Vra vir Faffa

Blousuurvergiftiging (Geilsiekte)

Vraag

I have planted sorghum that is supposed to be prussic acid resistant, but it is very drought stressed. Have you any advice for me on how to identify prussic acid poisoning, and how to treat it?

Antwoord

Geilsiekte is een van die mees alledaagse en dodelikste plantvergiftigings wat by diere, veral skape, bokke en beeste voorkom.

Geilsiekte is ‘n benaming wat toegepas word op verskeie siektes wat vinnig verloop en in die meeste gevalle op die dood uitloop. Boere praat van geilsiekte, droë geilsiekte, opblaasgeilsiekte, ens. Geilsiekte (blousuurvorm) word soms ook opblaaskrimpsiekte genoem.
Voordat uitgevind is dat bloednier deur ‘n gifstof van die bakterie Clostridium perfringens tipe D veroorsaak word en skape gereeld ingeënt word, is baie gevalle van bloednier aan blousuurvergiftiging (HCN) toegeskryf.
Die woord sianied is aan almal bekend, want sianied word gebruik vir die ekstraksie van goud. Sianied is ‘n baie giftige stof omdat dit die uiters dodelike gas blousuur, of siaansuur, afgee. Blousuur kom ook in klein hoeveelhede in amandels voor en veroorsaak die karakteristieke geur van hierdie vrugte. Blousuur kom nie as sodanig in amandels voor nie, maar is afkomstig van ‘n stof wat ook opbreek net soos sianied. Hierdie stof word ‘n glukosied genoem en omdat dit blousuur kan afgee, praat ons van ‘n blousuur of sianogenetiese glukosied.
Wêreldwyd is daar ongeveer 1 000 plantspesies wat bekend is daarvoor dat hulle blousuurvergiftiging kan veroorsaak. Onder sekere klimaatsomstandighede kom soveel glukosiedes voor dat as die plante gevreet en die glukosiedes opgebreek word, word soveel blousuur vrygestel dat die diere aan blousuurvergiftiging vrek. Hierdie siekte word dan geilsiekte genoem. Soos die naam aandui, kom die siekte veral voor wanneer die jong gras na die eerste reëns geil en vinnig groei en dan verlep.
Dit is bekend (Kellerman et al) dat daar plante is wat altyd, afgesien van die klimaatsomstandighede, gevaarlike hoeveelhede van die glukosiedes bevat. Voorbeelde van sulke plante is: Sorghum spp. (graansogrhum, Sudangras, Columbusgras); Cynodon spp. (kweek, Robust of Rhodesian star grass, Nakuru gras), Dimorphoteca en Osteospermum spp. (bietou of madeliefies); Eucalyptus cladocalyx (suikerbloekom); Acacia spp. (peule van die kameeldoringboom, papierbasdoring, gewone haakdoring); Manihot esculenta (knolle van kasawa); Jatropha multifida (blare van hierdie sambreelboom). Hierdie plante kan altyd geilsiekte ten gevolg hê en veroorsaak dan ook gedurig verliese onder diere.
Volgens Mönnig en Veldman kan die volgende gewasse, onder sekere klimaatsomstandighede, gevaarlike hoeveelhede blousuurglukosiede bevat:
Byna al die kweekgrasse (Cynodon-soorte), steekgras, langbeengras, Johnsongras, soetriet, Soedangras, graansorghum, rooigras, mielies, lusern, hawer, rog, koring, lynsaad.
