Vra vir Faffa

Bokboerdery: drakrag, voeding, hartwater, skandering

Vraag

Ons het net 110 ha grond met baie rosyntjiebos en doringbos. Dit is goed omhein met volop water. Hoeveel bokke kan hier wei en watse byvoeding gee ek? Ek wil hartwater vermy. Hoe doen ek dit? Ons wil net meerlingooie hou, maar hoe kan ons dit vroegtydig vasstel? Die hartwaterprobleem is al volledig bespreek. Wat is die drakrag van die Bosveld vir bokke?

Antwoord

Dieselfde voedingsprogram (aangeheg) wat vir skape gebruik word, gee uitstekende resultate met boerbokke.

 Die geboortestatus van ‘n lam kan ses weke nadat die ramme uitgehaal is, bepaal word deur die dragtige ooie te skandeer.
 
Die drakrag word deur baie faktore bepaal en daarom is dit onmoontlik om ‘n akkurate syfer te gee. Indien die jaarlikse reënval ongeveer 550 mm op baie goeie veld is, kan ongeveer 1 bok per hektaar aangehou word. Kry meer akkurate syfer van omliggende boere.
 
Navorsing toon dat vinniger genetiese vordering met reproduksietempo gemaak word deur ooie te selekteer wat meerlinge speen, ongeag of sy as ‘n enkeling gebore is. Gebruik slegs ramme wie se moeders 1.5, maar verkieslik tweemaal meer lammers gespeen het as wat sy lamkanse gehad het.
Om tweelinge vas te stel, kontak u veearts om die ooie te kom skandeer.
 
VOEDINGSPROGRAM VIR SKAPE EN BOKKE ONDER EKSTENSIEWE EN SEMI-
INTENSIEWE TOESTANDE
 
 
Die doel van hierdie artikel is om slegs breë riglyne te gee met betrekking tot ‘n voedingsprogram vir skape onder ekstensiewe en semi-intensiewe toestande. Indien meer spesifieke inligting verlang word, moet dr. Jasper Coetzee geskakel word.
 
1. Prikkelvoeding van teelramme
 
Produsente is dikwels bereid om aansienlike bedrae vir teelramme te betaal, maar is soms nie bereid om ‘n bietjie moeite te doen asook ‘n paar rand te spandeer om hierdie diere behoorlik voor te berei om maksimum reproduksietempo te verseker nie. Om ‘n hoë besetting en ‘n hoë persentasie tweelinggeboortes te verseker, moet ramme in ‘n uitstekende kondisie (3.5 tot
4.0 KP); vrugbaar en dekbehendig wees; oor ‘n baie hoë geslagsdrang beskik en topfiks wees om ooie meermale gedurende haar hittesiklus te dek asook groot testes (skrotumomtrek van meer as 35 cm op 15 maande ouderdom) hê om voldoende spermselle te produseer. Aangesien die ontwikkeling van spermselle ongeveer twee maande neem, moet byvoeding vir ten minste twee maande voorsien word. Teelramme moet gevolglik vanaf twee maande voor die paarseisoen ‘n deurvloeiproteïengebaseerde ramprikkelrantsoen soos Voermol Superlam-korrels of ‘n Ramprikkelmengsel (200 kg Voermol SS 200 + 150 kg Voermol Procon + 80 kg Voermol Melassemeel + 575 kg gemaalde mielies of heel garspitte) teen ‘n beperkte peil (500 – 1 500 g/ram/dag) gevoer word. Daar moet voldoende vreetspasie (± 60 cm/ram) wees sodat alle ramme gelyktydig kan vreet. Indien die weiding skaars is, moet goeie kwaliteit lusernhooi ad lib. eenkant bygevoer word. As alternatief kan ‘n volledige ramrantsoen [250 kg gemaalde lusern (25 mm) + 425 kg gemaalde mielies of heel garspitte + 200 kg Voermol SS 200 + 50 kg Voermol Procon + 80 kg Voermol Melassemeel) gevoer word.
 
Sodra byvoeding ‘n aanvang neem, moet met die oefening (30 minute vinnig stap twee maal daagliks) van die ramme begin word. Waar geoefende (fikse) ramme met ooie gepaar is, was die besetting van die ooie 92 % teenoor die 76 % van die ongeoefende ramme se ooie. Alle ander aktiwiteite soos die nodige doserings (vir beide ronde- en neuswurm) en entings (bv. multi-klostridiale entstof) moet ongeveer ses weke voor die paarseisoen uitgevoer word. Daarbenewens moet Multimin™ (G1853) asook Vitamine A en E drie maande voor die paarseisoen gespuit word terwyl entings wat koors veroorsaak, soos byvoorbeeld bloutong, na die paarseisoen gespuit moet word. Voldoende koel en skoon drinkwater moet te alle tye beskikbaar en so na as moontlik aan die skaduwee wees. Voorsien skaduwee in warm maande en beskutting teen ongure weerstoestande. Saadkwaliteit van teelramme kan verbeter word deur hulle vanaf agt weke voor die paarseisoen met koringkiemolie (± 25 ml/ram) twee tot drie keer per week te doseer.
 
2. Uitgroei van vervangingsooie (jongooie)
 
Om ‘n hoë lampersentasie te verseker, mag ooilammers geen massa verloor van speen totdat hulle die eerste keer lam nie. Verder moet hulle 80 % van volwasse liggaamsmassa met eerste paring weeg indien hulle op 12 maande of jonger vir die eerste keer gepaar word. Indien ouer as 12 maande gepaar word, is die teikenparingsmassa 90 % van volwasse liggaamsmassa. Die optimale uitgroei van vervangingsooie is noodsaaklik om hulle volle genetiese produksie- en reproduksiepotensiaal te ontsluit. Waar Döhnemerino-jongooie 80 % van die volwasse ooie se massa met paring op 11 of 14 maande ouderdom bereik het, was 55 % van hierdie jongooie dragtig met tweelinge. Jongooie moet gevolglik altyd byvoeding, vanaf speen tot met speen van hulle eerste lammers, ontvang waarna hulle by die volwasse ooie se voedingsprogram ingeskakel kan word.
 
