Vra vir Faffa

Brusellose in wild

Vraag

Is brusellose ‘n groot probleem in wild?

Antwoord

Brucella spesies is al in verskeie spesies van wild asook in see soogdiere wêreldwyd gedokumenteer.

Die voorkoms van brusellose in wild is veral van belang in lande waar die siekte in produksiediere uitgeroei is sodat voorkom kan word dat die siekte weer opvlam.

Omdat wildboerdery toeneem, is dit belangrik dat daar van die voorkoms van hierdie siekte in sekere wildsoorte kennis geneem word. Wild word ook meer intensief aangehou en wild wat verskuif word, kan die siekte versprei indien dit teenwoordig is.  Net buffels word egter onder andere vir brusellose getoets voordat ‘n permit uitgereik sal word vir hul verskuiwing.

Verskeie spesies van Brucella kom voor en alhoewel van hulle meer spesifiek in sekere plaasdiere voorkom, mag amper enige van die verskillende spesies van Brucella enige diersoort aantas. Gevalle in wild mag dus deur amper enige van die ondergenoemde spesies veroorsaak word.

Brucella abortus besmettings

Waar die uitroei van brusellose in die Europese Unie, die VSA en ander lande in die wêreld vorder, word die identifisering van moontlike reservoirs van B. abortus in wild al hoe belangriker. Af en toe word daar serologiese  positiewe Brucella wild gevind veral takbokke. Hierdie besmettings word as selfbeperkend of as ‘n oorvloei van ‘n besmetting in beeste beskou. In Amerika is die uitsondering bison en elk. Die Afrika buffel word ook as ‘n bron van B.abortus beskou.

In Suid-Afrika is die volgende spesies al serologies positief getoets vir brusellose: seekoeie, sebras, elande, waterbokke en rooibokke. Hierdie spesies is heelwaarskynlik van minder belang in die voorkoms van beesbrusellose in suidelike Afrika omdat daar min kontak tussen hierdie spesies en beeste is. Soos boerderypraktyke verander, mag hierdie toestand egter ook verander.

B . abortus biovar 1 is al geïsoleer uit die vrugknoppe van ‘n dragtige buffel tydens slagting en eksperimentele besmetting van dragtige buffels het tot laatdragtige aborsies gelei. Serologiese opnames in die Kruger Nasionale Wildtuin het gewys dat tot 23 persent van buffels serologies positief is. Weens die streng bek–en-klouseer maatreëls wat heers, word kontak tussen buffels en beeste beperk.

Weens die uitgebreide buffelboerdery wat tans in Suid-Afrika bedryf word, moet hierdie siekte streng beheer word. Kontak tussen brusellosebesmette beeste en buffels moet ten alle koste vermy word.

 Brucella melitensis besmettings

Hierdie siekte is ‘n probleem in veral klein herkouers soos skape en bokke. Dit kom in Suid-Afrika se aangrensende lande voor en word van tyd tot tyd in SA aangemeld en word dan in plaasdiere uitgeroei. Oorvloei van hierdie siekte van plaasdiere kan in wild voorkom. Die volgende is al gedokumenteer: Chamois (Rupicapra rupicapra en ibeks (Capra ibex) wat in die Alpe van Frankryk en Italië voorkom. In die Midde-Ooste het B. melitensis in nomadiese een homp kamele, wat in kontak met skape en bokke was, voorgekom. Die bakterieë is ook uit die melk van kamele geïsoleer wat ‘n ernstige probleem vir mense inhou. In Suid-Amerika is die siekte in lamas in sommige lande van Suid-Amerika gevind.

In Suid-Afrika is B. melitensis onlangs in swartwitpense gevind.

Brucella  ovis

Kom algemeen in skape in SA voor, maar word selde in wild aangemeld.

Brucella canis

Hierdie infeksie in honde is in 2005 in Kaapstad vir die eerste keer gemeld. Sporadiese gevalle kom langs die kus tot by Port Elizabeth en binnelands tot by Grahamstad voor. Dit word selde in wild gerapporteer.

Die volgende Brucella organismes kom voor, maar gelukkig nie in Suid-Afrika nie.

Brucella suis besmettings

Brucella suis (biovars 1,2 en 3) is in makgemaakte varke  in meeste lande behalwe suidoos Asië en Suid-Amerika uitgeroei. Dit kom ook voor in wilde varke in die VSA,  Australië en Europa. Biovar 2 het ook die vermoë om die Europese hase te besmet. Nog net een geval is aangeteken waar hirdie biovar in hase ‘n mens besmet het. Takbokke en karibou in die Arktiese gebiede (Siberië, Kanada en Alaska) wat met B. suis  biovar 4 besmet is, is ‘n ernstige soönotiese (siekte wat van diere na mense oorgedra word) risiko vir mense. Arktiese vosse kan ook die siekte opdoen.

Brusellose in seesoogdiere

Brucella spesies is al gevind in seeleeus, tornyne, minkwalvis en dolfyne. In serologiese toetse wat op ysbere uitgevoer is, is gevind dat 5,4% bere positief was.

Brusellose in wild is ‘n politieke aangeleentheid: produksiedier-, jag- en wildindustrieë en diegene wat in wildbewaring belange het, het konflikterende standpunte oor hoe brusellose beheer moet word.

Nog baie navorsing gaan in die toekoms op die voorkoms en impak, wat brusellose op wildlewe het, uitgevoer word.

B. ovis (skape), B. canis (honde) en B. neotomae (woestyn rotte) word selde in wild gerapporteer.

Bron:

Coetzer, J.A.W and Tustin, R.C. 2004. Infectious Diseases of Livestock. Oxford University Press.      ISBN 0 19 576171 5

Geskryf deur: drs. Faffa Malan, Veeartskonsultant (dokfaffa@nashuaisp.co.za), Sewellyn Davey, Staatsveearts Wes-Kaap (SewellynD@elsenburg.com en Marijke Henton (marijke.henton@idexx.com)

6 Junie 2015


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X