Vra vir Faffa

Diere wil nie water uit krip drink nie

Vraag

Ons boer in die Karoo, Hanover, met Merinoskape. Ons het ‘n baie snaakse situasie in die een kamp. Die skape wil nie die water uit die krip drink nie. Ons het al die krip en alle pype verander, maar nog steeds drink hulle nie die water nie. Die water kom van een windpomp af na ‘n tenk vanwaar dit na 3 krippe in verskillende kampe gaan. Net die skape in die een kamp wil nie drink nie. As ons die skape deurjaag na die krip in die ander kamp, dan drink hulle die water, maar hulle wil nie uit die krip in eie kamp drink nie. Ons het al die water laat toets en die uitslag is dat dit totaal goed is vir menslike en dierlike gebruik. Ons vermoed dat daar dalk ‘n plant in die kamp voorkom. Nadat hulle die plant geëet het en dan kom water drink, die plant op een of ander manier ‘n reuk afgee in die water en dan wil hulle nie weer daarvan drink nie Hulle sal eerder rondom die krip staan, net aan die water ruik en hulle koppe skud, maar drink wil hulle nie drink nie en natuurlik is dit net ‘n paar dae dan moet hulle uitgehaal word. Dit is veral die jonger skape wat nie wil drink nie. Het u dalk enige idee wat die oorsaak kan wees?

Antwoord

Ek het hierdie probleem al verskeie male teengekom.

Twee boererate het soms gehelp:

Gebuik swembadchloorpille, draai die pil in aluminiumfoelie toe en skeur ‘n gaatjie in sodat die chloor stadig vrygestel word.

Bind ‘n gerf hawer of koringstrooi met tou vas en anker dit onder die water met ‘n klip naby die inloop.

Moet asseblief nie vra hoekom dit werk nie, ek weet nie.  Beide dien as ontsmetting en kan dalk ‘n reuk of smaak wegsteek?

Die boere in Britanje sit blykbaar bale koringstrooi in riviertjies en damme om die water se smaak te verbeter. Die strooi het blykbaar ‘n natuurlike beskerming teen swamme en bakterieë.

Ek het ‘n perdeboer gehad wat ook so ‘n probleem met perde op stal gehad het wat weier om water te drink.  ‘n Geohidroloog het toe met masjiene ‘n sterk magnetiese veld aan die een kant van die ry stalle gevind.

Ons het dit ook met ‘n kompas bevestig, maar ek kan gladnie verklaar hoe dit die water se smaak affekteer nie.

Laat weet asseblief as jy die oplossing kry.

Geskryf deur: Dr. Johan A van Rooyen M.Med.Vet., M.B.A., M. in Sust. Agric., PGDTE

Veterinêre Spesialis Praktisyn (Kleinvee) sdh01@telkomsa.net

27 Augustus 2017

 

 


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X