Vra vir Faffa

Dorpers verloor haar/wol

Vraag

Ek het Dorperooie gekoop wat hul hare begin verloor het. Ek het gedip asook ingespuit, soos voorgeskryf, met middels op die mark teen brandsiekte, maar geen reaksie gesien nie.

Antwoord

Vraag:
Ek boer in die Noordwes-provinsie en het gedurende die winter ‘n paar Dorperooie (haartipe) uit die Noord-Kaap aangekoop. Teen einde September het van hulle hul wol/hare begin verloor. Ek het gedip asook ingespuit, soos voorgeskryf, met middels op die mark teen brandsiekte en myte, maar geen gunstige reaksie is gesien nie. Hul verloor nie gewig of kondisie nie, en het nog steeds gesonde eetlus. In hierdie stadium het nog geen van my eie dorpers begin wol verloor nie, maar ek is bang hul steek aan, wat dit ookal kan wees? – Stephan (spf@telkomsa.net)

Antwoord:
Dit is altyd moeilik om ‘n diagnose te maak as ‘n mens nie self die diere gesien het nie en daarom is dit goed om ‘n dier na u plaaslike veearts te neem vir ‘n diagnose.

Vir enige velkondisie is dit altyd nodig om ‘n velskraapsel te neem wat mikroskopies ondersoek moet word. Myte wat jeuksiekte (Psorergates ovis) en brandsiekte (Psoroptes communis ovis) asook skurfte (Sarcoptes) veroorsaak kan geïdentifiseer word. Al hierdie toestande is baie jeukerig en skape sal hulleself teen voorwerpe skuur en byt ook self aan die aangetaste dele. U maak geen melding dat die skape wel hierdie kliniese tekens wys nie. Enige stres of toestande wat ‘n temperatuur reaksie veroorsaak, kan ook die hare laat uitval. Wat ook kon gebeur het, is dat die vorige eienaar nie die skape die vorige jaar geskeer het nie en daar ‘n dik mat van hare gevorm het. Dorpers is dan geneig om hulleself te skuur om van al die hare op die rug ontslae te raak.

Soos u in u vraag geskryf het, het u gedip en ingespuit soos voorgeskryf maar geen gunstige reaksie gekry nie. ‘n Gevolgtrekking wat hieruit gemaak kan word is dat die kondisie wat hier ter sprake is nie deur ektoparasiete veroorsaak is nie.

Omlope (kaal kolle) wat deur swamme veroorsaak word, kan ook haarverlies tot gevolg hê. Hierdie siekteverskynsel kom veral in die Noord-Kaap voor, maar is ook al in die Wes-Vrystaat opgemerk en kom veral by haarskape voor. Die swaminfeksie begin as korsies en word later skubberig. Daarna val die skubbe en hare af en kaal omskrewe kolle ontstaan.

Skape kan gedip word (4 keer met ‘n week tussenpose) in kalkswael. (1 deel in 25 dele water).

Wat egter hier ter sprake mag wees, is dat die diere in die winter ‘n dikker haarkleed gehad het om hulle teen die koue te beskerm. Miskien kom hulle uit ‘n kouer wêreld en verhaar hulle nou omdat dit warmer is in hulle nuwe omgewing (September).

22 November 2005


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X