Afhangend van die gehalte en die hoeveelheid van die weiding, moet die jongooie die volgende kragvoermengsel op beide droë weiding (500 tot 1 000 g/ooi/dag) en groenweiding (100 tot 500 g/ooi/dag) gevoer word: 200 kg Voermol SS 200 + 50 kg Voermol Procon + 40 kg Voermol Melassemeel + 700 kg gemaalde mielies of heel garspitte. Deur die jongooie of ‘n merkergroep gereeld, elke twee tot drie weke, te weeg, kan die voedingspeil van die kragvoeraanvulling so gereguleer word dat die berekende groeitempo gehandhaaf word om die teikenmassa met eerste paring te bereik. Voer hierdie kragvoeraanvulling daagliks met vreetspasie (± 35 – 44 cm/ooitjie) vir elke dier om optimale uitgroei van jongooie te verseker. Speenooilammers wat op weimielies of mielie-oesreste met baie pitte uitgegroei word, moet Voermol Landelek (150 – 200 g/ooitjie/dag) gevoer word; ‘n beter mengsel is 150 kg Voermol Landelek plus 50 kg Voermol Procon (250 – 350 g/ooitjie/dag). Op staande sojahooi (ongeoeste sojabone) of op soja-oesreste met baie pitte word Voermol Molovite (200 g/ooitjie/dag) aanbeveel. Vir elke 1 kg wat sy swaarder is met eerste paring, styg haar lampersentasie met ongeveer 1.5 tot 2.5 %. Om ‘n hoë lampersentasie te verseker, moet jongooie in ‘n uitstekende kondisie (3.5 KP) met eerste paring wees en hulle teikenmassa met eerste paring bereik het. Daarbenewens word die hoogste lampersentasie verkry indien die voedingspeil van jongooie alreeds vanaf twee maande voor die paarseisoen verhoog word deur hulle in spaarkampe te plaas en voort te gaan met bogenoemde kragvoeraanvulling tot 21 dae voor die paarseisoen wanneer daar na prikkelvoeding oorgeskakel word.
 
3. Prikkelvoeding van teelooie
 
Ooie wat met paring in massa toeneem, is meer geneig om tweelinge te produseer as dié wat massa handhaaf of verloor. Besetting en tweelinggeboortes neem af indien die ooie kort voor die paarseisoen massa verloor. Ovulasietempo (aantal eiselle per hittesiklus afgeskei) bepaal die boonste limiet van die ooi se fekunditeit (meerlinggeboortes) en dit word geneties beheer. Die mate waarin ‘n ooi haar genetiese reproduksiepotensiaal bereik, is afhanklik van omgewingsfaktore soos voeding en bestuur (Downing & Scaramuzzi, 1991). Voeding het volgens Rowe & Atkins (2005) die grootste invloed (>70%). Om dus ‘n hoë lampersentasie te verseker, moet ooie in ‘n uitstekende kondisie (3.5 KP) met paring wees en vir elke kg wat hulle swaarder is met paring, styg die lampersentasie met ongeveer 1.5 tot 2.5 %. Om ooie in ‘n stygende massa te kry, moet hulle twee maande voor die paarseisoen in spaarkampe geplaas word en vanaf minstens drie weke voor die paarseisoen vir minstens ses weke ‘n prikkellek gevoer word.
 
Op droë weiding word Voermol Maxiwol Produksiekorrels as ‘n prikkellek teen 300 tot 400 g/ooi/dag gevoer. Maxiwol Produksiekorrels moenie gevoer word waar die drinkwater brak is of waar baie brakbossies voorkom nie, want dit sal onvoldoende lekinname tot gevolg hê. Geen soutlek of -klip moet daarom gevoer word nie. Op groenweiding of waar die drinkwater brak is of waar baie brakbossies voorkom, moet ‘n Maxiwollekmengsel (250 kg Voermol Maxiwolkonsentraat + 200 kg gemaalde mielies of heel garspitte + 50 kg sout) teen 300 tot 400 g/ooi/dag as ‘n prikkellek gevoer word. Waar koggelramme gebruik word, kan die voedingspeil van die prikkellek vir volwasse ooie teen die vierde week van die paarseisoen na 250 g/ooi/dag en die volgende week na 200 g/ooi/dag verlaag word. Laasgenoemde is onderhoudvoedingspeil en behoort voldoende vir vroeë dragtige volwasse ooie te wees, totdat die ramme uitgehaal word, indien daar voldoende weiding beskikbaar is. Indien koggelramme nie gebruik word nie, moet die prikkelvoedingspeil eers vanaf die sesde week van die paarseisoen verlaag word. Die rede waarom die prikkelvoedingspeil verlaag word, is omdat navorsing toon dat die hoogste embrio-oorlewing geskied waar ooie kort na besetting op ‘n onderhoudvoedingspeil gevoer word. Daarenteen word die prikkellek vir jongooie, totdat die ramme uitgehaal word, teen dieselfde vlak (300 g/ooi/dag) as vir prikkelvoeding voorsien om hulle aanbevole teikenmassatoenames (± 70 tot 180 g/ooi/dag) te handhaaf. Enige massaverlies moet by beide die jong- en volwasse ooie gedurende die paarseisoen voorkom word, want dit kan embrio-resorpsie tot gevolg hê. Die nuutste navorsing toon dat dit ekonomiese geregverdig en ononderhandelbaar is om prikkelvoeding te voorsien aan ooie wat hulle laaste lamseisoen tweelinge gelam het, asook aan jongooie wat die eerste keer gepaar word. Die res van die ooie word slegs prikkelvoer gevoer indien hulle maer of skraal (< 3.0 KP) is, maar nie as hulle in ‘n uitstekende kondisie (3.5 KP) is nie omdat dit dan nie ekonomies geregverdig is nie.
 
