Vra vir Faffa

Die welsyn van lewende hawe ook tot voordeel van boere

Vraag

Watter voordeel is daarin om goed na die welsyn van jou diere te kyk?

Antwoord

Die welsyn van lewende hawe ook tot voordeel van boere

Sommige boere meen dalk dat die welsyn van hul lewende hawe ’n lastige ekstra item is wat by ’n lang lys ander, belangriker take op die plaas gevoeg moet word. Maar dis nie die geval nie. Laat ons dit maar weer sê: diereproduksie en die welsyn van lewende hawe gaan hand aan hand en albei dra by tot die plaas se winste. Diereproduksie word slegs aan die uiterstes van diereproduksie gekompromitteer; gelukkig verstaan, aanvaar en implementeer verreweg die meeste boere in Suid-Afrika die konsep van ‘n gebalanseerde dier wat vir volgehoue en aanvaarde produktiwiteit sorg.

Deur uiterstes te vermy, het ons of kan ons skape teel wat by hul omgewing pas en wat tevrede op die plaas lewe. Oor meer as vier dekades het ek gesien dat feitlik alle skaapboere sonder twyfel vir hul skape omgee en dat die meeste trots is oor hoe hul skape lyk en presteer. Dis net ’n minderheid wat afbreuk doen aan die beeld van lewendehaweboere en ons moet doen wat ons ook al kan om die welsyn van hul diere ook te beskerm.

Verbruikerpersepsies is van die uiterste belang. Dus moet ons seker maak dat mense skaapboerdery en wol- en vleisprodukte as omgewingsvriendelik, eties aanvaarbaar en heilsaam vir die verbruikers sien.

Maak seker dat ons voldoen aan die riglyne

’n Uitstekende beginpunt vir wolboere is die NWKV se kode vir beste praktyk. Lees dit, ken en pas dit toe – dit bevat die wolbedryf se eie riglyne wat die koördineringskomitee vir die welsyn van lewende hawe (LWCC) onafhanklik  vir die implikasies vir dierewelsyn beoordeel het. Dit verteenwoordig dus konsensus wat in enige ondersoek gewig sal dra.

Die kode verskaf riglyne oor watter plaasprosedures (soos kastrering) uitgevoer mag word, asook wanneer en hoe dit gedoen mag word. Alternatiewe metodes kan beskryf word, maar elkeen hou sekere risiko’s in as die prosedure nie korrek uitgevoer word nie en hierdie risiko’s moet dus verreken en vermy word. As boere voldoen aan al die aanbevelings in hierdie kode, voldoen hulle waarskynlik ook aan die meeste vereistes vir dierewelsyn.

Wat meer kan gedoen word?

Dit sal jou loon om die boerderystelsel vir lewende hawe, wat gebruik word deur ’n onafhanklike en kundige buitepersoon soos die plaaslike veearts, te laat evalueer. Die boer kan dan sien waar hy of sy verbeterings kan aanbring.

Kom ons vat weer kastrering as ’n voorbeeld. Die testes vervaardig die natuur se eie groeihormoon (testosteroon) wat ook karkasse maer hou – so hoekom hulle verwyder as die ramlammers verkoop moet word of afsonderlik moet wei voordat hulle op vier of vyf maande seksueel volwasse is?  Elke slag dat ons vermybare risiko verlaag, verbeter ons dierewelsyn.

Ons moet bewus wees van welsyn en welsynaktief wees om te voldoen aan die plig van sorg wat op alle diere-eienaars rus. Nadat ons die onlangse wydverspreide en knellende droogte beleef het, moet ons almal seker maak dat daar ’n doeltreffende plan is om, wanneer ’n droogte weer toeslaan, die uitwerking daarvan tot die minimum te beperk. Geen dier moet ooit toegelaat word om van die honger te vrek nie – dit is moreel onaanvaarbaar en boonop beteken dit finansiële selfmoord.

