Vra vir Faffa

Diere deur weerlig doodgeslaan

Vraag

Hoe kan bepaal word dat diere weens weerlig dood is?

Antwoord

Diere kan beseer of gedood  word deur hoë spanning elektriese strome a.g.v. weerlig, kragdrade wat op die grond lê, foutiewe elektriese bedrading of deurdat hulle aan elektriese drade kou.

Vrektes a.g.v. weerlig is seisoenaal en is geneig om in sekere geografiese gebiede voor te kom.

Indien na die oorsaak van die dood gesoek word, moet daar versigtig gewerk te gaan word, want die bron van elektrifisering mag dalk nog aanwesig wees.

Die ligging van die diere moet ondersoek word en nadoodse ondersoeke moet deur ‘n veearts van al die diere gedoen word indien daar eise vir assuransiedoeleindes ingedien gaan word.

Bome met groot wortelstelsels wat net onder die grond loop, is geneig om meer deur weerlig raak geslaan te word. Sulke wortels kan dan ‘n groot area elektrifiseer, veral as die grond klam is. Indien daar nog ‘n poel water bokant die wortels is, kan die ook geëlektrifiseer wees. ‘n Geteelde voor kan ook die elektriese stroom oor ‘n distansie gelei.

Afgewaaide geleidingsdrade kan ook poele water, heinings en geboue elektrifiseer wat mense en diere kan skok as hulle daarmee in aanraking kom. Daar is verskille in die geleidingsvermoë van grond. In dalende rangorde is daar leem-, sand-, klei-, marmer- en kalkgrond, wat elektrisiteit gelei, met klipperige grond wat elektriese stroom nie gelei nie.

Waar foutiewe bedrading gedoen is, kan toevallige elektrifisering van bv. skure, stalle en  pypreëlings voorkom.

Dood deur elektriese skok geskied gewoonlik deur hart- of asemhalingversteuring. Die hart se ventrikels gaan in fibrillasie en waar die sentrale senuweestelsel betrokke is, word asemhaling en ander lewensbelangrike stelsels aangetas.

Kliniese tekens

Verskillende grade van elektriese skok kan voorkom. In die geval van elektrifisering deur weerlig is vrektes oombliklik en val die dier neer sonder om te spartel. Dit gebeur soms dat diere bewusteloos is maar na ‘n paar minute of ure herstel. Daar mag ook senuweetekens soos depressie, verlamming, oppervlakkige oorgevoeligheid en blindheid teenwoordig wees. Hierdie tekens mag na ‘n tydperk verdwyn of permanent wees.

Skroeimerke en beskadiging van die karkas mag teenwoordig wees. Kyk ook na beskadiging van die onmiddellike omgewing wat teenwoordig mag wees. Omtrent in 90% van gevalle waar weerlig die oorsaak is, sal hierdie tekens gevind word. Waar diere op geëlektrifiseerde grond staan, is hierdie tekens gewoonlik nie gevind nie. Skroeimerke is gewoonlik lynvormig en word baie keer aan die binnekant van die bene gesien. As die vel afgeslag word, kan ‘n boomagtige patroon van gevulde aartjies gesien word. Kleiner diere soos bv. varke kan deur geëlektrifiseede waterbakke en voerbakke onmiddellik doodgeskok en selfs gegooi word deur die skokreaksie. Hulle mag ook verlam wees en selfs beenbreuke opdoen a.g.v. spiersametrekking.

Diagnose

Die diagnose word dikwels deur omstandigheidsgetuienis gemaak bv. erge weerlig, ligging van die dier, afwesigheid van ‘n siekteproses, dier(e) lê onder ‘n boom, naby ‘n heining of paal. Tekens van skade aan ‘n boom of voorwerpe kan ook help met die maak van ‘n diagnose. Die herkouer blaas ook gewoonlik baie gou op. Voer mag dalk nog in die dier se bek sit.

Dikwels moet die dier(e) deur ‘n veearts ondersoek word vir ‘n assuransie eis. Moet dus nie die diere verskuif of die omgewing versteur waar die vrektes plaasgevind het nie.

Bron: The Merck Veterinary Manual, Tenth edition, 2010ISBN 0-911910-93-X

Geskryf deur: dr. Faffa Malan, Veeartskonsultant (dokfaffa@nashuaisp.co.za)

19 Februarie 2014


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X