Vra vir Faffa

Bosluisbytkoors of ehrlichiose in honde

Vraag

Wat is bosluisbytkoors of ehrlichiose by honde?

Antwoord

Bosluiskoors en bosluisbytkoors is die  belangrikste bosluisoorgedraagde siektes in die wêreld. Beide infeksies kan gelyktydig voorkom in honde en in sulke gevalle kan dit lei tot gekompliseerde senuweetekens en selfs vrektes. 

Die bosluisvektor
Ehrlichiose word oorgedra deur die hondehokbosluis (Rhipicephalus sanguineus). Die hondehokbosluis is goed aangepas om in hondehokke en huise te oorleef. Hierdie bosluiswyfies lê hul eiers onder honde se beddegoed of in gleuwe en krake in hondehokke of mure. Die hondehokbosluis word besmet wanneer hulle ‘n bloedmaal neem van ‘n hond met bosluisbytkoors en sulke besmette hondehokbosluise dra dan die infeksie oor na ander honde waarop hulle voed. ‘n Besmette hondehokbosluis kan ehrlichiose oordra vir ten minste 155 dae nadat die bosluis op ‘n besmette hond gevoed het.
 
Die organisme
Ehrlichiose word veroorsaak deur  bakterieë wat onder die filum Proteobacteria; die orde Ricketsialis en die genus Ehrlichia val. Die spesie Ehrlichia canis, Ehrlichia platys of Ehrlichia ewingii kan bosluisbytkoors in honde veroorsaak.
 
Siektetekens in honde
Dit neem ongeveer 8 tot 20 dae vandat die hond besmet was totdat die honde siektetekens begin toon. Die akute fase (‘n infeksiefase waarvan die kliniese tekens skielik ontwikkel en die infeksie van korte duur is) kan 2 tot 4 weke duur. Die subkliniese fase (‘n infeksiefase waartydens geen kliniese tekens teenwoordig is nie) kom gewoonlik 6 tot 9 weke na besmetting voor. Honde wat nie voldoende immuunresponse ontwikkel na besmetting nie, ontwikkel ‘n chroniese infeksie.
 
Akute infeksie
Die siektetekens is nie-spesifiek en sluit lusteloosheid, koors, aptytsverlies, gewigsverlies, vergrote limfkliere en milt, styfheid en onwilligheid om te beweeg, swelling van die bene en skrotum, hoes en moeilike asemhaling in. 
 
Chroniese infeksie
Sekere honderasse soos byvoorbeeld die Duitse herdershond is meer vatbaar vir chroniese ehrlichiose. In chroniese gevalle word die beenmurg hipoplasties, wat beteken dat die ontwikkeling van die beenmurg vertraag word en dit lei tot immuunonderdrukking. Siektetekens sluit lusteloosheid, vergrote limfkliere en milt, bloei abnormaliteite wat waargeneem kan word as neusbloeding, bloedarmoede of anemie, gevoeligheid van die buik, senuweetekens en sekondêre infeksies weens immuunonderdrukking in. Erge gewigsverlies is ‘n prominente teken van chroniese ehrlichiose in honde. 
 
Diagnose
Dit is baie belangrik dat u hond so gou as moontlik na ‘n veearts geneem word indien die hond enige van die bogenoemde siektetekens toon. ‘n Diagnose kan bevestig word deur die organismes in die witbloedselle van die hond op ‘n bloedsmeer te identifiseer, maar daar mag min organismes teenwoordig wees wat so ‘n diagnose moeilik kan maak. PCR kan ook gedoen word op ‘n bloedmonster. PCR is ‘n laboratoriumtoets wat die DNA of genetika van die Ehrlichia parasiet identifiseer.
 
Behandeling
Behandeling vir tot en met 21 tot 28 dae is nodig en dit mag nodig wees om die hond vir opvolg veeartsbesoeke te neem sodat bloedmonsters geneem kan word om te bepaal of die behandeling effektief is. Behandeling kan faal weens ‘n verskeidenheid van redes, insluitende:
  • Wanneer die behandelingskursus soos deur die veearts voorgeskryf is, nie voltooi word nie.
  • Braking
  • Herhaaldelike herinfeksies
  • Ander siektes wat ter gelyke tyd teenwoordig is
  • Gedurende die chroniese fase omdat die beenmurg hipoplasties is
  • Gelyktydige immuunonderdrukkende medikasie
  • Infeksie deur ander Ehrlichia spesies 
Voorkoming
Bosluisbeheer in die omgewing asook op die hond. Raadpleeg u veearts vir geskikte produkte wat beskikbaar is.  
 
 
Verwysings:
  1. Assarasakorn S and Niwetpathomwat A. 2007. A complicated case of concurrent canine babesiosis and canine ehrlichiosis. Comparative Clinical Pathology 16(4): 281-284. Beskikbaar by http://www.springerlink.com soos op 25 August 2009.09.02
  2. BVSc class notes
  3. Ettinger S J and Feldman E C. 2000. Textbook of Veterinary Internal Medicine 5th Edition. W.B. Saunders Company, USA.
  4. The Merck Veterinary Manual [webblad] beskikbaar by http://www.merckvetmanual.com soos op 25 August 2009.
 
Geskryf deur: Dr. Sunelle Strydom (BVSc)
 
3 September 2009

Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X