Vra vir Faffa

Bul gee meer bulkalwers

Vraag

Ek boer met Simmentaler beeste in Oos-Gauteng. Ek is so halfpad deur my kalweroes en 77% van al die kalwers is bulle. Verlede jaar het ek dieselfde ervaar. Ek maak net gebruik van KI (Taurus-, Genootskap- en Privaatbulle). Een van my buurmanne het dieselfde ervaring. Wat kan dit veroorsaak?

Antwoord

Normaalweg sou ‘n mens verwag om aan die einde van ‘n kalfseisoen ewe veel bul- en verskalwers te hê. Waar die bulkalwers soveel meer is as die verskalwers wat aangekom het,  is die standaardverklaring gewoonlik dat enigiets in die natuur moontlik is en dat die getalle oor ‘n aantal dekseisoene homself sal uitsorteer sodat daar eweveel bul- en verskalwers is. Dr. John Chandler van die VSA het in 1996 ‘n studie gedoen wat getoon het dat die semen van sekere bulle meer Y-chromosome dra as ander bulle. In die studie met “DNA image analysis techniques” is gevind dat twee bulle uit ‘n groep van 10 onderskeidelik 82 en 84% Y-chromosome gedra het in vergelyking met die verwagte 50%. Dieselfde resultaat is verkry met ‘n opeenvolgende ejakulaat. Chandler kom dan ook tot die gevolgtrekking dat indien ‘n mens saad gebruik van ‘n bul met 80% Y-draende chromosome, jy ‘n klomp bulkalwers in die kalfseisoen moet verwag.

Volgens Richard Pursley van Michigan(2004) is die normale verhouding van bulkalwers tot verskalwers 54:46. Daar is volgens hom metodes bv. deur die inseminasietyd te verander, waardeur daar tot 10% meer verskalwers aangekry kan word.
Die gevolgtrekking waartoe meeste navorsers kom, is dat indien jy meer bulkalwers aankry dit blote toeval kan wees of dat jy saad gebruik van ‘n bul wat ‘n hoë proporsie manlike spermselle het.
Geskryf deur: dr. Hannes Dreyer, Veekundige (hannesdreyer@vodamail.co.za)
24 Oktober 2009

Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X