Vra vir Faffa

Dooie alge in water

Vraag

Vraag: Op een van my damme vorm daar gereeld 'n dik laag dooie alge (ek glo dis alge). Wat kan veroorsaak dat die alge afsterf? Ek het die laag alge daarop gelos omdat ek gevoel het dit beperk verdamping, maar nou sê die veeinspekteur dat dit kan veroorsaak dat daar nie suurstof in die water kom nie. Verder meen hy dat die dooie alge verrot en gifstowwe sodoende in die drinkwater beland wat die oorsaak kan wees dat die beeste dit nie wil suip nie. Vraag: Op 'n skere sinkdam vorm alewig 'n dik laag dooie alge. Waaroor sou hulle vrek? Kan dit veroorsaak dat diere swak produseer? Die wild drink die water vryelik. Ek los dit gewoonlik totdat dit deur die wind afgewaai word, maar nou beweer die buurman dat die tekort aan suurstof wat moontlik ontstaan veroorsaak dat die bees die water nie wil suip nie.

Antwoord

Dooie alge sal afsak na die bodem van die dam. Slegs dooie blougroen alge of eerder cyanobakterieë sal tydelik op die oppervlakte as ‘n skuim dryf. Die ander algspesies begin na afsterwing disintegreer en sak af. Alge op die wateroppervlakte mag soms dood lyk, maar is steeds lewendig. Nie alle alge produseer toksiene nie. Die produksie van algtoksiene of mikotoksiene is meestal beperk tot die cyanobakterieë groep. Hierdie mikotoksiene is toksies vir vee en was al verantwoordelik vir die dood van ‘n volledige kudde melkbeeste. Verder veroorsaak die oormatige teenwoordigheid van alge slegte smake en reuke in drinkwater. Water proe en ruik na “grond” wat deur ‘n organiese stof met die naam “geosmien” veroorsaak word. Dooie alge kan ook sulfiet en ammoniak produseer, wat sleg ruik. Dit kan wees dat die smaak/reuk van die water die vee sal afsit om dit te drink, maar dit is nie noodwendig dat die water ongeskik is vir veesuiping nie.

Suurstoflose water per se is nie skadelik vir diere nie, maar die sekondêre effekte wat dit kan hê, mag skadelik wees. Dit is so dat drywende alge of waterplante wat die wateroppervlakte toemaak, die natuurlike inmenging van suurstof kan beperk. Dit is egter hoofsaaklik die bakteriese afbreekproses van hierdie organiese materiaal (alge en waterplante) wat  verantwoordelik is vir die grootskaalse verwydering van suurstof uit die waterkolom. Hoë konsentrasies organiese stowwe in water kan lei tot suurstof uitputting a.g.v. bakteriese afbreekprosesse en onder kondisies van lae suurheidsvlakke (lae pH) kan dit aanleiding gee tot die mobilisering van swaar metale wat toksies vir vee kan wees.
Voorstel: Verwyder alge deur dit fisies af te skep, of laat die dam vir kort rukke oorloop sodat die drywende alge verwyder word. Garsstrooi is ook ‘n effektiewe natuurlike onderdrukker van alggroei in damme. As u nie garsstrooi kan bekom nie, kan u koringstrooi of ander hooi gebruik. Neem ‘n halwe baal hooi en plaas dit in ‘n skadunet sloop. Die hooi moenie baie styf gepak wees nie, sodat suurstof by die mikroörganismes kan uitkom. Plaas die hooisloop net onder die wateroppervlakte in die dam, en maak die sloop met draad in posisie vas. Indien die diere aan die hooisloop vreet, kan die sloop met ogiesdraad toegemaak word. Die alge sal na sowat 3-4 weke verminder soos wat die mikroörganismes in die hooibaal ‘n organiese molekuul produseer wat die groei van alge inhibeer. ‘n Kilogram hooi behoort effektief vir ‘n 100,000 liter dam te wees. Moenie anorganiese produkte (swaarmetale) vir die beheer van alge in veesuiping water gebruik nie, aangesien dit ‘n uitwerking op dieregesondheid mag hê.
Geskryf deur: Geskryf deur: Kobus du Plessis (duplessisk@envirokonsult.co.za), Direkteur Envirokonsult (www.envirokonsult.co.za
29 Julie 2010
      Lees ook:

Kommentaar

Kommentaar (2) “Dooie alge in water

  1. Kotie Nagel
    Kotie Nagel

    wil weet bly op plot in pretoria omgewing en in ons drink water wat uit tenk kom is sulke groen slyk het dit enige gesondheid resikos vir ons as mens ,Het eienaar al gese. Het pyp net kraan uit gehaal en rukkie laat loop en toe weer in gesit wat kan ons doen dat hy pyplyn vervang dankie vir u terug voer

  2. Danie Buys
    Danie Buys

    Kan mens gewone veld gras strooi in die plek van gars en koring strooi gebruik, vir die beheer van alge in n besproeiings dam.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X