Vra vir Faffa

Bosluis- en endoparasietbeheer in beeste en wild

Vraag

Hoe kan beeste in Mei/Junie behandel word vir bosluise via 'n lek? Sommige beeste wat wild is, kan nie in 'n kraal gejaag word nie. Hulle hare val uit en dit vertoon soos sweetsiekte. Kan mens iets soos Ivomec verdun en in 'n lek meng en so die beeste behandel?

Antwoord

 

 

Die beheer van eksterne en interne parasiete in wild is `n redelike komplekse onderwerp wat al menig innoverende besigheidsgeleenthede en toedieningsapparate tot gevolg gehad het.

In breë gesien kan veemiddels hoofsaaklik deur twee roetes toegedien word:
1) Deur voeraanvullings (hoofsaaklik van toepassing by ontwurming) of
2) deur outomatiese diptoedienders (meestal vir uitwendige bosluisbeheer).
Beide metodes het egter tekortkominge deurdat dossise en toedieningsfrekwensie selde betroubaar bepaal kan word. Onakkurate toediening mag weer bydra tot die ontwikkeling van weerstand teen die aktiewe bestanddeel in die veemiddel asook oordosering van middels wat gevaarlike vlakke of hoë vleisresidue tot gevolg kan hê. Wildboere mag hulself onnodig blootstel aan vervolging sou hierdie vleis ooit kommersieel verkoop word.
Dit bly egter van belang om in gedagte te hou dat die meeste wildspesies `n natuurlike aanpassing besit, wat hulle in staat stel om natuurlik van parasiete ontslae te raak of om minder geneigd te wees om deur parasiete geaffekteer te word. Die onoordeelkundige gebruik van middels om parasiete te bekamp, kan wild se natuurlike vermoë om parasiete te beheer, betekenisvol benadeel. Dit bly steeds ‘n beter praktyk om net geaffekteerde diere te behandel, soos byvoorbeeld ‘n elandbul waarvan die ore met bosluise besmet is.
Intensiewe boerderypraktyke moet oordeelkundig oorweeg word, aangesien hoër wilddigthede weer bydra tot hoër stesvlakke en parasietladings wat weer veroorsaak dat diere meer gereeld behandel moet word.
Huidiglik is ‘n paar toedieners kommersieel beskikbaar vir die beheer van bosluise op wild:
  • Duncan toedieners (http://www.tick.co.za/) of dan die nuwer generasie “Tick Terminator”. Volgens my werk beide redelik goed waar kleiner wildspesies betrokke is, maar groter diere soos renosters en buffels beskadig die eenhede redelik vinnig. Nie een van die twee het enige beheer oor die frekwensie of dosis nie en verhoog die risiko’s soos reeds bespreek. Indien hierdie apparaat gebruik word, is dit noodsaaklik om slegs geregistreerde middels vir wild soos bv. Coopers Redline Pour-on (G3445) of Drastic Deadline (G723) te gebruik.                                                                             
  • Oom Gielie se dipbak. Hoewel hierdie toediener meer duursaam voorkom, blyk dit meer morsig te wees, wat dipkoste en omgewingsbesmetting weer kan verhoog. Dit lyk ook of die toediener minder goed werk in reënweer.
  • “Tick-off (http://www.tickoff.co.za/) en die Scorpion diptoestelle” (http://www.youtube.com/watch?v=wRHbgsg3v40). Hierdie toediener is meer gesofistikeerd en weeg die diere soos hulle oor loop, maar het steeds geen beheer oor die frekwensie van toediening nie.
  • ‘n Opwindende nuwe konsep het onlangs die lig gesien en bied ‘n internasionaal gepatenteerde konsep waar verfballetjies (“paint balls”) met dip gevul word en gebruik word vir kolbehandeling op wild en beeste. Die balletjies word gevul met 2.5%, 5% of 10% flumetrien (soortgelyk aan Redline en Deadline) en word spesifiek aangedui vir kolbehandeling by 62.5 kg, 125 kg of 250 kg diere onderskeidelik. Proewe het gewys dat hierdie metode baie effektief blyk te wees aangesien die korrekte dosis op ‘n spesifieke dier gebruik word en slegs wanneer dit nodig is om te behandel. U veearts sal `n behoeftebepaling doen en spesifiek aanvra dat die produk vir u vervaardig word.
