Vra vir Faffa

Bosluisbeheer na goeie reënval

Vraag

Vir die afgelope 15 jaar gebruik ek 'n spingdip met amitras aktief daarin wat met kalk gestabiliseer word. Onlangs het ek gedip en die bosluise het nie teen die volgende dag afgeval nie. Ek is aanbeveel om, 60 bloubosluiswyfies, vir weerstandstoetse te oes en om dipmonsters, na Malalane navorsingseenheid te stuur. Ek wil hoor of of die dip vir ander bosluise (meer gasheer) ook sal werk, aangesien ek nie bloubosluise kry nie? Verder het ons grootliks die probleem met die bosluise omdat hulle die koeie se uiers beskadig. Ek sal praktiese raad om die uiers skoon te hou, sonder om die meegaande, immuniteit teen siektes te verloor.

Antwoord

Na my mening is daar nie weerstand van multi-gasheer bosluise teen enige van die dipmiddels wat op die mark is nie.  En ek het dit met die navorsers by Onderstepoort bespreek en hulle het dit bevestig.  Bloubosluisweerstand is natuurlik algemeen maar jy sê jy het nie bloubosluise nie.  Indien die bosluise nie afgeval het binne ‘n paar uur na behandeling nie, is daar iets fout.  Die eerste ding waarna ek dan  gewoonlik na kyk is of die konsentrasie van die dip in die dipbak korrek is.  Het jy bosluise op al die beeste gewaar?  Onthou die eerste 25 beeste wat deur die dipbak gaan moet weer gedip word.

Amitras wat as wateroplosbare dip toegedien word het ongelukkig geen nawerking nie.  Ek beskou dit as net 24 uur.  M.a.w. die bosluise wat op die dier is, moet op die dag van behandeling afval en hulle sal dan op die grond vrek.  Maar bosluise wat die volgende dag opklim word nie deur die vorige dag se dip geaffekteer nie.  Op sommige diere kan die nawerking dalk 2 dae wees.

Die tyd van die jaar met die reën en hoër temperature is daar natuurlik baie meer bosluise en sal die “effektiwiteit” die dag na behandeling nog laer wees.

Om ‘n langer nawerking teen bosluise op die uiers en spene van diere te kry, beveel ek aan om kolbehandeling van die uiers en spene met Delete-All (G2837) opgietmiddel te doen.  Dit kan gedoen word deur die opgietmiddel met ‘n kwas op die uiers en spene aan te wend.  Jy kan dan die diere dophou en besluit hoe gereeld dip met die amitras in die dipbak nodig is, m.a.w wanneer bosluise ook op die nekvel en onder die sterte van diere gesien word.  Hartwater bosluise (bontbosluise) kom hoofsaaklik op  die uier en spene van diere, onder die stert, tussen die voor- en agterbene, aan die nekvel  en tussen die kloue van diere voor en bontpootbosluise word hoofsaaklik op  die stertpunt en ook tussen die kloue gesien.  Hulle kan natuurlik ook op die ander haarlose dele van die dier voorkom.

Geskryf deur: dr. Tom Strydom, MSD Malalane Navorsingseenheid (tom.strydom@merck.com)

23 November 2016


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X