Ooie moet vier tot ses weke voor die paarseisoen met Multimin™ (G1853) plus Vitamien A & E gespuit word, asook die nodige doserings en entings (multiklostridiale entstof & Ensoöties aborsie) ontvang. Vanaf vier weke voor die paarseisoen moet ooie rustig gehou word en geen stresvolle aktiwiteite moet in hierdie periode uitgevoer word nie. Waar ooie twee tot vier weke voor die paarseisoen geskeer en gedip is, was die besetting 89 % as gevolg van hierdie stresvolle aktiwiteite teenoor 96 % waar hierdie aktiwiteite langer as vier weke voor die paarseisoen uitgevoer is. Waar ooie kort voor paring oor ‘n lang afstand aangejaag is, het die stres as gevolg daarvan hulle ovulasietempo met tot 60 % verlaag. Vermy die paring van ooie op klawer- en lusernweiding wat aan ‘n vogstremming ly, deur insekte beskadig of met virusse of swamme besmet is omdat hierdie plante onder hierdie omstandighede hormone produseer wat die lampersentasie nadelig kan beïnvloed. 
 
4. Voeding gedurende vroeë dragtigheid
 
Enige faktore wat spanning kan veroorsaak, moet gedurende vroeë (eerste maand van) dragtigheid vermy word, want dit kan embriomortaliteite tot gevolg hê. Waar ooie gedurende paring gehanteer is deur hulle elke vierde dag kraal toe te bring om gedekte ooie te identifiseer, was hulle lampersentasie 65 % teenoor die 98 % van die ooie wat nie gehanteer is nie. Om embriomortaliteite en afsterwing van die fetusse te voorkom, moet waar moontlik, geen stresvolle aktiwiteite (bv. dosering, ent, skeer, dip, ensovoorts) gedurende die paarseisoen tot minstens een maand nadat die ramme uitgehaal is, uitgevoer word nie. Die verskil (ook bekend as verdwynfaktor) tussen die aantal lammers geskandeer en dié wat werklik gebore (dood en lewendig) word, is ‘n aanduiding van die embrionale en fetale verliese (fetusse wat afsterf) en kan maklik so hoog as 23 % en selfs hoër wees.
 
Gedurende die eerste maand van dragtigheid moet volwasse ooie hulle massa handhaaf terwyl jongooie ongeveer 70 tot 180 g/ooi/dag in massa moet toeneem (NRC, 2007). Weens die risiko van resorpsie mag ooie nie gedurende vroeë dragtigheid geweeg word nie. Die gebruik van koggelramme is hoogs aan te beveel omdat dit prikkelvoeding nog meer betalend maak. Waar ooie vanaf drie weke voor die paarseisoen vir ses weke prikkelvoeding (300 g/ooi/dag) ontvang het, word volwasse ooie se voedingspeil na ses weke van prikkelvoeding aangepas indien koggelramme gebruik is. Waar koggelramme gebruik word, kan die voedingspeil van die prikkellek vir volwasse ooie dus teen die vierde week van die paarseisoen na 250 g/ooi/dag en die volgende week na 200 g/ooi/dag verlaag word. Laasgenoemde is onderhoudvoedingspeil en indien daar voldoende weiding beskikbaar is, behoort dit voldoende vir vroeë dragtige volwasse ooie te wees totdat die ramme uitgehaal word. Indien koggelramme nie gebruik word nie, moet die prikkelvoedingspeil eers vanaf die sesde week van die paarseisoen verlaag word. Die rede hoekom die prikkelvoedingspeil verlaag word, is omdat navorsing toon dat die hoogste embrio-oorlewing geskied waar ooie kort na besetting op ‘n onderhoudvoedingspeil gevoer word. Daarenteen word die prikkellek vir jongooie, totdat die ramme uitgehaal word, teen dieselfde vlak (300 g/ooi/dag) as vir prikkelvoeding, voorsien om hulle aanbevole teikenmassatoenames te handhaaf.
 
Enige massaverlies moet by beide jong en volwasse ooie gedurende vroeë dragtigheid voorkom word, want dit kan embrioresorpsie tot gevolg hê. Wanneer die ramme uitgehaal word, word die byvoedingspeil van beide die jong en volwasse ooie aangepas en word daar gewoonlik na ander lekke oorgeskakel. Die lekke moet verseker dat ‘n matige massatoename gedurende middragtigheid gehandhaaf word (sien Middragtigheid, Afdeling 5). Hou ooie rustig en staak alle aktiwiteite gedurende die paarseisoen en die eerste paar weke (± 4 – 6 weke) nadat die ramme uitgehaal is om embrionale en fetale vrektes te beperk (Henderson, 1990). Voorsien skaduwee (in die vorm van bome of skadunet) as die dagtemperatuur meer as 28 ° C, maar definitief as dit meer as 32 ° C is. Ooie moet altyd vrylik toegang tot skoon en goeie gehalte drinkwater hê wat so na as moontlik aan die skaduwee moet wees. Baie brak- en soutwater verhoog die hittespanning wat die risiko vir embrionale en fetale verliese verhoog.
 
5. Voeding gedurende middragtigheid
 
Gedurende middragtigheid (Maand twee en drie van dragtigheid) is die optimale groei van die plasenta (nageboorte) van kritieke belang. ‘n Klein nageboorte gee aanleiding tot ‘n toename in lamvrektes weens te klein lammers (minder as 3.5 kg) met geboorte as gevolg van swak lewensvatbaarheid van die pasgebore lammers; swak moedereienskappe en ‘n lae melkproduksie van die ooie (Kelly en Ralph, 1990). Die plasenta produseer hormone wat noodsaaklik is vir die instandhouding van dragtigheid; ontwikkeling van die uier en die stimulering van moedereienskappe. ‘n Afname van tot 25 % in melkproduksie is by ooie waargeneem wat voor Dag 100 van dragtigheid ondervoed is ten spyte daarvan dat hulle ad lib.-voeding gedurende die laaste ses weke van dragtigheid ontvang het (Mavrogenis et al., 1980).
 
