Vra vir Faffa

Diere het krake in hulle kloue

Vraag

Ek boer in ‘n sanderige area en sukkel baie met krake in die diere se kloue. Wat kan ek doen om dit te voorkom? Speel voeding ‘n rol of is dit die sandveld? Somtyds word die bulle kruppel daarvan.

Antwoord

Daar moet eerstens seker gemaak word of die kloue bars omdat hulle te lank is.  In hierdie sanderige gebied is dit standaardpraktyk om skape se kloue twee keer per jaar te knip omdat daar nie klippe is wat die kloue afslyt nie. Te lang kloue kan bars of breek en tot kruppelheid aanleiding gee.

Spoorelemente moet in hierdie gebied op ‘n tweeledige wyse aangevul word, naamlik via ‘n gepaste lek en tweedens moet organiese spoorelemente via ‘n inspuiting of dosering twee maal per jaar vir ooie aangevul word, een maand voor paring en weer een maand voor lam; ramme elke drie maande en lammers met speen en daarna elke drie maande tot opname in kudde of bemarking.  Deur van tyd tot tyd lewermonsters te neem en vir spoorelemente te laat ontleed, kan vasgestel word of die aanvullingsprogram doeltreffend is. Dit is bekend dat beide ‘n sink- en biotientekort tot klouprobleme aanleiding kan gee.

Elke keer wanneer die skape organiese spoorelemente gespuit of gedoseer word, moet  Vitamien A en E ook aangevul word.

Geskryf deur:

Dr. Jasper Coetzee

Jasper Coetzee Consulting

Pr.Sci.Nat. (Anim.Sci.) Ph.D. (Agric.) Stell.

Professionele Veekundige (400328/83)

Skaapvoeding- en Bestuurspesialis Konsultant

Adres: Posbus 12022, Die Boord, 7613

E-pos: jasperco@iafrica.com

Sel: 076 846 8800

10 Mei 2015

Hier volg die antwoord uit ‘n Hoefsmid se perspektief.

Ek stem saam met dr. Jasper wat die voeding en lang kloue betref.

Ek wil net graag iets noem oor die omgewingsfaktore wat die persoon ook oor navraag gedoen het.

Eerstens moet daar onderskei word tussen horisontale en vertikale krake.

Horisontale krake ontstaan a.g.v. hoë koors of stres. Koeie kry dit gewoonlik met moeilike kalwing. Dit is dieselfde verskynsel as koorsringe by perde en wolbreuk by skape.

Ek vermoed dat die vraesteller na vertikale krake verwys aangesien daar van bulle gepraat word. Dit word sandkrake genoem. Omgewingsfaktore speel ‘n baie groot rol hierin en in hierdie spesifieke geval word daar na Sandveld verwys.

‘n Bees se klou het ‘n sagte plekkie op die hoef net onder die haarlyn. Dit word die hoefsoom of op Engels “periople” genoem. Die doel van die hoefsoom is om vog en olie via die dun strooitjie-agtige buisies (“tubilurs”) in die klou in te voer sodat die klou beweeglik en vogtig bly. Dit is baie belangrik vir klougesondheid.

Indien die hoefsoom uitdroog a.g.v. die droë en skurwe sanderige omgewing, kan daar vertikale krake ontstaan. Die krake ontwikkel altyd naby aan die haarlyn. Soos wat die klou groei, ontwikkel die letsel in een lang vertikale kraak van bo na onder. Indien die kloue baie lank is, sal die kraak van onder na bo ontwikkel.

In die natuur loop ‘n buffel of ‘n bok binne in ‘n rivier of dam in as hulle wil water drink. Dit voed ook die kloue met vog d.m.v. diffusie. In vandag se super higiëniese toestande met krippe wat nie lek nie, kry die beeste se voorste kloue baie min geleentheid om bevogtig te word.

Gaan kyk gerus op www.dairysmid.com,  daar is baie mooi foto’s van die verskillende tipes krake. Daar is ook ‘n indeks met foto’s van al die algemene hoeftoestande.

Sommige telers vermoed dat krake ook ‘n genetiese verskynsel  kan wees. My persoonlike opinie is dat dit ’n kombinasie van voeding en omgewingsfaktore is.

Geskryf deur: Jaco de Bruin (Bees Hoefsmid), Dairysmid.

0828546970

jaco.debruin@dairysmid.com

www.dairysmid.com

31 Mei 2015

 


Kommentaar

Een kommentaar op “Diere het krake in hulle kloue

  1. Stephan
    Stephan

    Vertikale krake indie hoef wat voedings verwant is soos Dr. Jasper genoem het kan spruit uit spoormineraal tekorte spesifiek Koper, Sink, Selenium en Molybdenum en n vitamien tekort aan Vitamien E en Biotin, wat n intergrale rol speel met hoef ontwikkeling.

    Die vorm en grootte van die hoef saam met die liggaamskondiesie van die dier kan ook n rol speel. Indien die dier se liggaamskondisie te goed is, dus baie swaar is, en daar meer druk op die hoewe uit ge-oefen word kan dit lei tot vertikale krake indie hoef, veral as dit n swak gevormde hoef is. Hoewe wat varieer in grootte en vorm van n normale hoef, weens n voedings steurnis, is meer geneig om abnormale stress en druk te ervaar as n normal gevormde hoef en dus vertikaal te kraak.

    Buiten n spoormineraal tekort of vitamien tekort kan n voeding steurnis soos asidose wat laminitis tot gevolg het ook n rol speel by abnormal gevormde hoewe.

    Stephan van der Westhuizen
    Tegniese Adviseur: Suiwel
    De Heus: Klerksdorp
    swesthuizen@deheus.com


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X