Vra vir Faffa

Diarree en vrektes in boklammers

Vraag

Vraag: My 4 weke oue boklammers ontwikkel diarree. Wat kan die die oorsaak wees en wat kan ek doen om die diarree te stop. Groete, Rico Vraag: Ons het 3 maande gelede ‘n boerbokkudde van Graaff-Reinet uitgekoop en na ons plaas naby Delmas verskuif. Van die bokke was swaar dragtig en het in die laaste twee maande gelam. Ons het 60% van ons lammers verloor. Die bokkies kry ekstra melk waar nodig. Help asb. Jannes

Antwoord

 Ek het besluit om hierdie twee vrae gesamentlik te beantwoord omdat hulle oorvleuel.

Ek wens daar was ‘n “maklike antwoord”.
Ek het ‘n lysie van siektes en toestande (sogenaamde D/D lys of lys van “differensiële diagnoses”), wat alles maagwerk of diarree in skape en bokke veroorsaak, waarna ek graag verwys as ek so ‘n navraag kry, gemaak:
          Voeding
         Geil jong weiding
         Ruvoer-tekort
         Skielike voerveranderings
         Sekere mineraaltekorte
         Ooie met te veel melk gee aanleiding tot diarree in lammers
          Interne parasiete – bruinmaagwurm, bankrotwurms, knoppieswurm, sambokwurm, lintwurms en peervormige slak
          Koksidiose
          Plantgif
          E. coli, Salmonella (bakterie?)
          Septesemie (bloedvergiftiging)
          OJD (Ovine Johne’s Disease) of Johne se siekte
          FKS – “Floppy Kid Syndrome”
Deur die lysie hierbo deur te werk en eers al die oorsake wat dit moontlik nie is nie, af te haal, forseer ek myself om stapgewys alle moontlikhede te ondersoek en dan uit die weg te ruim, eerder as om goedsmoeds ‘n diagnose te maak.
As veearts is ek opgelei in al hierdie siektes en geleer om ‘n dier eers deeglik te ondersoek en ook om dan monsters te neem wat my sodoende kan help om ‘n diagnose te maak.
Diarree/maagwerk is ‘n siekteteken en baie beslis nie ‘n diagnose nie!
Simptomatiese behandeling help dikwels deurdat die liggaam “versterk” word en die natuurlike verdegingsmeganismes dan kans gee om “in te skop” en die “vyand” self te oorwin.
Aan die ander kant, as ons die oorsaak vasstel en behandel/oorwin gaan die diarree vanself verdwyn…
So, wat kom eerste – die oorsaak of die kliniese teken, die behandeling of voorkoming?
Die beste manier om die oorsaak vas te stel is om ‘n volledige nadoodse ondersoek te laat doen waartydens monsters geneem kan word vir histopatologie (snitte van organe vir abnormaliteite mikroskopies te ondersoek) en bakteriologiese ondersoek. Uiteraard kan ek nie ‘n diagnose oor die telefoon of per e-pos maak nie, en daarsonder is dit ook onmoontlik om ‘n behandeling voor te skryf.
Kom ons begin by die begin:
  • Jou lammers is 4 weke oud. Fisiologies is ‘n lam op hierdie stadium baie afhanklik van sy moeder se melk, maar peusel hy waarskynlik al vir ‘n week of twee aan grassies en vaste kos. Hy is besig oor te skakel van ‘n funksionele enkelmaagdier na ‘n herkouer en is geweldig vatbaar vir voedingsveranderinge. Verder is hy ‘n babatjie en behoort op hierdie stadium “babakos” te eet (kruipvoeding). Baie boere gee dit nie en moet hierdie babamagie nou “grootmenskos” verteer wat hy nie regtig goed kan doen nie! Voeding, Voeding en nogmaals Voeding!
  • Indien sy ma baie melk het, kan dit opsigself tot maagwerk lei. Aan die ander kant as die moeder te min melk het, moet hy vroeër begin wei en word hy dan vroeër aan parasiete blootgestel wat ook op hul beurt weer diarree kan veroorsaak.
  • Biesinname – ooie gee d.m.v. bies beskerming aan hul lammetjies teen siektes waaraan hulle blootgestel was en teenliggame teen ontwikkel het. Dit kan dan deur die siekte self wees of deur inenting. Die geheim is dat die lammetjie GENOEG bies, van GOEIE GEHALTE so GOU moontlik na geboorte moet inneem aangesien die dermpie dit nie meer na so 12 ure na geboorte kan opneem nie. Indien daar nie aan enige van hierdie kriteria voldoen is nie, gaan die bies die lammetjie vir korter periodes beskerm as die 2 maande waarop ons normaalweg reken. Stel dus vas watter kieme moontlik ‘n rol speel en ent die ooi dan 6 weke voor lamtyd in teen hierdie siektes om sodoende te verseker dat hul die regte teenliggaampies in die bies insit! Help die lammetjies wat klein en swak is deur addisionele bies met ‘n maagbuisie in te gee en daardeur te verseker dat hulle genoeg, gou genoeg inkry. Op 4 weke kan ons die situasie hê waar die biesbeskerming begin afneem en indien die uitdaging groot is, dit net nie meer sterk genoeg is om siektetekens te voorkom nie!