Gedurende die tweede en derde maand van dragtigheid moet volwasse ooie met enkelingfetusse ± 50 g/dag; dié met tweelingfetusse ± 80 g/dag; dié met drielingfetusse ± 100 g/dag in massa toeneem. In die geval van jongooie is die onderskeie massatoenames ongeveer 100; 110 en 140 g/dag (NRC, 2007). Voedingspeile vir die onderskeie groepe ooie kan eers aangepas word na skandering, wat geskied ongeveer 42 dae nadat die ramme uitgehaal is.
 
Dit gebeur dikwels dat weens baie goeie voedingstoestande die produsent min beheer het oor die weidingsinname van die middragtige ooi wat soms tot gevolg het dat die ooie baie en selfs uitermatig vet kan word. Dit kan grootliks voorkom word deur die drakrag te verhoog. Ooie moet met skandering in groepe (droë ooie; ooie met enkelingfetusse; ooie met tweelingfetusse en ooie met drielingfetusse) verdeel word sodat differensiële voeding (voeding volgens behoefte) toegepas kan word. Dragtige jongooie moet egter apart van dragtige volwasse ooie gehou en bestuur word. Om bestuur te vergemaklik, kan van die onderskeie groepe met oorleg bymekaar gevoeg word. Met differensiële voeding kan presisievoeding toegepas word. Dit is die mees kostedoeltreffende en ekonomiese manier om ooie te voer. Alle droë ooie, insluitend jongooie wat vir die eerste keer gepaar is, moet met skandering uitgeskot word. As alternatief kan droë ooie na ‘n kruisteeltkudde geskuif word, maar met hulle eerste mislukking (nie ‘n lam speen nie) moet hulle summier geprul word.
 
Indien middragtige ooie nie in staat is om hulle teikenmassatoename op die beskikbare weiding te handhaaf nie, skakel op die stadium wanneer die ramme uitgehaal word oor na ‘n geskikte onderhoudslek. Die tipe lek hang van die tipe weiding, asook die gehalte en hoeveelheid daarvan af. Op volop droë weiding kan een van die volgende onderhoudslekke (100 tot 180 g/ooi/dag) voorsien word:
 
(1)       Rumevite Ekonolek (V11147).
(2)       250 kg Voermol Winslekkonsentraat (V17865) + 50 kg gemaalde mielies, heel garspitte of Voermol Melassemeel (V1995) + 100 kg sout.
(3)       Voermol Proteïenblok (V10448).
 
Indien die droë weiding skaars is of as die aanbevole onderhoudslekke nie die voorgeskrewe massatoenames, veral in die geval van jongooie, handhaaf nie, kan een van die volgende produksielekke (250 tot 350 g/ooi/dag) voorsien word:
 
(1)       700 kg Rumevite Ekonolek + 300 kg gemaalde mielies of heel garspitte.
(2)       400 kg Voermol Winslekkonsentraat + 400 kg gemaalde mielies of heel garspitte +
150 kg sout.
(3)       Voermol Energieblok (V11456) of Voermol Produksielek (V10108) of Voermol Maxiwol Produksiekorrels (V15415).
 
Op groen aangeplante weiding kan Voermol Molovite (V7266) teen 200 g/ooi/dag en op groen natuurlike veldweiding Voermol Supermol (V7267) teen 250 g/ooi/dag aangevul word om die voorgeskrewe massatoenames te handhaaf. Indien die voorgeskrewe massatoenames nie met hierdie lekke op groenweiding gehandhaaf kan word nie, moet dit om die helfte met gemaalde mielies of heel garspitte gemeng en teen onderskeidelik teen 400 en 500 g/ooi/dag gevoer word.
 
6. Voeding gedurende laatdragtigheid
 
Laatdragtigheid (vierde en vyfde maand van dragtigheid) is een van dié belangrikste stadiums in die reproduksiesiklus van die ooi omdat ongeveer 80 % van die fetusgroei gedurende hierdie stadium van dragtigheid plaasvind wat ‘n betekenisvolle toename in die voedingsbehoeftes van die laatdragtige ooi tot gevolg het (Bell, 1995; Dawson et al., 1999). Die feit dat ongeveer 80 % van lamvrektes verband hou met die voeding van die ooi gedurende die laaste paar weke voor en onmiddellik na lam, beklemtoon verder die belangrikheid van voldoende en korrekte voeding gedurende laatdragtigheid (Seymour, 1998).  Indien ooie slegs vir een week gedurende laatdragtigheid ondervoed word, kan goeie voeding daarna nooit ten volle daarvoor vergoed nie (Mellor & Matheson, 1979). Laatdragtige ooie met enkelingfetusse moet dus vanaf vier weke voor lam; dié met tweelingfetusse vanaf ses weke en dié met drielingfetusse vanaf agt weke voldoende voedingstowwe (d.i. deurvloeiproteïen, energie, minerale, spoorelemente en vitamines) inneem om uier-ontwikkeling te stimuleer; bies- en melkproduksie te verhoog; moedereienskappe van die ooie en lewenskragtigheid van lammers te verbeter, asook geboorteprobleme (geel lammers met geboorte) en abnormale dik en taai bies te beperk en om ‘n ideale geboortemassa (4.5 tot 5.5 kg) te verseker wat maksimum lamoorlewing tot gevolg het en wat almal meehelp om lamvrektes te beperk en/of lamgroei te verhoog. Volgens Robinson (1990) is uierontwikkeling direk afhanklik van die hoeveelheid deurvloeiproteïen ingeneem. Die aanvulling van deurvloeiproteïen op swak gehalte droë weiding het die massa lam gespeen per ooi gepaar met tot 5.1 kg verhoog, asook die daaropvolgende lampersentasie met tot 28 persentasie-eenhede (Brand, 1999). Volwasse ooie moet minstens 15 % (d.i. 7.5 kg vir ‘n 50 kg ooi) en jongooie 10 % in massa gedurende die laaste twee maande van dragtigheid toeneem om ‘n gewenste geboortemassa (3.5 – 5.5 kg) vir hoë lamoorlewing te verseker.
 