Normaalweg bevat die grasse en gewasse nie blousuur-glukosiedes nie, maar die glukosiedes word wel in hulle gevorm wanneer die plante skielik aan ‘n watergebrek ly, m.a.w. wanneer hulle verlep of deur ryp beskadig word. Verlepping en beskadiging deur ryp is in hierdie opsig identies. ‘n Plant verlep omdat sy blare vinniger water afgee as wat sy wortels dit uit die grond kan opneem. Wanneer ‘n plant deur ryp bekadig word, verys die water in die selle, baie selle bars en die water is dus ook nie vir die plant beskikbaar nie. Onder so ‘n toestand van  watergebrek word daar nou meteens groot hoeveelhede glukosiedes in die plant gevorm en word die plant giftig. Die presiese chemiese proses wat in die plant aangaan wanneer hierdie glukosiedes gevorm word, is nog nie heeltemaal bekend nie. Dit het waarskynlik te doen met die opbou of vernietiging van eiwitte in die plantselle. Wat egter van belang is, is dat die plante weer hulle giftigheid verloor sodra hulle regkom. Daarom moet diere nie toegelaat word om gedurende die warmste tyd van die dag van die verlepte plante of gedurende die vroeë more van die rypbeskadigde plante te vreet nie.
Daar is redes om aan te neem dat die tipe grond waarop die plante groei ook ‘n rol speel by die vorming van die giftige glukosiedes. Plante op goeie grond wat met nitrate bemes is, is gevaarliker as dié op armer gronde. Plante wat gekneus word, bv. wanneer diere daaroor loop; plante wat met onkruiddoder 2,4-D bespuit is; die toediening van stikstofbevattende bemesting; vertraagde groei; jong groeiende plante bv. opslag graansorghum, is alles faktore wat verhoogde blousuurvlakke tot gevolg kan hê.
Verdroging van plante verminder blousuurvlakke en inkuiling het die gevolg dat plante heeltemaal ontgif. 
Die glukosiedes breek nie vanself op in die grootpens van die skaap, bok of bees, sodra die plante gevreet is nie. Die proses vind skynbaar alleen plaas in die aanwesigheid van ‘n ander chemiese stof, bekend as ‘n ensiem, in die grootpens van die dier.  Hierdie ensiem is skynbaar altyd in die grootpens aanwesig en is waarskynlik aanwesig in baie van die plante wat die dier daagliks vreet. As die ensiem nie aanwesig is om die glukosiedes op te breek en blousuur vry te stel nie, kan geilsiekte nie ontstaan nie al het die dier ook baie van die plante met blousuur-glukosiedes gevreet. Ons het dus met ‘n hele ketting van chemiese reaksies te doen voordat geilsiekte kan ontstaan. En as ons hierdie ketting iewers kan breek, kan ons verhoed dat blousuur gevorm word en dat geilsiekte ontwikkel.
As blousuur eers in die grootpens van die dier gevorm het, word dit baie gou deur die bloed geabsorbeer en na die brein en ander organe vervoer.
  • Dit veroorsaak in die eerste instansie ‘n verlamming van die brein, wat opsigself al genoeg is om ‘n skielike dood te veroorsaak.
  • Terselfdertyd word die senuwees van die grootpens verlam en daarom ontstaan daar byna altyd by geilsiekte ‘n mate van opblaas van die verlamde grootpens.
  • Blousuur vergiftig ook die rooibloedselle wat die noodsaaklike suurstof van die longe na al die organe dra. Blousuur verhoed dat die selle die suurstof aan die organe kan afgee. Daar ontstaan dus ‘n skielike gebrek aan suurstof in die hele liggaam en die dier is eintlik besig om te versmoor.
Siektetekens
Die tekens kan dan ook dadelik afgelei word as ‘n mens die oorsaak in gedagte hou. ‘n Dier wat ‘n groot hoeveelheid blousuur in sy pens het, slaan net skielik neer, gee ‘n paar skoppe en vrek. Kleiner hoeveelhede veroorsaak vinnige en dieper asemhaling, helderrooi slymvliese wat later persblou word, asemhaling met die uitgestrekte nek en oop bek, spiertrekkings, bewerasie, ‘n opgewonde uitdrukking van die oë en opblaas. Dan begin die dier steier, val en staan op, bly dan lê en vrek aan asemnood en verlamming van die brein. Diere wat dus aan geilsiekte vrek, leef nooit baie ure of dae nie; hulle kry ‘n aanval en vrek ná ‘n uur of twee of so nie herstel hulle. Aangesien geilsiekte in die oggend van rypbevange plante ontstaan, of in die middag van verlepte plante, vrek diere feitlik nooit snags aan geilsiekte nie.
