ooie en ramme, in die afseisoen, saam met ad lib. gars- of hawerstrooi:

            200 kg Hawerpitte
             40 kg Mielies
             25 kg Voermol Korn Kandy
                4 kg voerkalk
                2.5 kg ammoniumsulfaat
            271.5 kg TOTAAL
 
Die 200 kg hawerpitte en 40 kg mielies kan met 250 kg hawerpitte vervang word. Ammoniumsulfaat is slegs nodig vir manlike diere (ramme) om blaasstene te voorkom in welke geval ammoniumchloried ‘n beter produk as ammoniumsulfaat is.
 
Die volgende volledige onderhoudsrantsoen kan vir droë ooie (0.5 tot 1.5 kg/ooi/dag) gevoer word:
            350 kg gemaalde gars- of hawerstrooi (15 mm)
            450 kg hawerpitte
            200 kg Voermol Super 18
             10 kg voerkalk
         1 010 kg TOTAAL
 
Laatdragtige en lakterende ooie, asook jongooie moenie hierdie sjokoladegraan gevoer word nie weens die lae deurvloeiproteïeninhoud daarvan. ‘n Deurvloeiproteïentekort gee aanleiding tot lae geboortemassa; swak uierontwikkeling met ‘n gevolglike lae bies- en melkproduksie, asook die produksie van taai bies; hoë lamvrektes en swak lamgroei. Die volgende volledige Lammerooirantsoen kan vir laatdragtige en lakterende ooie gevoer word:
 
            200 kg gemaalde gars- of hawerstrooi (15 mm)
            450 kg hawerpitte (aanbeveel om ‘n gedeelte met gemaalde mielies te vervang)
            100 kg Voermol Maxiwolkonsentraat
            150 kg Voermol Procon
             80 kg Voermol Melassemeel
             10 kg voerkalk
            990 kg TOTAAL
 
Voer hierdie Lammerooirantsoen as volg:
(1)    Wanneer die Lammerooirantsoen gevoer word, moet alle ander kragvoeraanvulling asook lekbyvoeding gestaak word om te verhoed dat die diere te veel ureum inneem.
(2)    Wanneer die Lammerooirantsoen gevoer word, moet daar altyd voldoende vreetspasie (langwol ooie: ± 450 – 500 mm/ooi; kortwol ooie: ± 400 – 450 mm) wees sodat al die ooie gelyktydig kan vreet. Voer Lammerooirantsoen daagliks.
(3)    Aangesien die Lammerooirantsoen ureum bevat, moet die maksimum inname nie 3.5 kg per ooi per dag oorskry nie, want anders kan die diere van ureumvergiftiging vrek. Indien die ooie meer as 3.5 kg/dag gevoer moet word, moet met my in verbinding getree word sodat ek dit kan herformuleer.
(4)    Die ooie moet stadig en geleidelik op die Lammerooirantsoen aangepas word om laminitis, suurpens (asidose) en moontlike vrektes te voorkom. Indien ooie in lamhokke laat lam word, moet die ooie vanaf ses weke voor lam geleidelik op die Lammerooirantsoen op die veld aangepas word. Begin ses weke voor lam met 250 g Lammerooirantsoen/ooi/dag en verhoog dit weekliks met 250 g/ooi/dag sodat hulle een week voor lam op 1 500 g/ooi/dag is. Hulle kan dan een week voor lam na die lamhokke of lamkampe geskuif word waar hulle ad lib. gevoer word.
(5)    Voer ooie met 1-lingfetusse ± 2.5 % en dié met 2-lingfetusse ± 3 % van liggaamsmassa en dié met 1-linglammers ± 3 % en dié met 2-linglammers ± 4 % van liggaamsmassa.  Voer elke dag se hoeveelheid in twee porsies, die helfte van die voer in die oggend en die ander helfte laatnamiddag.
(6)    Lammerooirantsoen kan, in plaas van ? lek, ook vir laatdragtige en lakterende ooie op die veld as ‘n aanvulling gevoer word, maar dan moet daar voldoende vreetspasie wees sodat al die ooie gelyktydig kan vreet. Indien dit nie moontlik is nie, moet jy my skakel sodat ek dit kan herformuleer met ekstra sout om die inname te beperk. Op die veld word, afhangend van die ooie se kondisie en die hoeveelheid veld beskikbaar, ongeveer 500 tot 1 000 g/ooi/dag as ‘n aanvulling gevoer. Pas ooie op dieselfde wyse as vir die lamhokke aan.
 