Die voorsiening van ‘n hoë deurvloeiproteïenlek (300 – 500 g/ooi/dag) soos ‘n Maxiwol-lekmengsel (250 kg Voermol Maxiwol + 200 kg gemaalde mielies of heel garspitte + 50 kg sout); Maxiwol Produksiekorrels; Maxiwol Readymix of Maxiblok voor lam is ononderhandelbaar. Indien die weiding skaars is of waar ooie in lamkampe of lamhokke laat lam word, moet ‘n volledige lammerooirantsoen [375 kg gemaalde lusern (20 – 25 mm lengtes) + 350 kg gemaalde mielies of heel garspitte + 150 kg Voermol Maxiwolkonsentraat + 50 kg Voermol Procon + 80 kg Voermol Melassemeel]  vanaf vier of selfs ses weke voor lam gevoer word. Aangesien hierdie rantsoen ureum bevat, moet die maksimum inname tot 2.5 kg/ooi/dag beperk word om ureumvergiftiging te voorkom. Indien hoër peile gevoer moet word, skakel dr. Jasper Coetzee vir ‘n alternatiewe rantsoen. Ooie moet stadig en geleidelik op hierdie volledige rantsoen aangepas word om suurpens te voorkom. Sorg dat ooie voldoende vreetspasie (langwol ooie: ± 45 – 50 cm/ooi; kortwol ooie: ± 40 – 45 cm/ooi) op die volledige lammerooirantsoen het. Ooie wat gedurende laatdragtigheid ondervoed is se piek en volhoubaarheid van melkproduksie is laer as goed gevoerde ooie. Ooie moet ook vier tot ses weke voor lam met Multimin™ (G1853) asook Vitamien A en E ingespuit word, asook die nodige doserings en entings (multiklostridiale) ontvang.
 
7. Voeding gedurende laktasie
 
Die voedingspeil gedurende die eerste twee maande na lam moet sodanig wees dat ooie nie meer as 10% van hulle massa verloor nie. Proewe toon dat waar die ooie meer massa verloor het, hulle daaropvolgende lampersentasie tot 25 en in een geval tot 51 persentasie-eenhede laer was. Dit is toelaatbaar dat ooie in vroeë laktasie kondisie verloor solank die kondisiepunt nie laer as 2.0, maar verkieslik nie laer as 2.5 daal nie. Die doelwit moet wees dat jongooie wat vir die eerste keer lam, nie meer as 3 % en volwasse ooie nie meer as 7 % in massa gedurende die eerste twee maande van laktasie verloor nie.
 
‘n Beperking van voerinname kan melkproduksie met tot 50 % verlaag. Die groei van tweelinglammers word nadelig beïnvloed indien lakterende ooie vir langer as 10 dae ‘n voedingsbeperking ervaar. Melkproduksie van lakterende ooie word nadelig beïnvloed deur ‘n voedingsbeperking van vier weke en geen styging in melkproduksie vind plaas nie al word ad lib-voeding na hierdie periode voorsien. Die ideaal is dat ooie na lam na groen aangeplante weiding of weimielies geskuif word. Om ‘n hoë speenmassa te verseker, asook ‘n hoë lampersentasie met die daaropvolgende lamseisoen, moet dieselfde deurvloeiproteïen-gebaseerde lek of volledige lammerooirantsoen wat gedurende laatdragtigheid gevoer word ook gedurende vroeë laktasie op die beskikbare weiding gevoer word. Na lam word die onderskeie laatdragtigheidsvoedingspeile van die Maxiwollekke met ± 100 g/ooi/dag verhoog terwyl volledige voere vir ooie wat onderskeidelik een- en tweelinglammers soog teen ongeveer 3 % en 4 % van liggaamsmassa gevoer word. Lakterende ooie op weimielies of mielie-oesreste met baie pitte, moet ‘n spesiale lekmengsel (150 kg Voermol Landelek plus 50 kg Voermol Procon) teen 250 tot 350 g/ooi/dag gevoer word. Op staande sojahooi (ongeoeste sojabone) of op soja-oesreste met baie pitte word Voermol Molovite (200 g/ooi/dag) aanbeveel.
 
Indien ooie nie skandeer word nie, moet die soog- en droogtegniek gebruik word om droë ooie asook ooie wat gelam het, maar met stertsny geen lam soog nie, te identifiseer. Al hierdie ooie, insluitend jongooie wat die eerste keer gepaar is, moet uitgeskot word. Hierdie ooie moet verkoop word en die inkomste kan gebruik word om dragtige ooie, verkieslik dié wat met tweelinge dragtig is, in te koop. As alternatief kan droë ooie na ‘n kruisteeltkudde geskuif word, maar met hulle eerste mislukking (nie ‘n lam speen nie) moet hulle summier geprul word.
 
