Vra vir Faffa

Blousuur-opblaas by hawer/klawermengsel

Vraag

Sal ek blousuur of opblaas kry as ek Dorperooie op 'n 50/50-klawer-hawermengsel opjaag? Elkeen op sy eie gee vir my probleme, maar wat van die twee saam?

Antwoord

Eerstens moet seker gemaak word of die diere vrek van geilsiekte (blousuurvergiftiging) of skuimopblaas omdat beide opblaas kan veroorsaak. Hawer is meer geneig om tot geilsiekte aanleiding te gee terwyl skuimopblaas weer meer op klawers (veral wit- en rooiklawers) en veral lusern voorkom.

Deur die hawer en klawer in ‘n 50:50-mengsel te plant, sal dus nie noodwendig die probleme voorkom nie. Skuimopblaas word vermoedelik veroorsaak deur sekere proteïene, bekend as saponien, wat in peulplante voorkom. Blykbaar is die oplosbare sitoplastiese proteïene in peulplante die belangrikste skuimvormers (mukinolitiese stowwe), maar ander faktore speel ook ‘n belangrike rol.

Dit is bekend dat skuimopblaas meer voorkom op sekere grondtipes (byvoorbeeld swaar turfgronde) en gronde wat hoog in kalium is. Sekere skaaprasse, veral die vleisrastipes wat baie gulsig vreet, is meer geneig tot opblaas as byvoorbeeld die Merino. Dit blyk ook dat binne ‘n spesifieke ras daar skape is wat baie makliker opblaas (meer vatbare diere, sogenaamde chroniese opblasers) as ander.

Skuimopblaas word veroorsaak deur die oormatige produksie van gas as gevolg van die inname van genoemde skuimvormende plantproteïen wat dan in klein lugborrels tussen die voedselmassa in die grootpens vasgevang word en dus nie kan ontsnap nie en gevolglik blaas die dier op. Skuimopblaas kan voorkom word deur die dosering van spesifieke middels wat die oppervlaktespanning van die lugborrels of blasie verlaag sodat dit dan bars en die gas vrygestel word en die dier dan deur windopbreking van die oormatige gas ontslae raak.

In die geval van skuimopblaas kan dit grootliks voorkom word deur Bloat Guard Voerbolaag (G1026) in die lekke of volledige rantsoene van skape op so ‘n wyse in te sluit dat hulle daagliks 3 tot 5 g Bloat Guard per skaap inneem. Vir die middel om doeltreffend te wees, moet die skape dit elke dag inneem.

Skuimopblaas kan ook in ‘n groot mate beheer word deur die daaglikse dosering (is egter onprakties) van sekere plantolies of die insluiting daarvan in lekke en aanvullings wat aan diere op sulke weidings gevoer word. Die insluiting van ‘n ionofoor in hierdie aanvullings sal meehelp om opblaas te verminder.

Geilsiekte word dikwels verwar met bloednier- en ander klostridiumvrektes. Bloedniervrektes vind meestal in die nag en geilsiekte in die dag plaas, maar die oorsaak van die vrekte moet deur ‘n diagnostiese laboratorium bevestig word. Geilsiekte by skape kom voor as gevolg van die inname van plante wat ‘n hoë konsentrasie sianogenetiese glikosiedes (blousuurvormende stowwe) bevat. Geilsiekte kom voor wanneer jong voergewasse (bv. hawer), veral goed bemeste weiding, geil en vinnig groei en dan skielik verlep, byvoorbeeld waar plante beskadig is deur ryp, hael, hitte, donderstorms of verwelk as gevolg van ‘n vogtekort of warm bergwinde.

Onder sulke omstandighede produseer sekere plante (byvoorbeeld kleingrane, sekere sorghums, kweekgras, lusern, sekere klawers, bitou, peule van kameeldoring, bloekomboomblare, ensovoorts) groot hoeveelhede sianogenetiese glikosiedes. Wanneer hierdie sianoglikosiedes deur die mikroörganismes in die grootpens afgebreek word, vind ‘n vinnige produksie van sianied plaas wat dan ‘n baie giftige gas (blou- of siaansuur) afgee wat vir die kenmerkende amandelreuk van die dier se asem of pensinhoud verantwoordelik is. Die blousuur word vinnig deur die bloed geabsorbeer en veroorsaak dan ‘n verlamming van die brein. Terselfdertyd word die senuwees van die grootpens verlam wat verhoed dat gasse, wat in die grootpens geproduseer word, deur windopbreking kan ontsnap en gevolglik blaas die diere op. Die blousuur vergiftig/beskadig die rooibloedselle wat dan hulle suurstofdravermoë belemmer. Dit veroorsaak ‘n suurstoftekort (die dier versmoor letterlik) wat die bloed die kenmerkende ligrooi (kersierooi) kleur gee terwyl die slymvliese van die diere kenmerkend blou is.

Swawel en hypo help vir geilsiekte, maar nie vir skuimopblaas nie. In die geval van geilsiekte is die beste opsie om hypo (natriumtiosulfaat) in die drinkwater (1 kg hypo/500 liter water in somer en 1 kg/ 200 liter water in koeler weer) te gooi om die blousuur te detoksifiseer en sodoende te verhoed dat die skape van geilsiekte vrek. Die probleem met die voorsiening van hypo via die drinkwater is dat die waterinname van skape op sappige weidings soms laag is, maar dan moet die insluitingspeil van die hypo aangepas word.

Swawel en hypo kan ook gedoseer word, maar dit is onprakties weens die oormatige hantering van die skape. Skielike vrektes met opblaas kan ook weens Klostridium-siektes wees. Die skape moet minstens 14 dae voordat hulle op hierdie weidings geplaas word met ‘n multi-klostridiale entstof geïmmuniseer word.

* Geskryf deur: Dr. Jasper Coetzee, Professionele Veekundige (400328/83), Kleinveevoeding- en Bestuurspesialis (jasperco@iafrica.com)

3 Junie 2012


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X