Ramme moet twee maande voor paarseisoen ‘n spesiale prikkelrantsoen ontvang om testisgroei en spermproduksie te bevorder (sien aangehegte voedingsprogram).
 
Jong groeiende diere, produserende en reproduserende ooie (d.i. jongooie; laatdragtige en lakterende ooie) moenie op onderhoudsvlak gevoer word nie, omdat dit hulle leeftydproduksie en -reproduksie permanent en onomkeerbaar verlaag. Verkoop eerder onproduktiewe ooie (die wat nie lam nie; dié wat lam maar nie ‘n lam speen nie) asook laagproduserende ooie en gebruik hierdie inkomste om ‘n kernkudde ooie vir produksie te voer. Bestudeer onderstaande dokument oor "Droogtevoeding" vir meer agtergrond inligting in die verband.
 
DROOGTEVOEDING VAN SKAPE
 
Droogtevoeding neem normaalweg ‘n aanvang wanneer die weiding nie meer instaat is om minstens 30 % van die dier se voedingsbehoefte te voorsien nie. Die kernboodskap vir droogtevoeding is eerstens om so gou moontlik van enige oortollige diere, oorslaanooie, uitskotdiere en bemarkbare diere ontslae te raak deur hulle te verkoop of af te rond en te bemark. Tweedens moet daar so ver moontlik gepoog word om in die minimum behoeftes van reproduserende diere (ooie voor en tydens paring, laatdragtige en lakterende diere) asook speenooilammers te voorsien om steeds ‘n aanvaarbare reproduksietempo te handhaaf.
 
Droogte vorm ‘n integrale deel van die veebedryf van Suid-Afrika en aangesien daar tans verskeie produsente in die greep van ‘n baie erge droogte vasgevang is, is dit van pas om ‘n paar bestuurs- en voedingspraktyke tydens ‘n droogte te bespreek. Die doel van hierdie artikel is om enkele van die belangrikste wenke in dié verband puntsgewys te lys.
 
Droogtevoedingopsies
 
·       Die produsent se opsies hang af van sy eie finansiële situasie; of hy ‘n stoet- of kuddeboer is; watter grondstowwe hy beskikbaar het of kan bekom, asook die lengte en die ernstigheid van die droogte.
·       Kuddeboere, veral dié wat nie ‘n goeie gehalte kudde het nie, kan oorweeg om al sy diere te verkoop, die geld te belê en na die droogte weer diere aan te koop. Daar moet onthou word dat aanteeldiere na ‘n droogte dikwels skaars en duur is.
·       Oorweging kan geskenk word om diere net vir oorlewing te voer, maar dit moet opgeweeg word teen baie lae lam- en speenpersentasies, lae speenmassas met ‘n hoë persentasie boepenslammers asook lae wolproduksie met ‘n hoë persentasie tengervagte.
·       Vir produsente met goeie gehalte kuddes en stoetboere is die beter opsie om so gou moontlik alle oortollige diere te bemark en die res teen so ‘n vlak te voer dat hulle steeds teen ‘n aanvaarbare vlak produseer.
·       Voorafgaande besluite moet teen die agtergrond geneem word dat op geen droogtehulp of finansiële ondersteuning van die Regering staatgemaak kan word nie.
 
