Vra vir Faffa

Bosluisbeheer in ‘n melkkudde

Vraag

Hoe kan bosluise doeltreffend beheer word sonder om weerstandigheid by die bosluispopulasie te selekteer, vra 'n boer.

Antwoord

Vraag:
Hoe beheer ‘n mens bosluisbesmetting in melkbeeste sonder om weerstandigheid by die bosluispopulasie te selekteer?

Antwoord:
Hoe om dip effektief te gebruik om bosluise te beheer
Die impak wat bosluise op melkbeeste kan hê, is welbekend. Die belangrikste rol wat bosluise waarskynlik in Suid-Afrika speel, is die oordra van bosluisgedraagde siektes soos rooiwater (babesiose), galsiekte (anaplasmose) en hartwater (cowdriose).

Bosluise veroorsaak ook ernstige velletsels, irritasie en by gevalle van ernstige besmetting, ook bloedarmoede (anemie). Nou hoe beheer ons hierdie bosluise effektief sonder om onnodige weerstandigheid by die bosluispopulasie te selekteer?

Daar is basies vyf groepe geregistreerde middels vir die beheer van eksterne parasiete in Suid-Afrika:
 

  • Amidiene (soos amitras) bv. Taktic reeks
  • Piretroïede (soos sipermetrien en deltametrien) bv. Delete, G2815; Delkol, G3550; Delete X5, G3279; Deltab, G2517; Interdip 20, G3321
  • Organofosfate (soos chlorfenvinfos) bv. Notix NF, G3537
  • Insekte groei reguleerders – IGR’s (soos fluasuron)
  • Makrosikliese laktone (soos ivermektien en abamektien) bv. Ivotan, G2858; Solution 3,5% LA, G3689; Avotan pour on, G3745

    Watter een van bogenoemde groepe moet ek op my plaas gebruik?

    Daar is net een manier om seker te maak, en dit is om ‘n toets te laat doen wat akkuraat sal aandui watter groep die effektiefste is. Hierdie is ‘n eenvoudige en bekostigbare toets (sekere farmaseutiese maatskappye soos Intervet doen dit selfs gratis vir hul kliënte).

    Die toets behels dat ‘n paar (ongeveer 50) volgesuigde wyfiebosluise ingestuur word wat dan wetenskaplik aan al die groepe middels blootgestel word om vas te stel watter middels nog effektief is. Terselfdertyd word ook vasgestel of daar weerstandigheid teen enigeen van hierdie middels is.

    Sonder twyfel is dit die eerste stap en as dit verniet gedoen word, het jy niks om te verloor nie.

    Wanneer daar vasgestel is watter groepe bosluise beheer, is daar ‘n paar basiese beginsels wat gevolg moet word om doeltreffende bosluisbeheer te verseker, maar ook om die ontwikkeling van parasietmiddel weerstandigheid by die bosluisbevolking op jou plaas te voorkom of ten minste te vertraag:
     

  • Moenie onnodig van een groep na ‘n ander oorskakel nie – hou aan om een groep te gebruik solank die middel effektief werk, of dit vir 6 weke of 6 jaar is. Verander net wanneer weerstandbiedendheid bevestig is! (dit benodig opvolgtoetse vir weerstandbiedendheid, maar weereens, as dit gratis gedoen word, kan jy net daarby baat)
  • Waar moontlik, gebruik parasietmiddels wat slegs een groep bevat ( enkel aktiewe bestanddeel). Dit sal die ontwikkeling van weerstandbiedendheid teen ander groepe vertraag. Daar is egter ‘n paar moontlike uitsonderings: jy kan wel ‘n parasietmiddel met twee aktiewes gebruik, solank die aktiewes van dieselfde groep is; en jy kan ook ‘n enkel aktief kombineer met ‘n potensieerder bv. ‘n piretroïed gekombineer met piperonielbutoksied. Dit verbeter die effektiwiteit van die piretroïede. Die ander uitsondering is natuurlik dat jy geen keuse het nie en ‘n kombinasie moet gebruik – maar dit word slegs gedoen nadat ‘n toets gedoen is.
  • Gebruik altyd die middel volgens die vervaardiger se instruksies. Deur die dip te verdun of minder as die voorgeskrewe dosis te gebruik, versnel jy waarskynlik die ontwikkeling van weerstandbiedendheid teen die spesifieke aktief, daardeur word die leeftyd van die betrokke groep op jou plaas drasties ingekort.
  • Maak seker dat spreidip (of dompeldip) konsentrasies by optimale vlakke is. Hierdie toets kan ook gratis uitgevoer word.
  • Moenie oordip nie. Probeer om die tydsduur tussen behandelings so lank moontlik te maak. Daardeur verleng jy die leeftyd van die groep se aktief op jou plaas en dit volg vanself dat hoe minder blootstelling die bosluise aan die middel kry, hoe minder kans is daar dat weerstandigheid sal ontwikkel.
  • Selekteer teen diere met hoë bosluisladings in vergelyking met ander diere in dieselfde groep – vatbaarheid vir bosluise kan oorerflik wees.

    Geskryf deur dr. Barry Coates, Intervet

    15 November 2007


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X