Daar is verder `n verskeidenheid ongeregistreerde, onwettige of onbeproefde produkte op die mark wat aalwynekstrakte, ivermektien en diatome wat in die voer, lekke of direk op die dier aangewend kan word, insluit.  Geen van hierdie produkte is geregistreer in wild nie en daar bestaan geen bewyse dat die produkte werk nie. Die gebruik van hierdie produkte bly onwettig en mag nie kommersieel verkoop of bemark word nie. Alle produkte wat vir gebruik in diere oor die toonbank verkoop word en daarop aanspraak maak dat hulle parasiete of siektes beheer, word onder wet 36 van 1947 geregistreer en word deur Dept van Landbou geadministreer. Onder die wet word misstowwe, pesdoders en veevoere ook geregistreer (http://www.nda.agric.za onder ‘regulatory and other services’). Indien ‘n produk nie ‘n G nommer op die etiket het nie, is dit onwettig en die verkoop daarvan kan tot vervolging lei.
Dieselfde beginsel kan toegepas word by die beheer van interne parasiete (wurms), maar daar is weereens ‘n magdom van boererate en onwettige produkte beskikbaar wat meestal in lekke of byvoedings aangebied word. Hierdie middels bly onbeproef en ongeregistreerd en stel diere onnodig in gevaar. Daar is ‘n oorgenoeg wetenskaplike bewyse dat alwynsap geen effek op parasiete het nie (beide uitwendig of inwendig) of dat ivermektien (per mond toegedien) nie uitwendige parasiete beheer nie of geen bewyse dat diatome enige effek op wurms het nie. Die toediening van ivermektien of fenbendasool of enige ontwurmingsmiddel vereis noukeurige beheer van die dier se inname wat baie maklik oor- of onderdosering kan veroorsaak. In die verlede was daar ‘n lekblok (Wormablock) wat fenbendasool bevat het en vir gebruik in wild teen rondewurms geregistreer is. Die registrasie het intussen verval en is nie hernu nie. ‘n Te lae inname kan wurmbeheer benadeel waar ‘n te hoë inname weer diere kan vergiftig of skadelike residue in die vleis tot gevolg kan hê.
Daar is ‘n paar veevoervervaardigers wat tans werk aan produkte waar geregistreerde middels in lusernpille ingesluit word, wat goed sal werk in intensiewe stelsels waar inname beheer kan word. Dit bly die enigste veilige en wettige metode wat gebruik kan word vir die behandeling van interne parasiete. Ek glo dat die verfbalkonsep moontlik die gebruik van ivermektien vir uitwendige aanwending inwendige parasietbeheer in die toekoms moontlik sal maak.
Ter opsomming moet die volgende punte net weer beklemtoon word:
  1. Moenie onwettige en ongeregistreerde produkte gebruik nie
  2. Moenie wild te dikwels behandel nie. U benadeel hulle natuurlike weerstand en behandeling moet slegs oorweeg word indien probleme opgemerk word.
  3. Raadpleeg altyd `n spesialis wildveearts oor die beste tyd en plek en metode van behandeling wat benodig word.
Geskryf deur: dr. Peter Oberem, Afrivet Business Management (peter.oberem@afrivet.co.za)
(Dr. Peter Oberem is self ook ‘n wildboer – Faffa)
9 Julie 2011

In antwoord op onderstaande opmerking oor diatomied, die volgende:

  • Ek het gepubliseerde, wetenskaplike artikels gelees wat wys dat indien diatomiet in voëlneste gebruik word, dit die lading van sommige parasiete soos vlooie op die voëls verminder. (Ek kan verstaan dat dit moontlik is in die beperking van ‘n nes.)