Wenke tydens droogtevoeding
 
·       Klasseer skape en verkoop alle surplus diere (bv. dié met tand-, been-, klou-, uier- en ander gebreke asook oorslaanooie) so gou moontlik.
·       Goeie kwaliteit teelooie en –ramme is die mees waardevolle diere aan die einde van die droogte. Hierdie diere moet spesiale versorging en voeding gedurende die droogte kry indien teelprogramme volgehou wil word.
·       Met rampdroogtes verskuif die klem na oorlewing en massaverlies van 15 tot 20 % kan onder sekere omstandighede toegelaat word. Byvoeding moet egter ‘n aanvang neem wanneer die skape minstens 3 tot 4 kg bo hulle minimum toelaatbare massa is, want hulle gaan tydens aanpassing massa verloor. ‘n Massaverlies van tot 20 % is toelaatbaar by droë diere terwyl produksie en veral reproduksie ingeboet sal word as reproduserende diere (d.i. teeldiere voor en tydens paring, dragtige en lakterende diere) te veel massa verloor. Indien hierdie strategie met teelooie gevolg word, sal dit aanleiding gee tot baie lae lampersentasies (26 tot 47 %); hoë lamvrektes; swak lamgroei; toename in boepens-lammers; probleme om lammers markklaar te kry; drastiese afname in wolproduksie en ‘n toename in die getal tenger vagte. Hoe vroeër byvoeding ‘n aanvang neem, hoe minder byvoeding word benodig om die dier te onderhou. Beter resultate word behaal as byvoeding vroeër op ‘n laer peil as later op ‘n hoër peil begin word.
·       Kripspasie hang af van die grootte, getal skape en die hoeveelheid voer wat gevoer word. Indien ‘n klein hoeveelheid voer daagliks gevoer word, moet vir ‘n kripspasie van minstens 15 cm (ideaal is dat alle diere gelyktydig kan vreet, d.i. 30 – 45 cm/dier) per skaap voorsiening gemaak word.
·       Indien hooirakke nie beskikbaar is nie, moet die bale oopgebreek word en oor ‘n wye oppervlakte uitgesit word om diere vrye toegang te gee. In die geval van ronde bale moet dit oopgerol word.
·       ‘n Gedeelte, soms tot 10 %, van die skape sukkel om by droogtevoeding aan te pas (sg. skaamvreters). Hierdie diere moet van die res verwyder word en apart gevoer word. Begin met goeie kwaliteit hooi en gooi mettertyd die graan- of konsentraataanvullings bo op die hooi om hulle te leer vreet.
·       Weens die hoë konsentrasie diere in klein kampies tydens droogtevoeding is daar ‘n geweldige opbou van interne parasiete. Om dit te beperk, moet die diere gedoseer word voordat hulle in die klein kampies geplaas word. Mismonsters van merkergroep diere moet gereeld geneem word om parasietbesmetting te monitor en om te besluit wanneer dosering moet geskied.
·       Bloednier kan ‘n probleem wees tydens droogtevoeding weens die verandering van voeding (bv. van weiding na kragvoer of van laasgenoemde na groenweiding nadat die droogte gebreek is) en diere behoort dus voorkomend geïmmuniseer te word.
·       Vitamien A-tekorte kan voorkom wanneer diere vir langer as drie maande nie toegang tot groenweiding gehad het nie en behoort dus aangevul te word.
 
