Vra vir Faffa

Bosluise by perde

Vraag

Ek het my eerste perd gekry en wil graag meer weet van bosluise op perde. Watter is die gevaarlikste en hoe kan ek hulle beheer? Die perd bly in die veld en het nie 'n stal nie. Martinette Prinsloo (martinette@sebenzacc.co.za)

Antwoord

Daar is verskillende bosluissoorte in Suid-Afrika wat ook op perde kan voorkom. Die klimaat en plantegroei asook gashere op die plaas sal bepaal watter soorte bosluise sal voorkom.

Hardedopbosluise se lewensiklus bestaan uit larwes, nimfe en volwasse bosluise. Die larfies is baie klein en daar moet baie mooi gekyk word om hulle in die ore of tussen die hare raak te sien. Volgesuigde wyfies is groot en kan maklik raakgesien word.
Bosluise suip bloed en as daar baie bosluise op ‘n dier teenwoordig is, kan die dier bloedarmoedig of anemies raak.
Party bosluise (die bont en bontpootbosluise) het lang monddele en as die perd nie betyds behandel word nie, kan sere ontstaan by die vashegtingsplekke. Hierdie sere lok weer vlieë (spykerwurmvlieë) wat hulle eiers in die wonde lê en kan selfs tot die dood van die dier lei as die wonde verwaarloos word.
In gebiede waar die bruinoorbosluise voorkom, kan daar so baie bosluise in die ore voorkom dat die ore selfs kan afval as die diere nie behandel word nie. Hierdie bosluise skei ook gifstowwe af wat die dier kan vergiftig.
Bosluise is ook die draers van siektes.
·         Die rooipootbosluis (Rhipicephalus evertsi evertsi) is die draer van die parasiet Babesia equi wat galkoors veroorsaak.
·         Die rooipootbosluis (Rhipicephalus evertsi evertsi) en die bontpootbosluis (Hyalomma truncatum) is draers van die parasiet Babesia caballi wat galkoors veroorsaak.
Beheer:
Dit is baie belangrik dat jy jou perd weekliks vir bosluise ondersoek. Kyk ook in die ore, maanhare, in die oksels, in die lieste, die uier, skede van die hings, onder die stert, op die stert en op die bene en veral in die hare bokant die agterkant van die hoewe.
Middels: Maak seker dat jy middels gebruik wat vir bosluisbeheer in perde geregistreer is. Middels wat amitras bevat kan dodelik vir perde wees.
‘n Perd se vel is ook meer sensitief in vergelyking met die van beeste en kan newe effekte tot gevolg hê.
Hieronder volg ‘n lys van dipmiddels wat in die handel beskikbaar is wat wel vir gebruik in perde geregistreer is:
Organofosfate en Karbamate
Coopers Supadip (G3349) bevat chloorfenvinfos
Karbadip Spray (G1291) bevat karbaril
Supona Aerosol (G411) bevat chlorfenvinphos en dichlorfos
Piretro?ede
Acarins (G1391) bevat flumetrien
Bayticol (G489) bevat flumetrien
Coopers Expel G3245 bevat deltametrien en word lokaal aangewend
Crede-Ecto-Cymetrin (G2527) bevat sipermetrien
Crede-Ecto Perthrin (G2489) bevat sipermetrien en piperonielbutoksied
Deltab Back-Pack (G2518) bevat deltametrien
Equiworld Tick Dip (G3148) bevat sipermetrien
Maxi-Cyp (G3656) bevat sipermetrien
Dipmiddels kan met ‘n spons of handspuit aangewend word. Begin om die perd van die bolyn af te benat en spuit die vloeistof teen die rigting waarin die hare lê. Sorg dat die dier goed benat is. Indien bosluise slegs in sekere areas voorkom bv. onder die stert, kan kolbehandeling toegepas word.
Daar is ook aerosolkannetjies wat bosluisdoders bevat,  beskikbaar. Onthou om handskoene en beskermende klere te dra as middels aangewend word.
Lees ook die artikels: Bloubosluise by perde
                               Myte op perde
Bronne: Coetzer, J.A.W en Tustin, R.C. 2004 Infectious Diseases of Livestock. Oxford University Press. ISBN 0 19 578202X
IVS Index of Veterinary Specialities, Volume 47 Number 1
Geskryf deur: dr. Faffa Malan, Veeartsenykonsultant.
3 Oktober 2009                            
 
 
 
 
 

Kommentaar

Een kommentaar op “Bosluise by perde

  1. johan van staden
    johan van staden

    Ek lees die antwoord hierbo maar wil graag weet of ek hierdie middels op n vul kan gebruik van n maand oud .


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X