Vra vir Faffa

Die terminologie: Ram-, Lam- en Ooipil is verkeerd

Vraag

Waarvoor gebruik 'n mens die Ram-, Lam- en Ooipil? Dit kan mos nie gebruik word vir 'n ram, 'n lam en 'n ooi nie, of is die benaming net misleidend?

Antwoord

Die terminologie Ram-, Lam- en Ooipil is nie net misleidend nie, maar ook verkeerd, want hierdie drie klasse diere se voedingsbehoeftes verskil hemelsbreed, want ‘n ram moet hoofsaaklik semen produseer; ‘n lam moet spiere groei en ‘n ooi moet melk produseer. Ek gebruik dus nooit die naam Ram-, Lam- en Ooipille nie. ‘n Voedingskundige wat dit so aanbeveel, ken beslis nie sy vakgebied nie. Net soos ‘n vleisbeeslek nie geskik is vir ‘n skaap nie, net so is ‘n Ram-, Lam- en Ooipil nie geskik vir beide ramme, ooie en lammers nie. Daar moet wegbeweeg word van die gebruik om een lek of rantsoen vir alle klasse diere te maak. Net soos die dieet van ‘n liggaamsbouer totaal verskil van dié van ‘n naelloper, so verskil rantsoene vir diere gedurende verskillende fisiologiese stadiums of tussen diere wat verskillende produkte (bv. vleis, wol en melk) produseer. 

In die geval onder bespreking moet daar minstens drie soorte voerkorrels, naamlik Ramkorrels; Lamkorrels en Ooikorrels gevoer word. Dit is egter beter om hierdie onderskeie korrels se naam te omskryf volgens die doel waarvoor dit aangewend word, naamlik:
·       In die geval van Ramkorrels kan daar dus Ramprikkelkorrels (vir prikkelvoeding van ramme vanaf twee maande voor die paarseisoen); Ramgroeikorrels (vir uitgroei van jongramme) of Ramonderhoudskorrels (wat vir teelramme in die afseisoen gevoer word) wees. Hierdie korrels moet ammoniumchloried bevat om blaassteenvorming by ramme te voorkom.
·       Lamkorrels word meestal Lamkruipkorrels of Lamgroeikorrels genoem en word vanaf 10 dae ouderdom tot speenouderdom gevoer vir die vinnige en optimale uitgroei van sogende lammers sodat hulle vroeër gespeen en bemark kan word.
·       Ooikorrels word dikwels Lammerooikorrels genoem en word vir laatdragtige ooie vanaf ses weke voor lam gevoer vir die ontwikkeling van die uier en ongebore lam (fetus) asook vir lakterende ooie om ‘n hoë melkproduksie te verseker.
 
Geskryf deur: dr. Jasper Coetzee, Tegniese direkteur. Voermol Voere (jasperco@iafrica.com)
 
15 Januarie 2011

Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X