 

  • Ek het egter geen wetenskaplike bewyse gesien  dat die gebruik van diatomiet soos aanbeveel op die webblad Diatoms Organic Animal Health enige beduidende voordelige uitwerking op die  beheer van inwendige of uitwendige parasiete van  vee of wild in Suid-Afrika het nie.

 

  • Alhoewel die webblad verwys na Wet 36 van 1947 (sic), is die produkte NIE soos vereis in Wet 36 van 1947 geregistreer vir parasietbeheer NIE en mag NIE as sulks wettig verkoop of gebruik word vir daardie doel nie.

 

  • Laastens, totdat die data, wat die veiligheid en veral die doeltreffendheid soos deur die wet vereis, voorsien word, kan ek nie die gebruik van hierdie produkte aanbeveel vir die beheer van parasiete  nie.

 

Geskryf deur: dr. Peter Oberem, Besturende Direkteur, Afrivet asook wildboer. (peter.oberem@afrivet.co.za)

 

3 November 2012

Lees ook:

Kommentaar

Kommentaar (8) “Bosluis- en endoparasietbeheer in beeste en wild

  1. Koos Visser
    Koos Visser

    Diatome is geregistreer,en wetenskaplik bewys.daar is nie n makliker maniere om bosluise te beheer nie.Ek het vir u bewyse,om deit te staaf,op DVD.voel vry en kontak my op sel 0767195717

  2. Faffa
    Faffa

    In antwoord op bogenoemde opmerking, die volgende:
    1. Ek het gepubliseerde, wetenskaplike artikels gelees wat wys dat indien diatomiet in voëlneste gebruik word, dit die lading van sommige parasiete soos vlooie op die voëls verminder. (Ek kan verstaan dat dit moontlik is in die beperking van ‘n nes.)
    2. Ek het egter geen wetenskaplike bewyse gesien dat die gebruik van diatomiet soos aanbeveel op die webblad Diatoms Organic Animal Health enige beduidende voordelige uitwerking op die beheer van inwendige of uitwendige parasiete van vee of wild in Suid-Afrika het nie.
    3. Alhoewel die webblad verwys na Wet 36 van 1947 (sic), is die produkte NIE soos vereis in Wet 36 van 1947 geregistreer vir parasietbeheer NIE en mag NIE as sulks wettig verkoop of gebruik word vir daardie doel nie.
    4. Laastens, totdat die data, wat die veiligheid en veral die doeltreffendheid soos deur die wet vereis, voorsien word, kan ek nie die gebruik van hierdie produkte aanbeveel vir die beheer van parasiete nie.
    Geskryf deur: dr. Peter Oberem, Besturende Direkteur, Afrivet asook wildboer. (peter.oberem@afrivet.co.za)

  3. Graham
    Graham

    ek wil asseblief een van Oom Gielie se dipbakke koop maar kort sy kontakbesonderhede asb.

    Groete,

    Graham

  4. Johan  Malan
    Johan Malan

    Ek verneem ook graag na Oom Gielie se kontakbesonderhede

  5. Piet Potgieter
    Piet Potgieter

    Ek stel belang in Oom Gielie se dipbakke. Kan u asseblief sy kontakbesonderhede vir my e-pos. Baie dankie

  6. John
    John

    Waar en hoe kry mens oom gilie se bak in die hande , wie is verspreiders??

    • Jan Bezuidenhout

      John, Kontak asb. dr Oberem by: (peter.oberem@afrivet.co.za)
      Groete

  7. Danie Delport
    Danie Delport

    Ons bou ‘n bak uit aluminium met rollers, ons rollers en bakkies mors ook nie so baie dip nie. Gaan na die skakel vir meer inligting.

    http://www.heveersafaris.co.za/node/6


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X