Byvoeding wanneer voldoende droë weiding of ruvoer nog beskikbaar is
 
·       Dit is belangrik om daarop te let dat skape, al word hulle vir onderhoud gevoer, steeds ‘n gebalanseerde voorsiening van energie, proteïen, minerale en vitamienes moet ontvang. Veral onder spanningstoestande soos tydens droogtevoeding is gebalanseerde voeding noodsaaklik vir die gesondheid van diere en diere wat nog steeds moet reproduseer.
·       Energieryke grane (bv. mielies en kleingrane) moet nooit alleen as enigste byvoeding op droë weiding of saam met droë ruvoer gevoer word nie, want dit versuur die grootpens van die skaap. Sodra die grootpens se pH onder 6.2 val, begin die mikrobes, wat vesel verteer, afsterf. Dit verlaag veselvertering en gevolglik die inname van droë weiding en ruvoer. In sulke omstandighede sal diere min wei en meer geneig wees om by die voerbakke lê. Die voer van grane alleen sal ook geneig wees om tot meer gevalle van geboorteprobleme aanleiding te gee asook swak uierontwikkeling; abnormale dik en taai bies; lae bies en melkproduksie; hoë persentasie lamvrektes en ooie wat lammers weggooi; swak lammers met geboorte en swak lam groei. Vir die beste resultate moet grane altyd saam met proteïenbronne as deel van ‘n goed gebalanseerde lek of rantsoen gevoer word.
·       Sjokoladegraan [200 kg heel grane + 25 kg Voermol Korn Kandy (V1551) + 4 kg voerkalk] kan met welslae as energie-aanvulling vir droë diere en middragtige ooie (maand twee en drie van dragtigheid) tydens droë toestande gebruik word. Dit kan gedoen word op voorwaarde dat daar nog voldoende droë weiding is of droë ruvoer moet addisioneel voorsien word. Sjokoladegraan kan teen 200 tot 300 g/skaap/dag op harde oppervlaktes of in bakke op so ‘n wyse gevoer word dat alle diere gelyktyktydig kan vreet.
·       Wanneer voldoende droë weiding en/of ruvoer (bv. hooi, strooi, mielieblare, ens.) beskikbaar is, moet voldoende proteïen aangevul word om die verteerbaarheid daarvan te verhoog asook die inname daarvan te stimuleer. Die rumenaktiwiteit van die mikrobes kan gestimuleer word deur minstens 15 tot 20 ml/skaap van die volgende mengsel elke twee tot drie weke te doseer: Meng 750 ml asyn met 2 kg bruinsuiker en
4 pakkies suurdeeggis en maak na 5 liter op met water.
·       Droë skape en middragtige ooie (maand twee en drie van dragtigheid) kan tydens droogtetoestande slegs vir onderhoud gevoer word. Een van die volgende aanvullings kan twee tot drie keer per week aan hierdie klas diere gevoer word solank daar nog volop droë weiding beskikbaar is of ruvoer (500 – 1 000 g/dier/dag) kan addisioneel bygevoer word indien weiding skaars of nie beskikbaar is nie:
(1)    Voermol Ekonolek (V11147: is klaargemeng) teen 100 tot 180 g/dier/dag,
(2)    Voermol Winslekkonsentraat (V17865), meng 250 kg Winslekkonsentraat met
100 kg sout en voer teen 100 tot 180 g/dier/dag
(3)    Voermol Super 18 (V355) teen 200 tot 250 g/dier/dag. Indien die inname te hoog is, kan 4 tot 5 kg sout by elke sakkie Super 18 gevoeg word,
(4)    Voermol Proteïenblok (V10448) teen 100 tot 150 g/dier/dag,
(5)    Sjokoladegraan (sien voedingsinstruksies hierbo) of
(6)    Voermol Maxiwolsoutmengsel [400 kg Maxiwol (V4985) + 100 kg sout] teen 125 tot 200 g/dier/dag veral vir wolskape om breekwol te beperk.
·       Vir laatdragtige en lakterende ooie asook jongooie en vir prikkelvoeding van teelooie moet, wanneer daar nog voldoende droë weiding is, deurvloeiproteïen en energie aangevul word. Deurvloeiproteïen sal uierontwikkeling bevorder, bies- en melk-produksie verhoog terwyl dit weidingsinname sal stimuleer. Laatdragtige en lakterende ooie moet daagliks gevoer word. Een van die volgende aanvullings (250 tot
500 g/ooi/dag) kan aan hierdie klas diere gevoer word solank daar nog volop droë weiding beskikbaar is of ruvoer (1 – 1.5 kg/dier/dag) kan addisioneel bygevoer word indien weiding skaars of nie beskikbaar is nie:
(1)    Voermol Maxiwollekmengsel (250 kg Maxiwol + 200 kg gemaalde grane + 50 kg sout),
(2)    Voermol Super 18-lekmengel [160 kg Super 18 + 100 kg Voermol Procon 33 (V8097) + 200 kg gemaalde grane + 5 kg voerkalk + 50 kg sout],
(3)    Voermol Maxiwol Produksiekorrels (V15415: is ‘n klaargemengde lek),
(4)    Voermol Maxiblok (V17424). Ooie wat besig is om te lam en na voerbakke hardloop wanneer voer uitgegooi word, kan so permanent van hulle lammers geskei word wat tot hoë lamvrektes aanleiding gee. Om dit te voorkom, kan Maxiblokke in lamkampe uitgepak word. Nuwe blokke moet uitgesit word voordat die oues heeltemal opgevreet is, die proses van uitsit van blokke moet rustig en kalm geskied terwyl die blokke verspreid in die lamkamp uitgesit moet word. Gedurende lamtyd moet hoogstens 15 ooie per lekblok toegeken word.
(5)    Sjokoladegrane moenie vir laatdragtige en lakterende ooie gevoer word nie omdat dit dieselfde probleme as die voer van grane alleen kan veroorsaak (sien hierbo). Sjokoladegrane kan wel as prikkelvoeding en vir jongooie gebruik word. Vir prikkelvoeding moet byvoeding minstens vanaf vier weke voor paring ‘n aanvang neem vir ‘n periode van minstens agt weke. Die doel is om hulle kondisie te verbeter en hulle in ‘n toestand van massatoename te kry wanneer die ramme bygesit word. Met jongooie moet gepoog word om hulle paringsmassa minstens op 80 % van volwasse massa te kry met paring op 18 maande of so nie kan paring ‘n paar maande uitgestel word indien dit prakties moontlik is.
 
