Vra vir Faffa

Die SAVR se beleid oor stertafsit in honde

Vraag

Wat is die Suid-Afrikaanse Veterinêre Raad (SAVR) se beleid oor die stertafsit van honde?

Antwoord

 

Die Suid-Afrikaanse Veterinêre Raad se beleid oor die stertafsit van honde
Inleiding
Die Suid-Afrikaanse Veterinêre Raad (SAVR) is die statutêre liggaam wat die veeartseny- en para-veeartsenyprofessies reguleer. Die SAVR word deur die Veeartseny- en Para-veeartsenyprofessies Wet van 1982 bemagtig om die professionele standaarde van hierdie professies vas te stel en te onderhou. Alle veeartse wat as veearts wil praktiseer, word deur die wet verplig om by die SAVR te registreer. Die Raad is verbind tot die bevordering van die gesondheid en welsyn van alle diere.

Die Suid-Afrikaanse Veterinêre Vereniging (SAVV) daarenteen is ‘n professionele organisasie met ‘n vrywillige lidmaatskap. Die SAVV word amptelik verteenwoordig op die SAVR.

Wat is stertafsit?

Stertafsit is die amputasie van ‘n hondjie se stert op verskillende lengtes om te voldoen aan die aanbevelings van die betrokke ras se standaard. Dit behels die amputasie van ‘n hondjie se stert met ‘n skêr of skalpel. Soms word rekkies gebruik, alhoewel hierdie gebruik nooit deur veeartse aanbeveel is nie. Die sny gaan deur hoogs sensitiewe senuwees in die vel, kraakbeen en been. Hierdie prosedure word gewoonlik sonder narkose of met lokale verdowing op ouderdom 3 tot 5 dae gedoen. ‘n Klein getal honde word natuurlik sonder sterte gebore.

Wat sê die SAVR oor stertafsit?
Die SAVR het besluit dat die afsit van hondjies se sterte deur veeartse vanaf 1 Junie 2008 nie meer goedgekeur word nie.

Die redes vir die besluit is as volg:

Stertafsit, selfs al word dit met lokale verdowing gedoen, veroorsaak stres en pyn by hondjies. Onlangse navorsing oor pynbeheer toon aan dat hondjies selfs op ‘n paar dae ouderdom reeds ‘n volledig ontwikkelde senuweestelsel en ‘n goedontwikkelde pynsensasie het. Soms het stertafsit ernstige komplikasies soos bloeding, infeksie en selfs die dood. Later in hul lewe kan komplikasies soos neuromaformasie ook voorkom.

Stertafsit hou geen voordeel in vir die hond nie. Tradisioneel het sommige telers stertafsit as noodsaaklik beskou vir die hond om sy werk te kan doen. Vandag word baie van hierdie werkshonde as troeteldiere aangehou en slegs ‘n klein persentasie werk nog, wat ‘n ontspanningsaktiwiteit vir mense is en nie ‘n noodsaaklike funksie nie. Indien honde van rasse wat gewoonlik sterte afsit die sterte aanlos, sal hulle nie meer stertbeserings opdoen as ander rasse nie. Honde benodig hul sterte vir balans en liggaamstaal.
Indien ‘n prosedure pyn veroorsaak en geen onmiddellike of toekomstige voordeel vir die dier inhou nie en tot komplikasies kan lei, is dit onnodig en moet dit nie uitgevoer word nie.

Die geskiedenis van stertafsit:

Die praktyk om sterte af te sit het honderde jare gelede begin, toe mense baie minder begaan was oor diere se welvaart as vandag. Dit is gedurende die Middeleeue algemeen in Brittanje en Wes-Europa gebruik. Baie teorie? is voorgestel waarom die gebruik begin is. Dit sluit die voorkoming van hondsdolheid of rugbeserings, verbetering van spoed en voorkoming van stertbeserings in gevegte in. Sommige rasse word weens genetiese abnormaliteite sonder ‘n stert of met ‘n stompie gebore. Normale werpsels van hierdie rasse se sterte word afgesit om die ras ‘n eenvormige voorkoms te gee. Vandag is daar geen regverdiging vir die afsit van sterte nie.

Hoe voel veeartse oor stertafsit?
Baie veeartse sit sterte nog teensinnig af om seker te maak die prosedure word tenminste deur ‘n veearts met die minimum pyn en lyding vir die hondjies uitgevoer. Sommige veeartse weier om dit te doen weens welsynredes, terwyl ander veeartse bereid is om dit steeds te doen. Die meeste veeartse keur dit af.

Wat die besluit beteken:
Veeartse wat sterte afsit, behalwe vir medies regverdigbare redes, is blootgestel aan vervolging onder die Dierebeskermingswet no 71 van 1962. Veeartse wat onder hierdie wet skuldig bevind word, sal outomaties deur die SAVR onder die Veterinêre- en Para-Veterinêre Wet, 1982 ondersoek word vir onprofessionele gedrag
   
Die Nasionale Vereniging van Dierebeskermingsverenigings (NDBV) as liggaam wat verantwoordelik is vir die toepassing van die bepalings van die Dierebeskermingswet 1982, het in die verlede nie die betrokke klousule toegepas nie aangesien die SAVR die prosedure in die verlede goedgekeur het. Dit het ‘n wetlike skuiwergat geskep wat die suksesvolle vervolging van enige persoon op grond van die Dierebeskermingswet  onwaarskynlik gemaak het. Met die SAVR se besluit het dit egter nou verander. Alhoewel die SAVR se besluit slegs veeartse direk raak, sal ander persone wat die prosedure uitvoer ook blootgetel wees aan vervolging onder die Dierebeskermingswet.

Waarom het die SAVR niks gesê oor die stertafsit by skape nie?
Die SAVR het veeartse versoek om hul mening te gee oor alle prosedures soos stertafsit by ander spesies, onthoring, verwydering van stembande en die ekstra toon en ander soortgelyke prosedures. Elkeen van hierdie prosedures het risiko’s en voordele, wat almal deeglik deur die SAVR oorweeg sal word voordat ‘n prosedure goedgekeur sal word. Indien ‘n voordeel die nadele vir die dier oorheers, is dit in die dier se beste belang dat die prosedure uitgevoer word. Indien dit egter geen voordeel of ‘n baie klein voordeel in vergelyking met die risiko’s inhou, behoort dit nie gedoen te word nie. Stertafsit by skape word om verskillende redes as by honde gedoen en kan daarom nie oor dieselfde kam geskeer word nie.

Hoe kan u help:
U kan die SAVR help om die besluit toe te pas deur die volgende te doen:
Moenie hondjies sonder sterte koop nie.
Dring daarop aan dat die teler by wie u koop nie die sterte afsit nie.
Moedig u hondeklub of organisasie aan om op te hou om stertafsit te ondersteun.

Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X