Vra vir Faffa

Diarree in beeste

Vraag

'n Leser vra wat die oorsaak van diarree in beeste kan wees en een van ons kundiges help.

Antwoord

Vraag:
Wat kan die oorsaak wees vir ‘n bees met diarree?

Antwoord:
Laksering of maagwerking is nie op sigself ‘n siekte nie, maar ‘n kliniese teken van ‘n onderliggende siekte of toestand..

Diarree in beeste
Laksering of maagwerking is nie op sigself ‘n siekte nie, maar ‘n kliniese teken van ‘n onderliggende siekte of toestand.
Die konsistensie en kleur van die laksering kan baie verskil: dit kan dun en waterig wees, bloederig, slymerig of swart en teeragtig wees.
As die ontlasting sigbare spikkels of klonte bloed bevat, dui dit op ontsteking of bloeding in die agterste gedeelte van die derm. Die bloed word dus onverteerd met die ontlasting uitgeskei. In erge koksidiose besmetting by kalwers word dit dikwels gesien.
Swart, donker en teeragtige ontlasting, is ‘n aanduiding dat bloeding ver voor in die derm plaasvind en dat die bloed verteer is voordat die mis uitgeskei word.
Dun, waterige ontlasting is gewoonlik ‘n aanduiding dat die ontsteking nie so straf is nie en die oorsake mag selfs iets anders as ‘n ontsteking wees bv. ‘n draad of vreemde voorwerp kan deur die wand van die ruitjiespens in die hartsak insteek en swelsel van die dunderm
veroorsaak.
Daar is vele oorsake van diarree in beeste. Hieronder word net ‘n opsomming gegee van die belangrikste oorsake.
 
Siektes wat diarree veroorsaak met letsels in die bek
 
Runderpes
Virussiekte
Voorkoms veral in areas waar runderpes voorkom. Laaste uitbreking in Suid-Afrika was 1901. 5,25 miljoen diere Suid van die Zambezirivier het gevrek.
Kom voor in jong en volwasse beeste. As siekte uitbreek, versprei die siekte vinnig, tot 90% van vatbare diere word aangetas en tot 90% van diere vrek.
Kliniese tekens
Erge sere in die mond, oog en neusuitloopsel, hoë koors, erge diarree en vrektes.
 
 
               Runderpes is uitgewis
 
BVD (Bees virus diarree) mukosasiekte
Virussiekte
Jong diere(8 maande tot 2 jaar oud) wat van geboorte permanent met die BVD virus besmet is, kan mukosasiekte opdoen.
Kliniese tekens
Erge ontsteking van die bek, erge diarree, ontwatering, velletsels van hoefkrone en tussen kloue. Feitlik almal vrek.
 
Lees ook antwoorde: Wat is BVD?
                                   
                               Die belang van beesvirus-diarree (BVD) in SA
 
Perakute BVD
Virussiekte
Affekteer jong en ou beeste wat nie teen BVD virus ingeënt is nie. Tipe II BVD (nog nie in RSA gevind nie)
Kliniese tekens
Dier hou skielik op vreet, moeilike asemhaling, koors, diarree, vrek binne paar dae.
 
Lees ook antwoorde: Wat is BVD?
                                    
                               Die belang van beesvirus-diarree (BVD) in SA
 
Snotsiekte
Virussiekte
Wildebees en skaapverwante vorms van snotsiekte
Kliniese tekens
Erge bekontsteking, hoë koors, oogontsteking, ondeursigtige kornea, vergrote limfknope, diarree , vrek 3 dae tot ‘n paar weke.
 
Lees ook antwoorde: Snotsiekte
 
                               Regulasies vir Snotsiekte
                                 
                               Ombudsman vir snotsiekte spaar tyd en geld
 
Dermvorm van aansteeklike beesrinotrage?tis
Virussiekte
Uitbrekings in pasgebore kalwers (25-50% aangetas). Virus ingebring deur ‘n draerdier. Vrektesyfer van diere wat siek word so hoog as 90-100%
Kliniese tekens
Klein speldepunt puisies op sagte verhemelte, neus- en lugpypslymvliese ontsteek, oogontsteking, diarree. Kan vrek van sekondêre ontsteking.
 