  • Dit bring ons by die uitdaging (“challenge”) – nattigheid, koue, onhigiëniese toestande in krale of op slaapplekke gee alles aanleiding tot ‘n “opbou” van “kieme”. Al het die lam dan soldate, is die “kieme” in die oorhand en gaan hulle hierdie “stryd” wen! Higiëne is dan hier die wagwoord.
  • Geboorteplek – indien die ooie altyd in dieselfde kampies lam, kan jy ook ‘n opbou van kieme hier kry. Baie boere gebruik kalk om in en om die krale te strooi om sodoende die pH van die grond te verhoog en “kiemgroei” te belemmer. Ander weer ontsmet die naeltjies van lammers kort na geboorte met jodium of pers wondsproei. Lammers kry dikwels naelstringinfeksies net na geboorte en die kieme vermeerder dan geleidelik om op so 4 weke ouderdom toe te slaan. Net mooi die ouderdom wat jou lammers nou is! Somtyds gaan dit ook oor in gewrigsontsteking op hierdie stadium.
  • In bokkies is daar ‘n interessante “sindroom” genaamd die “pap lammetjie sindroom” (Kyk gerus op die Internet onder “Floppy Kid Syndrome”) Hierdie toestand kom voor in die eerste paar weke van lammetjies se lewens en ongelukkig weet ons nog nie regtig wat die definitiewe oorsaak is nie. Maar die lammers begin gewoonlik met ‘n maagwerk, word dan swak en vrek. Glukose aarvoeding blyk te help as deel van die behandeling.
  • Hoewel baie boere beweer en glo dat bokke nie plantvergiftiging opdoen nie, is dit nie die geval nie en moet ons maar altyd op die uitkyk wees hiervoor – kyk veral om die kraal wat daar groei en of daar wel aan gevreet is
  • Laastens is dit ook belangrik om in ag te neem dat  die “bloednier kiem”, C perfingens tipe D nie klassieke bloednier in bokke veroorsaak nie, maar wel diarree!
Kom ons som op:
  • Daar is ongelukig nie ‘n “wonder-middel” wat alles gaan regmaak nie!
  • Begin deur alles moontlik te doen om ‘n diagnose te maak. Werk saam met jou veearts. Neem monsters – stuur weg en ontleed die resultate
  • Dood het ‘n oorsaak. Siekte ook. Stel oorsake vas wat aanleiding hiertoe kan gee en stel dit reg
  • Begin deur simptomaties te behandel
    • Vat van melk af vir ‘n dag of twee indien prakties moontlik
    • Gee iets in wat maagwerk gaan stop. Verkieslik ‘n oplossing wat elektroliete bevat om ontwatering reg te stel. In erge gevalle en in waardevolle diere mag ‘n aarvoeding al wees wat ‘n swak lammetjie kan red.
    • Wees versigtig met antibiotika aangesien dit beide die “goeie dermorganismes” sowel as die “kieme” gaan doodmaak en dikwels meer kwaad as goed doen. Besluit in samewerking met jou veearts of die geval antibiotika regverdig en besluit saam met hom watter antibiotika die geskikste is vir gebruik in bokke en dan spesifiek vir dermtoestande. Indien koksidiose vermoed word (baie algemeen in bokkies), gebruik ek graag dan ‘n sulfamiddel wat dit ook dek.
    • Vul Vitamien A aan asook spoorelemente wat veilig is vir gebruik in baie jong/klein bokkies
    • Gee probiotika – dermorganismes om die pens te “normaliseer”
    • Sonder siek bokkies af van die res – dit voorkom omgewingsbesoedeling en aansteek tussen mekaar. Sit hulle eers weer by die ander as hulle goed herstel het
    • Skerp higiëniese maatreëls op
    • Kyk na voorkomende optrede d.m.v. inentings en goeie biosekuriteit
Die belangrikste is egter vir my as jy “ernstig” is hieroor is, is om met jou veearts saam te werk!
Hoewel ek hier op diarree gefokus het, geld dieselfde beginsels ook by ander siektes en toestande. Begin deur vas te stel wat die oorsaak is. Indien jy sê dat 60% van die bokkies siek was of gevrek het, is my vraag dadelik – “hoeveel het jy veearts toe geneem en wat was sy diagnose?”
Watter organe of orgaanstelsels was die ergste aangetas – longe, lewer, niere…?
In ‘n jaar soos vanjaar was die virussiektes baie algemeen en besonders “erg” – ek het veral Slenkdalkoors en Bloutongvirus in bokke gekry. Dit is ook opmerklik hoeveel bokke hoë teenliggaamtiters het teen “Pasteurella”/Mannheimia (bontlong) wat vir my aandui dat die siekte ook vanjaar erg in omloop was.
Geskryf deur: dr. Dave Midgley, Veeartskonsultant (dave.midgley@vodamail.co.za)
20 Junie 2011

Kommentaar

Kommentaar (2) “Diarree en vrektes in boklammers

  1. Fred
    Fred

    Kan koolstof poeier gebruik word ?

  2. Faffa Malan
    Faffa Malan

    Koolstofpoeier word gebruik om gifstowwe te bind soos bv. die hartglikosiede in tulpvergiftiging. Diarree is ‘n kliniese teken van iets anders. Kry met behulp van jou veearts die oorssak van die diarree! Mismonster ondersoek om bv. koksidiose vas te stel. Miskeking vir bakteriese oorsaak bv. E.coli.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X