Vra vir Faffa

Dink nuut oor weiveldbestuur

Vraag

Veldweiding is en bly die goedkoopste voerbron vir die dier en daarom moet dit ten alle koste beskerm, bewaar en volhoubaar benut word. Hierdie aanhaling is vir my baie belangrik maar hoe voer ek dit in die praktyk uit?

Antwoord

Dink nuut oor weiveldbestuur 

Veeboerdery is lankal nie meer ‘n bedryf wat bloot deur oorlewing van geslag na geslag oorgedra word nie.  Met die snel veranderende tegnologie, produksie verwagtinge en ekonomiese druk, het veeboerdery oor die afgelope dekade of twee tot ‘n sensitiewe wetenskap of besigheid ontwikkel.  Dit gaan nie meer net oor hoeveel beeste of skape die veeboer aanhou nie, maar hoeveel vleis of wol per hektaar geproduseer word – uiteindelik hoeveel rand en sent wins per hektaar gegenereer word. 

Veeboer, hou altyd in gedagte dat ‘n plant wat bewei word ‘n tweeledige funksie moet vervul.  Die plant moet in sy eie behoeftes, en boonop nog in die behoeftes van die weidende dier voorsien.  Eersgenoemde funksie word baie keer deur boere misgekyk en daar word net op die dier gekonsentreer.  Dit is ‘n feit soos ‘n koei dat indien vee wei, het dit ‘n nadelige uitwerking op grassoorte. Veld moet rus om te herstel.

Die tradisionele uitdagings van die ekonomie en volhoubare produksie is steeds daar te midde van internasionale mededinging, wisselende ekonomiese toestande en wisselvallige klimaat. Hierdie uitdagings noodsaak die veeboer om nuut te probeer dink en planne te beraam om maksimum wins op sy plaas te probeer genereer. Wat spesifiek weiveld aanbetref moet die strewe wees om die weiplant so groeikrag so hoog moontlik te probeer hou sonder dat veld agteruitgang sal plaasvind.

Alhoewel ontblaring van weiplante as normale verskynsel binne die funksionering van die weidingekosisteem beskou kan word, moet dit tog met omsigtigheid hanteer word, aangesien dit die produktiwitet van die weidingekosisteem aansienlik kan beinvloed.  Hier word veral die intensiteit (hoe straf) en frekwensie (hoe gereeld) van ontblaring bedoel. Dit is ook belangrik om ingedagte te hou dat wortelgroei by weiplante nie naastenby teen dieselfde tempo as bogrondse plantdele na beweiding herstel nie. Die nuutste gedagte rondom effektiewe en volhoubare weiveld benutting is juis gegrond rondom die wortelstelsel se optimale funksionering binne ‘n weidingbestuurstelsel. “n Veel langer rustyd as wat op die oog af nodig lyk, word hiervoor vereis. Sou dit nie toegelaat word nie, sal weiveld met swak verspreide wortelstelsel ‘n boer des te meer aan mens-gemaakte droogte uitlewer.

Hoewel navorsers meen dat wisselbeweiding beter is vir die veld as aanhoudende be­weiding, besef hulle eweneens dat die bestuurder en/of die veeladings selfs ‘n belangriker rol in die stelsel mag speel. Veldweiding is en bly die goedkoopste voerbron vir die dier en daarom moet dit ten alle koste beskerm, bewaar en volhoubaar benut word.

Vir die volledige antwoord klik op onderstaande aanhangsel.

Geskryf deur:

Prof Hennie Snyman

Departement Vee-, Wild- en Weidingkunde

Universiteit van die Vrystaat

snymanha@ufs.ac.za

23 Julie 2017

 


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X