Diarree met geen bek-letsels nie
 
Kalwerdiarree
Lees ook antwoorde:  Diarree by jong kalfies
                                  
                                Wit maagwerkings by kalwers
                                  
                                Salmonella-infeksies in kalwers en beeste
 
                               Diarree in kalwers: Wat om te doen
 
Salmonellose
Bakteriële siekte
Alle ouderdomme, ho? vrektesyfer. Besmette voer dikwels die oorsaak.
Kliniese tekens
Ho? koors, diarree, abdominale pyn, kan binne 24 – 48 uur vrek. Kroniese siekte kan ook voorkom.
Behandeling
Siekte kan met in die vroeë stadium van die siekte met antimikrobiese middel behandel word. As siekte eers verloop geneem het, vrek diere of word chronies siek.
 
Lees ook antwoorde:Bloed in beesmis
                                  
                               Salmonella-infeksies in kalwers en beeste
 
Campylobacter jejuni
Bakteriële siekte
Kliniese tekens
Kalwers en ouer beeste kan siek word en ‘n slymerige of bloederige diarree hê.
 
Behandeling
Antibiotika
 
Klostridiale infeksies
Sommige bakterieë van die Clostridia – groep kan ‘n bloederige diarree veroorsaak bv. C. sordellii, C. perfringens tipe A en C.
 
                                 
                               Gasgangreen lei tot groot skade
 
Johne se siekte
Bakteriële siekte.
Gewoonlik enkele diere aangetas, 2 jaar en ouer, lae siektesyfer, lang
inkubasieperiode, lang verloop van siekte.
Kliniese tekens
Kroniese diarree, gewigsverlies, normale temperatuur, aptyt gewoonlik normaal.
Behandeling
Reageer nie op behandeling nie.
 
Hartwater
Veroorsaak deur ’n Rickettsia Ehrlichia ruminantium
Kliniese tekens
Akute gevalle: koors, ‘n bloederige diarree veral in Jerseys en vrektes
Behandeling
Tetrasikliene
 
                                  
                               Simptome van hartwater
                                  
                                Hartwater-behandeling
                                  
                               
 
Kopertekort (molibdenose = oormaat molibdeen)
Kom voor in sekere areas. Veral jong diere in marginaal kopertekort areas.
Kliniese tekens
Kroniese diarree. Swart haarkleed het grys vlekke, rooi haarkleed is roesgeel. Diere dun.
Behandeling
Baie goeie reaksie op behandeling met kopertoediening.
 
Inwendige parasietbesmetting
Verskeie besmettings met inwendige parasiete kan diarree veroorsaak Voorbeelde is:
bruinmaagwurm, beesbankrotwurm, haakwurm, knoppieswurm, peervormige maagslakwurm en bilharzia besmettings.
Behandeling
‘n Opsomming van wurmmiddels in beeste is te sien in antwoord:
                                   Wurmmiddels vir beeste
 
Lees ook antwoorde: Peervormige maagslakwurms
                                  
                               Rondewurms en kliniese tekens van inwendige parasiete in herkouers
 
Koksidiose
Protosoïese parasiete. Jong diere, veral by oorpopulasie, nat plekke rondom voer- en drinkbakke
Kliniese tekens
Diarree, ongeveer 20% van diere ontwikkel senuweesimptome en mag vrek.
Behandeling
Selfbeperkende siekte, middels wat toltrazuril, decoquinate, monensin, salinomisien, sulfadimidien, lasalosied en diklasuril bevat.
 
Arseenvergiftiging
Diere wat toegang tot ou arseenmiddels het.
Kliniese tekens
Skielike vrektes, akute abdominale pyn, beeste bulk, bring op, diarree, spiertrillings, konvulsies, vrektes binne 4-8 ure.
Behandeling
Moeilik om te behandel.
 
Plantvergiftigings
Swamvergiftigings
Aflatoksikose wat veroorsaak word deur aflatoksienes (gifstowwe) van die swamme Aspergillus flavus en A. parasiticus. Die voorkoms van hierdie vergiftigings in beeste is raar. Toksienes moet vir weke of maande ingeneem word. Tekens is depressie, eetlusverlies (anoreksie), gewigsverlies, melkverlies, kners van tande, koliek, rektale
prolaps en diarree wat bloedspikkels en slym bevat. Mielies wat die swamme bevat, kom meer voor in gebiede soos bv. die Wes-Kaap waar mielies in die winter geoes word wanneer daar baie vog teenwoordig is en tot swamgroei aanleiding gee.
Stachybotrys spp. is ‘n swam wat op koring, hawer, gars en rogstrooi voorkom. Kan erge diarree veroorsaak.
 