8. Kruipvoeding van sogende lammers
 
Weens die uiters doeltreffende voeromsetting van die jong lam, moet alles moontlik gedoen word om te verseker dat die lam volgens sy maksimum genetiese groeipotensiaal groei. Die twee hooffaktore wat die groei van sogende lammers op weiding beperk, is die onvermoë van die lam se rumen om die weiding doeltreffend te benut en die lam se relatief klein rumengrootte wanneer ‘n weiding met ‘n hoë voginhoud bewei word (Joyce & Rattray, 1970). Die voorsiening van kruipvoer aan sogende lammers is ononderhandelbaar vir winsgewende skaapproduksie. Kruipvoeding verhoed speenskok en maak dit moontlik om lammers alreeds op 72 dae ouderdom op ‘n minimum massa van 25 kg vroeg te speen. Waar lammers op 100 dae gespeen word, sal kruipvoeding verseker dat lammers se speenmassa minstens 45 %, maar verkieslik 50 % van hulle volwasse massa is. Lammers wat kruipvoeding ontvang, kan 10 tot 20 % swaarder met speen wees en tot 50 dae vroeër bemark word terwyl ‘n groot persentasie lammers direk van die ooie op drie tot vier maande ouderdom bemark kan word. Sogende lammers wat direk van die ooie bemark word, het ‘n baie hoë uitslagpersentasie (> 50 %). ‘n Ooilam wie se moeder goeie voeding vanaf vier weke voor lam tot speen ontvang het, asook die ooilam self tot op 14 weke ouderdom, maar verkieslik tot geslagsrypheid, sal maksimum ontwikkeling van die toekomstige reproduksiepotensiaal van die ooilam verseker. Spierselvermeerdering by lammers vind tot op drie maande ouderdom en spiergroei tot op ongeveer nege maande ouderdom plaas. Die maksimering van beide verhoog die karkaswaarde van slaglammers en die uiteindelike volwasse grootte van jongramme asook -ooie, wat in laasgenoemde geval verhoogde leeftydproduksie en -reproduksie tot gevolg het.
 
‘n Gemaalde kruipvoermengsel (150 kg Voermol SS 200 + 175 kg Voermol Procon + 40 kg Voermol Melassemeel + 625 kg gemaalde mielies of heel garspitte) of kruippille (150 kg Voermol SS 200 + 150 kg Voermol Procon + 600 kg gemaalde mielies of heel garspitte + 100 kg lusern) kan vanaf twee weke ouderdom tot ongeveer twee weke na speen ad lib. gevoer word.  Sorg dat daar voldoende vreetspasie (± 2.5 tot 5 cm/lam) is. Lammers wat kruipvoeding ontvang en vir die slagmark bestem is, kan op ses weke ouderdom met ‘n geskikte oorinplantaat (bv. Ralgro® of Zeraplix) geïnplanteer word omdat dit groei en voeromsetting verbeter.
 
9. Voeding van droë ooie
 
Na speen moet droë ooie voldoende geleentheid gebied word om hulle massa, wat hulle sedert die vorige paarseisoen verloor het, te herwin. Om prikkelvoeding te spaar, moet ooie reeds op die stadium wat hulle lammers gespeen word, volgens kondisie in minstens twee groepe (skraal vs. goeie kondisie) verdeel word. Die skraal ooie moet dan op beter weiding geplaas word om hulle kondisie te herwin sodat hulle met die aanvang van die prikkelvoedingsperiode in ‘n goeie kondisie (minstens 3.0 KP) is. Afhangend van die kondisie van die ooie met speentyd blyk dit dat die beste resultate in terme van lampersentasie verkry word as lammers minstens drie maande voor die volgende paarseisoen gespeen word. Proewe in dié verband toon dat dit die besetting van ooie bevoordeel (98 % vs. 90 % en 94 % vs. 79 %). Daar moet gepoog word om droë ooie met die aanvang van die prikkelperiode in ‘n goeie kondisie (minstens 3.0 KP) te hê. Indien die gehalte en hoeveelheid van die beskikbare weiding van so ‘n aard is dat hierdie mikpunt (d.i. 3.0 KP) nie haalbaar is nie, moet ‘n lek verskaf word. Die tipe lek hang van die tipe weiding, asook die gehalte en hoeveelheid daarvan af. Een van die volgende produksielekke (250 tot 350 g/ooi/dag) kan oorweeg word:
 
(1) 700 kg Rumevite Ekonolek + 300 kg gemaalde mielies of heel garspitte.
(2) 400 kg Voermol Winslekkonsentraat + 400 kg gemaalde mielies of heel garspitte +
150 kg sout.
(3) Voermol Energieblok (V11456) of Voermol Produksielek (V10108) of Voermol Maxiwol Produksiekorrels (V15415).
 
Op groen aangeplante weiding kan Voermol Molovite (V7266) teen 200 g/ooi/dag en op groen natuurlike veldweiding Voermol Supermol (V7267) teen 250 g/ooi/dag aangevul word om die voorgeskrewe massatoenames te handhaaf. Indien die voorgeskrewe massatoenames nie met hierdie lekke op groenweiding gehandhaaf kan word nie, moet dit om die helfte met gemaalde mielies of heel garspitte gemeng en teen onderskeidelik teen 400 en 500 g/ooi/dag gevoer word.
 
10. Afronding van speenlammers op aangeplante weiding
 
Speenlammers wat vir die slagmark bestem is, kan met die gebruik van ‘n spesiale deurvloeiproteïenlek asook deur die volg van spesifieke bestuursriglyne meestal heelwat meer winsgewend op aangeplante weiding as in ‘n voerkraal afgerond word. Afgesien daarvan dat die lammers in hierdie stelsel dieselfde groeitempo as in ‘n voerkraal kan handhaaf, kan hulle tot 30 dae en sommige gevalle tot 60 dae gouer as dié wat geen byvoeding op die weiding ontvang het nie, afgerond word. Dit het tot gevolg dat meer diere op die weiding afgerond kan word of dat meer weiding vir die res van die kudde beskikbaar is. Voorvereistes vir suksesvolle afronding is goed uitgegroeide (28 – 32 kg) en gesonde lammers wat met Ralgro® of Zeraplix geïnplanteer is en die voorsiening van Voermol Superlamkorrels op ‘n digte stand, volop aktiefgroeiende, goeie kwaliteit, groen blaarryke en smaaklike aangeplante weiding. Voermol Superlamkorrels moet daagliks in bakke teen 300 tot 800 g/lam/dag gevoer word. Daar moet voldoende vreetspasie (± 25 – 30 cm/lam) wees sodat alle lammers gelyktydig kan vreet. Die lammers moet die nodige doserings en entings (multiklostridiale) ontvang voordat afronding ‘n aanvang neem.
 