Byvoeding wanneer droë weiding skaars is en geen ruvoer beskikbaar is nie
 
·       Wanneer geen of baie min droë weiding beskikbaar is asook geen hooi of ander ruvoer nie, is die enigste uitweg om na voerkorrels oor te skakel.
(1)               Droë diere moet minstens 500 tot 750 g Voermol Droogtekorrels (V5554)/dier/dag gevoer word. Dit hoef nie daagliks, maar kan twee tot drie keer per week gevoer word.
(2)    Middragtige ooie moet minstens 750 tot 1 000 g Voermol Droogtekorrels/dier/dag gevoer word. Dit hoef nie daagliks, maar kan twee tot drie keer per week gevoer word.
(3)    Laatdragtige en lakterende ooie; jongooie en vir prikkelvoeding van teelooie moet in hierdie omstandighede minstens 1 tot 1.5 kg Voermol Droogtekorrels/ooi/dag gevoer word plus die onderskeie deurvloeiproteïenbevattende lekke wat in die vorige Afdeling vir hierdie klas diere voorgeskryf is. Laatdragtige en lakterende ooie moet daagliks gevoer word.
 
Gevolge van ondervoeding
 
·       Voor en tydens paringBesetting en ovulasietempo neem af indien ooie kort voor die prikkelperiode en tydens paring massa en kondisie verloor wat tot swak besetting en ‘n lae lampersentasie lei.
·       Vroeë dragtigheid (eerste maand van dragtigheid)Afsterwing van bevrugte embrio’s (resorbsie) met ‘n gevolglike lae lampersentasie.
·       Middragtigheid (maand twee en drie van dragtigheid)Afsterwing van fetusse met ‘n gevolglike lae lampersentasie en klein lammers met geboorte.
·       Laatdragtigheid (maand vier en vyf van dragtigheid)Domsiekte; as ondervoeding baie erg is, kan aborsies voorkom; swak uierontwikkeling; lae biesproduksie en breekwol.
·       LamtydSwak lammers met geboorte; geboorteprobleme (lammers met ‘n geel geboortekleed); meer doodgebore lammers; min, geen of taai bies; hoë persentasie ooie wat lammers weggooi en hoë lamvrektes.
·       Laktasie (veral eerste twee tot drie maande)Lae melkproduksie; swak lamgroei; lae speenmassa; ‘n hoë persentasie boepenslammers; ‘n lae lampersentasie met die daar-opvolgende lamseisoen en breekwol.
 
Vroegspeen
 
·         Gedurende droogtetoestande moet ernstig oorweeg word om lammers vroeër as normaalweg te speen. Groeitempo’s van sogende lammers van minder as 100 en 150 g/dag onderskeidelik van klein- en grootraam (bouvorm) ooie verhoog die risiko van lamvrektes.
·       Lammers moet verkieslik nie ligter as 20 kg gespeen word nie. Waar lammers ligter as 15 kg gespeen is, het heelwat vrektes voorgekom. Lammers wat vroeggespeen word, moet kruipvoer voor speen gevoer word en hulle moet dit na speen ontvang totdat hulle ten minste 30 kg weeg. Lammers behoort nie gespeen te word voordat hulle ten minste 250 g kruipvoer/lam/dag vreet nie. Die volgende kruipvoermengsel moet ad lib. gevoer word: 150 kg Voermol SS 200 (V8592) + 150 kg Voermol Procon + 80 kg Voermol Melassemeel (V1995) + 625 kg gemaalde grane.
 