Plante wat hartglikosiede bevat
Die belangrikste plante van ekonomiese belang is:
Tulpe (Moraea spp.)
Slangkoppe (Drimia of Urginea spp.)
Die hartglikosiede affekteer vier sisteme:
• Hart en bloedsomloopstelsel
• Maagdermkanaal
• Senuweestelsel
• Asemhalingstelsel
Kliniese tekens
Diere is apaties, staan met hulle koppe na onder, die maag is ingetrek, tande word gekners, steungeluide, hartklop vinnig, rumen gaan staan, opblaas, diarree en swakheid van die agterlyf, vrektes
 
Plante wat diarree veroorsaak
Voorbeelde:
Kasterolieboom (Ricinus communis)
Minnie-minnies (Abrus precatorius)
Wildekomkommer (Cucumis spp.)
Tjienkerientjee (Ornithogalum spp.)
Bitterbos (Chrysocoma ciliate)
Malkop-ui (Dipcadi glaucum)
Seringboom bessies (Melia azedarach)
 
Te veel koolhidrate
Een of meer diere word aangetas. Geskiedenis dat diere toegang tot grane gehad het.
Kliniese tekens
Diere hou op vreet, wankelrig, kan nie opstaan nie, slegruikende diarree, graan in mis, rumen staan met baie vloeistof.
Behandeling
Behandel diere vir suurpens, ‘n operasie mag nodig wees om graan uit rumen te verwyder.
 
Lees ook: Asidose
 
Opsomming
Daar is baie oorsake wat aanleiding tot diarree gee en dus is dit belangrik dat ‘n
korrekte
diagnose gemaak moet word.
 
 
Mönnig en Veldman beveel die volgende simptomatiese behandeling aan:
1. Gee ‘n olie-purgeermiddel, bv. kasterolie, rou lynolie, aptekersparaffien. Veral by
gevalle van maagdermvergiftiging werk dit van die gifstowwe uit.
 
2. Gee altyd gekookte water of gortwater in klein hoeveelhede en met kort tussenpose van 2-3 uur om vir die waterverlies te vergoed. Kalwers kan in plaas daarvan gekookte melk, verdun met ‘n gelyke hoeveelheid gekookte water, kry.
Moet nooit groot hoeveelhede op ‘n slag gee nie en moet nie toelaat dat die dier homself gaan dik suip by ‘n drinkbak nie. Vir kalwers kan die melk sterker gemaak word en vir alle gevalle kan die tussenpose verleng word en die hoeveelhede vloeistof vermeerder word soos verbetering intree.
 
3. Gee vanaf ‘n paar uur ná die purgeermiddel, enige van die volgende middels, apart of gemeng:
kalkwater, Carron-olie (gelyke hoeveelhede kalkwater en rou lynolie gemeng), kaolien, looisuur. Hierdie middels kan met veiligheid elke 4-5 uur toegedien word, met ander woorde omtrent 3-4 keer per dag.
 
4. Verskeie middels soos bv. sekere sulfonamiedes en antibiotikas is baie goeie ontsmettingsmiddels van die dermkanaal en word met baie goeie gevolg gebruik vir diere wat ly aan laksering as gevolg van kiembesmetting van die derm, bv. kalwers wat ly aan witlaksering, koksidiose en selfs paratifus. Die gewone “Maagwerkmiddels”wat verkrygbaar is, bevat gewoonlik van hierdie antilakserende en dermontsmettende middels en kan in die reël met goeie gevolg
gebruik word.
Skakel met u veearts sodat die korrekte behandeling gegee kan word.
 
Bronne:
Kellerman, T.S, Coetzer, J.A.W, Naude, T.W en Botha, C.J. 2005 Plant Poisonings and Mycotoxicoses of Livestock in Southern Africa. Oxford University Press.
ISBN 978 0 19 57613 4
Mönnig, H.O en Veldman, F.J. 1975 Handboek oor Veesiektes. Tafelberg-uitgewers ISBN 0 624 00359 0
Radostis, O.M, Gay, C.C, Hinchcliff, K.W and Constable P.D. 2000 Veterinary Medicine. Saunders, Elsevier. ISBN 978 0 7020 2777 2
 
Geskryf deur: Dr. Faffa Malan, Veeartskonsultant.
 

30 April 2009

 

  • Geskryf deur: Dr. Faffa Malan, konsultant.

    30 April 2009


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X