11. Afronding van speenlammers in ‘n voerkraal
 
Diversifisering word algemeen aanvaar as ‘n strategie om die risiko in landbou te beperk. In hierdie verband behoort voerkraalafronding van eie lammers ‘n integrale deel van ‘n skaapboerdery uit te maak om die risiko te verlaag. Om maksimum wins in ‘n voerkraal te realiseer, is dit van kritieke belang om die voerkoste per kg massatoename te verlaag hoofsaaklik deur verbetering van die voeromsetting (kg voer ingeneem/kg massatoename). Voeromsettingverhouding (VOV) verbeter soos die energiekonsentrasie van die rantsoen verhoog deurdat die voerinname daal terwyl die groeitempo (GDT) toeneem. Maksimum winsgenerering kan egter nie geskied deur die voerkraalrantsoen goedkoper te maak deur goedkoper grondstowwe (bv. laegraadse ruvoer, newe- en/of afvalprodukte) met ‘n lae energiedigtheid en voedingswaarde te gebruik nie omdat dit tot ‘n drastiese verlaging van voeromsetting sal lei. Daarenteen, hoe duurder hoë kwaliteit grondstowwe word, hoe belangriker en kritieker raak die gebruik van groeibevorderaars soos voerbymiddels en groeistimulante om die voeromsetting te verbeter en dus wins te maksimeer.
 
‘n Hoë insluiting van deurvloeiproteïenbronne (bv. 10 tot 15 % Voermol Procon) in voerkraalrantsoene is hoogs aan te beveel, want dit verbeter VOV en bevorder spiergroei wat op sy beurt die uitslagpersentasie verhoog (Beerman et al., 1986). Soos die deurvloei-proteïeninname toeneem, verbeter die VOV en die uitslagpersentasie. Hoe beter die gehalte van die ruvoer hoe hoër die verteerbaarheid en hoe smaakliker is dit wat dus ‘n hoër energie-inname en ‘n beter VOV verseker. Aangesien die gehalte van die lammers wat afgerond word ook ‘n groot invloed op die voeromsetdoeltreffendheid en groeitempo en gevolglik die winsgewendheid van voerkraalafronding het, moet slegs lammers wat oor ‘n uitstekende genetiese voeromsettingspotensiaal beskik, afgerond word. Voorvereistes vir maksimum winsgenerering in ‘n voerkraal is goed uitgegroeide (28 – 32 kg) en gesonde lammers wat verkieslik kruipvoeding ontvang het; suksesvolle aanpassing, asook doeltreffende prosessering en uitstekende voerkraalbestuur en -fasiliteite. Daarbenewens is die voorsiening (drie maal per dag) van ‘n hoë gehalte en gebalanseerde, hoogs smaaklike, energieryke rantsoen met die nodige buffers, ammoniumsoute, groeistimulante, deurvloeiproteïen, ‘n reeks minerale en vitamines aan voerkraallammers ewe kritiek. ‘n Voorbeeld van so ‘n voerkraalrantsoen is: 125 kg gemaalde lusernhooi (25 mm) + 200 kg Voermol SS 200 + 100 kg Voermol Procon + 40 kg Voermol Melassemeel + 550 kg gemaalde mielies of heel garspitte. Sorg dat daar voldoende vreetspasie (± 25 tot 30 cm/lam) is sodat al die lammers gelyktydig kan vreet. Addisionele aktiwiteite wat uitgevoer moet word, is inplanting van Ralgro® of Zeraplix; toediening van die nodige doserings en entings (multiklostridiale); inspuiting van Multimin, Vitamien A en E asook skeiding van lammers in homogene groepe.
 
12. Afronding van speenlammers op oesreste of weimielies
 
Die inname van groot hoeveelhede grane verlaag die verteerbaarheid en inname van droë oesreste (bv. mielieblare en graanstoppels) en kan ook blaasstene, suurpens, swak diereprestasies en selfs vrektes weens suurpens (asidose) tot gevolg hê. Grane het verder ‘n tekort aan proteïen, veral deurvloeiproteïen, asook kalsium, magnesium, sink en koper wat diereprestasie beperk. Weimielies asook kleingraan- en mielie-oesreste met baie graanpitte is veral geskik vir die afronding van speenlammers, maar is ook ‘n waardevolle voedingsbron vir lakterende ooie en vervangingsdiere. Om vrektes as gevolg van suurpens te beperk en terselfdertyd diereprestasie kostedoeltreffend te bevorder, moet Voermol Landelek aan skape (150 – 200 g/kop/dag) op weimielies of oesreste, met baie graanpitte, voorsien word. Diere moet eers vir ongeveer 14 dae voordat hulle na weimielies of oesreste, met baie graanpitte, geskuif word geleidelik op die grane en Landelek aangepas word (sien Voermol Produkhandleiding vir korrekte aanpassingsprosedures). Waar lammers op staande sojahooi (ongeoeste sojabone) of op soja-oesreste met baie pitte afgerond word, word Voermol Molovite (200 g/lam/dag) aanbeveel. Diere wat vir die slagmark bestem is, moet met Ralgro® of Zeraplix geïnplanteer word wanneer afronding ‘n aanvang neem.
 