As daar boere in ’n spesifieke distrik is wat nie aan hul lewende hawe behoorlike sorg gee nie, moet die plaaslike vereniging hierdie boere nader met die oog daarop om die situasie tot hul eie voordeel en dié van die boeregemeenskap te verbeter. Daar durf nie toegelaat te word dat ’n klein minderheid die meerderheid, wat reg optree, se naam beklad nie – as oorreding en bystand misluk, kan die NDBV gekontak word om ondersoek in te stel, aangesien dit in hulle mag is om dit te doen en om remediërende optrede aan te dui. Slegs as ’n laaste uitweg is regsoptrede dalk nodig.

Huidige optredes

Die skaapbedryf het rede om trots te wees oor talle verbeterings wat oor jare aangebring is. Daar is ’n standaard vir die vervoer van lewende hawe en ’n omvattende stelsel om diere by abattoirs te hanteer, asook ’n standaard vir die verkoop van lewende hawe en veilings.  Daarbenewens is daar voorsiening vir dierewelsyn in die  wetsontwerp oor die skut van diere wat wag om gepromulgeer te word.

’n Goeie voorbeeld van ’n bedryfsinisiatief wat geneem is, is die uitfasering van die verwydering van velplooie (mulesing) in wolskape, dermate dat Cape Wools SA tans verklarings van meer as 99% van wolverskaffers kry dat hul diere nie aan hierdie praktyk onderwerp is nie. Twee dekades gelede het boere die advies aanvaar van dierewetenskaplikes dat hulle aktief teen diere moes selekteer wat geneig is om brommers om hulle te hê. Die gevolg is dat bykans alle boere dit onnodig vind om velplooie te verwyder (mulesing toe te pas). Dit is tot voordeel van die skaap wat nie die risiko en pyn beleef nie, maar ook van die boer wie se wol deur kopers as welsynvriendelik beskou word.

Wat van die toekoms?

Ons hier in Suid-Afrika het ons deur die LWCC  daartoe verbind om dierewelsynstandaarde minstens net so hoog te stel as dié wat deur die OIE, die internasionale liggaam vir beide dieregesondheid en -welsyn gestel word.  Dit beteken dat ons moet verseker dat OIE-standaarde realisties en universeel haalbaar is en nie net gemik is op ontwikkelde lande in die Noordelike Halfrond nie.

Iets waarop almal moet let, is die neiging dat ons wegbeweeg vanaf ‘n insetgebaseerde na ‘n uitsetgebaseerde meting van welsynsaangeleenthede. Dit beteken dat sukses gemeet word deur die resultate wat behaal word, eerder as deur die maatreëls wat geneem word om welsyn te bevorder. Kom ons vat ’n konkrete voorbeeld:  by mankheid word die mate van sukses hoofsaaklik bepaal deur die getalle, duur en erns van mankheid in ’n kudde, eerder as dit wat gedoen is om die omvang en impak van mankheid te beperk, soos voetbaddens, behandelings of immuniserings.

Self glo ek dat albei aanwysers belangrik is. Boere kan daarvan seker wees dat die LWCC  hul belange op die hart dra. Dit is ook die geval onder verteenwoordigers van organisasies soos die NWKV, die Suid-Afrikaanse Sybokhaarkwekersvereniging (Samga), die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO), die Melkprodusente-organisasie (MPO) en ander wat wil verseker dat die welsyn van lewende hawe beide diere en boere bevoordeel.

Geskryf deur: Professor Gareth Bath, emiritus professor, Universiteit van Pretoria.

Artikel soos verskyn het in Wolboer/Wool Farmer, Vol. 5 Nr. 3.

Prof. Bath is ook die voorsitter van die Lewende hawe, welsynskoördinerende komitee.

Besoek hierdie webblad vir waardevolle inligting.

http://lwcc.org.za/

 

 

26 Augustus 2017


Kommentaar

Een kommentaar op “Die welsyn van lewende hawe ook tot voordeel van boere

  1. Danie
    Danie

    Ek wil net weet wat word gedoen aan boere wat bul kallers van n dag oud doidskiet oor hulle verse soek en nie bull kallers nie. Hul skiet eenvoudig die kalf dood en gooi hulle in n gat. Dit is wreed en onmenslik om so iets te doen. By wie gaan lê ek n klag teen die boer.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X