Die goitrogeniese uitwerking van tiosianaat, die vernaamste metaboliet van sianied, word soms in skape gesien wat op stergrasweidings loop, veral waar die inname van jodium laag is. Jodiumbyvoeding kan van nut wees.
Nadoodse letsels
By die perakute gevalle is ‘n helderrooi kleur van die bloed opvallend. Terselfdertyd ruik die gas uit die pens na amandels, mits die dier gou na die dood oopgesny word.
By gevalle wat effens langer leef, is die volgende letsels kenmerkend van geilsiekte: opblaas, blou slymvliese en donkerbruin spiere, longe ‘n persrooi kleur met baie bloed daarin, derms opgeblaas en gelerig van kleur.
‘n Chemiese toets (natriumpikraattoets)  kan gedoen word om die aanwesigheid van blousuur in die organe van ‘n pas-gevrekte dier aan te toon. Die volgende monsters word dadelik na die dood geneem, apart in vrugteflesse verpak en bedek met 1% bytende sublimaat-oplossing (kwikperchloried, “Corrosive sublimate”)
  • Halfbottel van die grootpens-inhoud
  • 450 gram van die lewer
  • Indien moontlik, die hele of die helfte van die brein
Geilsiekte word baie dikwels deur boere verwar met miltsiekte, bloednier, hartwater, gewone opblaas, gousiekte, ens. Dit is dus nie nodig om te sê dat al hierdie siektes in gedagte gehou moet word wanneer skape, bokke of beeste skielik op ‘n plaas begin vrek nie. As daar twyfel bestaan oor die oorsaak van die verliese moet ‘n veearts geraadpleeg word sodat die boer presies kan weet waarvoor  hy moet behandel.
Behandeling
Dit moet gou geskied anders is die dier dood. Die inspuiting van 1% natriumnitriet- plus 25% hypo- (natriumtiosulfaat-) oplossing in die aar gee goeie resultate – vir ‘n skaap 250 ml en vir ‘n bees 1L – 1,5 L. Dis wenslik dat hypo ook deur die bek ingegee word.
Voorkoming
Volgens Mönnig en Veldman kan hypo in drinkwater opgelos word teen 450 – 900 gram hypo in 450 liter water. Ongelukkig bly swawel wat in die vorm van hypo toegedien word nie langer as 4 dae in die dier se liggaam nie en die dier is dus 4 dae ná die laaste toediening maar weer vatbaar vir geilsiekte. Daar moet onthou word dat swawel koper bind en ‘n kopertekort mag in die dier se liggaam ontstaan.
Vasstelling of plante blousuur bevat
Daar kan met die afdeling toksikologie van die Onderstepoort Veterinêre Instituut gereël word om plante vir blousuurinhoud te toets (012 529 9111).
Bronne:
Kellerman, T.S., Coetzer, J.A.W., Naude, T.W. and Botha, C.J. 2005. Plant Poisonings and Mycotoxicosies of Livestockk in Southern Africa. Oxford University Press. ISBN 978 0 19 57613 4
Mönnig, H.O. en Veldman, F.J. 1975. Handboek oor Veesiektes. Tafelberg uitgewers. ISBN 0 624 00359 0
Geskryf deur: dr. Faffa Malan, Veeartskonsultant (dokfaffa@nashuaisp.co.za)
22 Maart 2012

Kommentaar

Een kommentaar op “Blousuurvergiftiging (Geilsiekte)

  1. DR.FRANK SCHOLTZ
    DR.FRANK SCHOLTZ

    kan blousuur vergiftiging voorkom in perde na veldbrand.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X