13. Grootmaak van teelramme
 
Teelramme moet grootgemaak word onder toestande wat vergelykbaar is met dié waaronder hulle nageslag moet produseer en reproduseer. Die meeste kommersiële skaapprodusente verkies geharde en goed aangepaste ramme en gevolglik moet jongramme op die veld met geen of minimale byvoeding grootgemaak word. Indien die veld nie ‘n groei van minstens 90 g/dag van speen tot prestasietoetsing op 12 of 15 maande ouderdom kan onderhou nie, moet ‘n lae vlak (300 – 750 g/ram/dag) van die ramprikkelmengsel (200 kg Voermol SS 200 + 150 kg Voermol Procon + 80 kg Voermol Melassemeel + 575 kg gemaalde mielies of heel garspitte) daagliksas byvoeding voorsien word met voldoende vreetspasie sodat al die ramme gelyktydig kan vreet. Indien die vreetspasie beperk is of indien ramme nie daagliks gevoer kan word nie, moet 100 kg van die grane in die mengsel met 100 kg sout vervang word. Na prestasietoetsing kan die ramme op die veld met die ramprikkelmengsel (500 – 1 500 g/ram/dag) of met ‘n volledige ramrantsoen (200 kg Voermol SS 200 + 50 kg Voermol Procon + 80 kg Voermol Melassemeel + 425 kg gemaalde mielies of heel garspitte + 250 kg gemaalde lusern) vir die veilings afgerond word.
 
Die seleksie van teelramme moet baie akkuraat wees omdat die ram tot 75 % van die genetiese verbetering van die kudde kan bydra. Teelramme moet op grond van die ekonomies belangrike raseienskappe asook hulle BLUP-teelwaardes geselekteer word. Die BLUP-teelwaardes verskaf die akkuraatste aanduiding van die ram se voorspelde teelwaarde. Indien BLUP-teelwaardes nie bekend is nie, moet teelramme op grond van raseienskappe geselekteer word, maar daar moet dan veral gefokus word om die kudde se reproduksietempo te verhoog. Voorkeur moet dus gegee word aan ramme wat gebore is uit moeders wat meer lammers gespeen het as kere wat hulle lamkanse gehad het; meerlinggebore ramme en ramme met ferm en elastiese testes met ‘n testisomtrek van meer as 35 cm op 15 maande (d.i. vir ramme in ‘n goeie kondisie), asook ramme met ‘n baie hoë geslagsdrang. Ramme met ‘n hoë geslagsdrang het meestal ‘n baie wakker en lewenskragtige houding; helder en lewendige oë; ‘n aggressiewe geaardheid en pers lieste.
 
14. Samevatting
 
Doeltreffende byvoedingspraktyke vorm ‘n integrale deel van doeltreffende bestuur- en telingpraktyke. Hier praktyke moet nie in isolasie van mekaar beskou word nie, maar wel as ‘n eenheid, want gesamentlik vorm hulle die basis van ‘n winsgewende skaapboerdery. Die strategiese aanvulling van die regte voedingstowwe (veral deurvloeiproteïen en energie; minerale; spoorelemente en vitamines) in die regte hoeveelheid en kombinasies aan weidende diere is van kritieke belang om maksimum en koste-doeltreffende respons te verseker. Terselfdertyd moet ‘n baie hoë bestuursvlak gehandhaaf word terwyl bestuurspraktyke voortdurend aangepas moet word. In hierdie verband is dit absoluut noodsaaklik dat ‘n doeltreffende en wetenskaplik gefundeerde bestuurs-, siektevoorkomende en gesondheidsbeheerprogram nougeset gevolg moet word en voortdurend aangepas moet word soos nuwe inligting en tegnologie beskikbaar kom. Om ‘n hoogs produktiewe skaapkudde te verseker, moet geneties meerderwaardige teeldiere (ideaal om slegs beproefde superieure teelramme te gebruik wat geneties beter is as jou kudde) geselekteer word terwyl onproduktiewe diere (bv. dié wat nie lam nie of nie ‘n lam speen nie) summier en voortdurend uitgeskot moet word.
 
Om maksimum wins te genereer, moet die produsent sy prioriteite reg kry en fokus op daardie aspekte (bv. reproduksietempo) wat die meeste wins genereer. Om ‘n hoë prys en ‘n pryspremie vir sy bemarkbare produk te verdien, word die produsent gedwing om ‘n gehalteproduk, asook dit wat die mark en die verbruiker vra, te produseer en kan hy nie meer enige hoeveelheid van enige gehalte en wanneer hy wil, produseer nie. Produsente word sterk aangeraai om hoogs suksesvolle produsente (bv. wenners van die Skaapboer van die Jaarkompetisie) te besoek en van hulle te leer wat hulle doen om hoogs suksesvol te wees. Hierdie produsente het altyd nuwe idees en beter maniere om dinge te doen. Verder word produsente aangeraai om die nuutste tegnologie te gebruik, want volgens prof. Johan Willemse (2001) gaan ‘n produsent baie moeilik sy inkomste teenoor uitgawe verhoog sonder om nuwe tegnologie en bestuursmetodes te gebruik. In hierdie verband is Australiese konsultante dit eens dat die gewilligheid van ‘n produsent om nuwe tegnologie en bestuurspraktyke in sy kudde te gebruik, grootliks sy winsgewendheid bepaal. Produsente word versoek om die beste kundiges in dié verband te konsulteer om op hoogte te kom van die nuutste tegnologie asook die mees winsgewende produksiestelsel(s) vir sy spesifieke boerdery.
Lees ook:
 
 
Geskryf deur: dr. Jasper Coetzee. Tegniese Direkteur, Voermol Voere (jasperco@iafrica.com)
 
22 Mei 2010
 
 

Kommentaar

Kommentaar (2) “Bokboerdery: drakrag, voeding, hartwater, skandering

  1. H Grove
    H Grove

    Ek wil intensief met boerbokke op droeland boer. Wat se gewasse moet ek plant vir somer en winterweiding?

  2. Derick Claassen
    Derick Claassen

    Doring bome!


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X