Vra vir Faffa

Bokke se uiers is erg geswel

Vraag

'n Boer soek na raad om sy bokooie se eiers na normaal te laat terugkeer want hulle is verskriklik hard en geswel.

Antwoord

Vraag:
Ek is op soek na enige dinge of medikasie om my bokooie se eiers na normaal te laat terugkeer want hulle is verskriklik hard en geswel. – Zurial (Zalcock@meatco.com.na)

Antwoord:
‘n Bokooi se uier kan as gevolg van ‘n aantal oorsake swel. Kortliks die volgende:
1. Teen die einde van dragtigheid, veral in ooie wat die eerste keer moet lam, of wat swaar gevoer is. Dit is soms pynlik, die ooie blêr en is ongemaklik. Dikwels is daar ook watersug voor die uier. Indien dit die geval is kan ‘n mens elke dag die ooi net effens uitmelk om die ongemak te verminder. Dit sal na lamming verdwyn. Middels kan ook deur ‘n veearts voorgeskryf word.

2. Ooie wat soog, indien hulle lammers vrek of te vroeg gespeen word kan kwaai opswel en dit is ook pynlik. Weereens melk hulle effens maar dikwels uit om die druk te verminder. Moenie te veel uitmelk nie, anders gaan hulle net aanhou om melk te lewer.

3. Absesse en kroniese (langdurige) uierontsteking kan ook die uier laat swel. Hulle voel knopperig en is moeilik of onmoontlik om ekonomies te genees. Soms kan bosluise en uierbesering onderliggend wees. Chirurgie of antibiotika in die spier kan help, maar neem die bok na ‘n veearts vir advies.

4. Mastitis of akute uierontsteking is miskien die gewone oorsaak. Die uier is gewoonlik opgewel, hard, rooi, warm en pynlik. Die melk het dikwels klonte en selfs bloed in. Die uier kan blou word (dus blou uier) en kan in erge gevalle doodgaan en mettertyd afdop. Hoe gouer ‘n mens die diagnose laat maak en behandeling toepas, hoe beter. Ongelukkig is die meeste mastitis middels wat in die uier toegedien word net vir beeste geregistreer, maar na gelang van die geval mag ‘n veearts hierdie middels vir die bokooi voorskryf. Gewoonlik word antibiotika ook terselfdertyd toegedien, die veearts sal die beste een vir die omstandighede kan voorskryf. Die diagnose van die monster moet deur die veearts aan ‘n laboratorium gestuur word sodat die beste middels uitgeken kan word. Sodoende kan die geskikte entstof ter voorkoming ook uitgewys word. Die onderliggende oorsake moet egter nie verontagsaam word nie. Hulle moet uitgeken en sover moontlik uitgewis word om die doeltreffendheid van die entstof te verbeter.

Hierdie probleem behoort in samewerking met die veearts ondersoek en opgelos te word.

 

  • Geskryf deur prof. Gareth Bath, Fakulteit Veeartsenykunde, Universiteit van Pretoria (gareth.bath@up.ac.za)

    30 Junie 2007-06-30


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X