Voerkraalafronding
 
·       Diere wat nie markklaar is nie, moet so gou moontlik afgerond word. Dit is meer ekonomies om diere af te rond en markklaar te kry en te verkoop as om dieselfde kostes oor ‘n langer tydperk te spandeer deur diere vir onderhoud te voer.
·       Een van die mees kritieke faktore wanneer skape afgerond word, is dat die diere geleidelik en stadig op die voerkraalrantsoen aangepas moet word. Tydens die aanpassingsperiode moet daar voldoende vreetspasie wees sodat alle diere gelyktydig kan vreet terwyl ruvoer ad lib. tydens die aanpassingsperiode voorsien moet word.
·       Die volgende volledige afrondingsrantsoen kan met groot welslae gebruik word: 200 kg Voermol SS 200 + 50 kg Voermol Procon + 80 kg Voermol Melassemeel + 550 kg gemaalde mielies of heel gars + 125 kg gemaalde strooi (15 mm partikellengte).
·       Wanneer sjokoladegrane vir afronding gebruik word, moet ruvoer vir die volle afrondingsperiode ad lib. voorsien word. Lammers, veral onder 25 kg, presteer swak op sjokolademielies omdat hulle inname laag is weens die harde pitte. Daarteen gee sjokoladekleingraan, veral gars, beter resulate.
·       Boepenslammers vaar baie swak in voerkrale en neem baie lank om af te rond.
 
Algemene opmerkings
 
·       Droogte dien net een goeie doel en dit is dat dit diere wat swak aangepas is, uitwys. Hulle kan gemerk word en later wanneer hulle kondisie verbeter het, bemark word.
·       Lekke dien slegs as ‘n aanvulling van ‘n beperkende voedingstof of –stowwe tot weiding en is nie ‘n voer nie en word daarom slegs aanbeveel wanneer daar voldoende weiding is of as voldoende ruvoer addisioneel verskaf word.
·       Uitermate hoë lekinnames kan gedurende ‘n droogte voorkom wanneer voldoende weiding of ruvoer nie beskikbaar is nie. Dit is bekend dat diere wat erg verhonger is, veral as hulle vir ‘n tydperk ‘n proteïengebrekkige dieet ontvang het, in ‘n groot mate hulle vermoë verloor om ammoniak na ureum in die lewer om te sit. Selfs baie lae ureuminname kan in hierdie omstandighede toksies wees. Hoë ureumbevattende produkte moet met omsigtigheid in hierdie omstandighede aanbeveel word omdat dit tot ureumvergiftiging kan lei. Maer diere op proteïengebrekkige en skaars weiding moet nie ureumryke produkte gevoer word nie, mits hulle met grane of melassemeel verdun is.
·       Wanneer die droogte gebreek is, moet diere van die weidings gehou word totdat daar voldoende groenweiding beskikbaar is om te voorkom dat die diere agter die groen opslag (green pick) aan hardloop wat tot groot vrektes in die geval van swak diere aanleiding kan gee. Sodra voldoende weiding (minstens 3 cm hoog) beskikbaar is, moet die diere geleidelik oor ongeveer sewe dae daarop aangepas word deur hulle aanvanklik net vir een tot twee uur per dag te laat wei en elke dag die tyd te verleng. Indien diere nie aangepas word nie kan dit tot spysverteringsteurnisse en vrektes lei. Skape moet nie honger wees wanneer hulle finaal op die groenweiding uitgeplaas word nie. Gee dus hulle daaglikse rantsoen voordat hulle laatnamiddag op die weidings geplaas word. Dit is hoogs aanbeveel dat die diere gedoseer word voordat hulle op die skoon weidings geplaas word. Indien maagwerk op die groen sappige weidings voorkom, kan ruvoer indien beskikbaar, addisioneel bygevoer word. Laatdragtige ooie sal waarskynlik aanvanklik byvoeding moet ontvang om domsiekte te voorkom.
 
Indien alternatiewe lekresepte of meer tegniese inligting oor droogtevoeding verlang word, raadpleeg u naaste Voermol Agent of stuur ‘n e-pos aan info@voermol.co.za
 
 
Geskryf deur: dr. Jasper Coetzee, Tegniese Direkteur, Voermol Voere (jasperco@iafrica.com)
 
14 Februarie 2010

Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X