Vra vir Faffa

Boerdery met lammers of ooie in ‘n voerkraal

Vraag

Ek wil graag weet of dit winsgewend sal wees om ooie (swartkop Dorpers) aan te hou in ’n voerkraal om lammers te produseer? Of sal dit meer winsgewend wees om lammers aan te koop en af te rond. Ek kan 'n redelike hoeveelheid mielies produseer, lusern teen billike pryse aankoop, en sodoende my eie voer redelik goedkoop meng.

Antwoord

Die antwoord op hierdie vraag is nie eenvoudig nie.

Ooie

Indien ooie voltyds in ‘n voerkraal aangehou moet word, is daar ‘n paar baie belangrike aspekte om in ag te neem.  Om hierdie praktyk winsgewend te bedryf, moet die ooie in ‘n versnelde lamstelsel wees waar hulle minstens elke 8 maande lam.

Een van die belangrikste faktore wat die sukses van versnelde lamstelsels bepaal, is die gebruik van hoogs vrugbare teelooie en -ramme (Morris & Bray, 2007).  Hoogs vrugbare ooie in die sterlamstelsel in Morris & Bray se proef het 26 % meer kilogram lam (d.i. 49 kg lam/ha ekstra per jaar) gespeen as dié ooie wat slegs een maal per jaar gelam het.

Daarenteen het die medium vrugbare ooie  8 % minder kilogram lam per jaar in die versnelde lamstelsel geproduseer as dié ooie wat slegs een maal per jaar gelam het.  Hoogs vrugbare ooie is ooie wat elke 8 maande minstens 133 % lammers speen, dus ‘n speenpersentasie van meer as 200 % per jaar.

Dit is dus  ‘n hoë ekonomiese risiko om ooie in ‘n voerkraal te voer wat oorslaan en/of gereeld enkelinge speen asook lammers wat ‘n lae groeitempo het.  Om die lampersentasie te verhoog en die voerkoste te beperk, moet sponse of CDIR’s en DMS gebruik word.  Die lammers moet gespeen word sodra die oudste lam 72 dae is.  Om die vroegspeen moontlik te maak, is kruipvoer ononderhandelbaar.

Een van die probleme met die versnelde lamstelsel is dat indien die ooie se voeding nie reg deur die jaar optimaal is nie, hulle besetting mettertyd begin afneem weens die voedingstres.  In ‘n onlangse proef is gevind dat die besetting tot so laag as 65 % gedaal het (Terblanche et al., 2013).  Weens die stres wat die versnelde lamstelsel op ooie plaas, gee dit ook aanleiding tot verhoogde voorkoms van resorpsie, laer lam- en speenpersentasie asook swak groei van lammers. Voerkoste is die enkel grootste koste uitgawe van hierdie stelsel, daarom moet korrek gebalanseerde rantsoene gebruik word en die rantsoene moet aangepas word by voedingsbehoefte van die ooi in haar verskillende fisiologiese stadium soortgelyk as wat met die voeding van melkkoeie gedoen word.

Lammers

Die grootste risiko met die aankoop van lammers met die doel om hulle in ‘n voerkraal af te rond, is die ouderdom en die genetiese potensiaal (gehalte) van die lammers.  Lammers wat ingekoop word, moenie ouer as 3 tot 3 ½ maande wees nie en moet 28 tot 32 kg weeg. Hoe ouer die lammers met die aanvangs van afronding in die voerkraal is, hoe swakker is hulle voeromsetverhouding waardeur die wins in die voerkraal drasties verlaag word en dit kan selfs onbetalend wees om hulle af te rond.

Daar moet ook gewaak word daarteen om nie lammers te koop wat te gou vet aansit nie asook dié wat oortollige vet aansit, want dit maak die voerdery onekonomies.  Navorsing toon dat 10 tot 20 % (McFarland, 2008) en selfs meer lammers teen ’n verlies in voerkrale afgerond word omdat hierdie lammers tot 34 % stadiger groei as die hoë potensiaalgroep (Scammell & Jolly, 2006).  Dit is daarom eerstens uiters belangrik dat lammers met ‘n uitstekende genetiese voeromsettingspotensiaal aangekoop word.

Tweedens moet die lammers gereeld en individueel geweeg word om hulle groeitempo te monitor.  Lammers moet minstens elke 14 dae vroeg die oggend voor voeding op dieselfde tyd geweeg word.  Indien die lammers se daaglikse groei met twee opeenvolgende wegingsgeleenthede minder inkomste genereer as wat hulle daaglikse produksiekoste is, moet hulle óf verder op weiding afgerond word óf laat slag óf verkoop word omdat hulle dan teen ’n verlies gevoer word.  Afhangend van die die spesifieke voerkraal se produksiekoste moet die lamgroei in die voerkraal tans meer as 240 g/dag wees om nog steeds ‘n wins te genereer. Rekenaarmodelle is beskikbaar om te bepaal of dit ekonomies is om lammers af te rond.

Geskryf deur: Dr. Jasper Coetzee (jasperco@iafrica.com), Skaapvoeding- en Bestuurspesialis Konsultant, 076 846 8800

As jy lammers gaan inkoop en afrond moet jy eers bepaal hoeveel en hoe gereeld jou mark lammers wil hê. As jy ooie met lammers produseer kan jy eerder stoorlammers vir voerkraalkopers produseer.

Ek het nie werklik vergelykbare begrotings vir die twee stelsels in ‘n voerkraal nie. Wat ek wel vir jou kan sê is dat dit per kg vleis wat jy produseer baie goedkoper is om jou eie lam vanaf 5 kg na 35 kg te vat as wat dit is om ‘n stoorlam vanaf 35 kg na 45 – 50 kg te vat. Die laaste 10kg verg baie meer voer/kg vleis as wat die eerste 35 kg vat.

Geskryf deur: Dr. Philip Theunissen, philip@computus.co.za, Landbou ekonomiese dienste, www.computus.co.za

19 Desember 2016


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X