Vra vir Faffa

Bloubosluise by perde

Vraag

'n Webbesoeker sukkel om bloubosluise by sy perde in toom te hou en vra 'n veearts se raad.

Antwoord

Vraag:
Ek sukkel om bloubosluise op perde te beheer. Ek het al Bayticol en Deltab gebruik, maar dit was nie suksesvol nie. – Jaco van der Merwe (jacojvdmerwe@gmail.com)

Antwoord:
Daar is twee spesies bloubosluise:
Rhipicephalus (Boophilus) decoloratus (bloubosluis)
Rhipicephalus (Boophilus) microplus (Asiatiese of Pantropiese bloubosluis)

Voorkoms

Kyk foto van die volwasse Asiatiese bloubosluismannetjie hieronder.

Gashere
Bloubosluis: Hierdie bosluis gee voorkeur aan beeste maar kan ook op perde, donkies, skape en bokke voorkom. Kom ook dikwels voor op wild soos sebras, rooibokke, bosbokke, koedoes, eland en swartwitpense. Buffels is nie goeie gashere nie.

Pantropiese bloubosluis: Beeste is die voorkeur gashere en die bosluis kom slegs voor op ander gashere as daar beeste, wat met bosluise besmet is, in hulle teenwoordigheid is.

Aanhegtingsplekke op gasheer
Bene, nek, nekvel, onderlyn, area onder die stert, die stert en die agterkop.

Lewensiklus
Eengasheer bosluis – die nimfe, larfies en volwassenes kom op een gasheer voor. Alle stadia is afhanklik van ‘n bloedmaal. Nadat die eiers uitgebroei het, wag die larfies op grashalms vir ‘n gasheer. Hulle word aangetrek tot ‘n gasheer d.m.v. die koolstofdioksied wat die gasheer afskei. Hulle neem ‘n bloedmaal en vervel na ‘n week tot die nimfstadium. Die nimfe neem ‘n bloedmaal en vervel na ‘n week tot volwassenes. Die volwassenes voed, paar en na ‘n week val die volwasse wyfies af en lê ongeveer 2500 tot 4500 eiers, wat na 3 tot 8 weke uitbroei. Dit neem dus 21 dae vanaf die larf tot die volwasse bosluis. Die nie-volwassenes (larfies en nimfe) word baie moeilik met die blote oog gesien. Dit is meestal die volgesuigde volwassenes wat die laaste 2 dae van die 21 dag siklus gesien word. Mannetjies mag nog vir ‘n langer periodes op die dier aanbly voordat hulle afval.

Kyk na die afbeelding van die lewensiklus van ‘n eengasheer-bosluis hieronder.

 

Weerstand
Weerstand is die vermoë van ‘n bosluis om die effek van die chemiese middel waarteen dit van te vore sensitief was, te oorkom.

Eengasheer bosluise het meer lewensiklusse per jaar as twee- en driegasheer bosluise en eengasheer bosluise word dus meer gereeld blootgestel aan dipmiddels. Wangebruik het gelei tot weerstand teen baie van die aktiewes wat tans beskikbaar is. Voorbeelde van wangebruik sluit die gebruik van ondersterkte dip; intensiewe dipprogramme waar daar op omtrent ‘n weeklikse basis gedip word en die gebruik van tuisgemengde middels in. Weerstand kan nie voorkom word nie, maar deur dipmiddels korrek te gebruik, kan die ontwikkeling van weerstand vertraag word.

Wat baie belangrik is, is dat weerstand ingebring kan word deur diere (beeste,perde) op die plaas in te bring met weerstandige bosluise op hulle. Onthou dat ‘n bosluislarfie so klein is dat hulle met moeite op ‘n dier waargeneem kan word. Voer en gras vir bedmateriaal, wat met bosluislarfies besmet is, kan ook ingekoop word.

Groepe middels wat tans beskikbaar is
1. Amidiene (bv Amitras en Simiasol)
2. Piretroïede (bv Deltametrien)
3. Organofosfate (bv Chlorfenvinfos, Triasofos en Diasinoon)
4. Makrosikliese Laktone (bv Ivermektien)

NEEM KENNIS DAT AMITRAS GIFTIG EN SELFS DODELIK VIR PERDE MAG WEES.

LEES ETIKETTE SORGVULDIG DEUR OM TE SIEN HOE DIE MIDDEL AANGEWEND MOET WORD EN WATTER VOORSORGMAATREËS GEVOLG MOET WORD.

Voorbeelde van Intervet-dipmiddels wat vir perde geregistreer is
Deltab Back-pack (Reg No. G2518 / Wet 36 / 1947 Namibia Reg No. N-SR 0916)
Interdip 20 (Reg No. G3321 / Wet 36 / 1947 / Namibia Reg No. N-SR 1121)
Intervet Quadrepel (Reg No. G3328 / Wet 36 / 1947 / Namibia Reg No. N-SR 1122)

Keuse van dipmiddel
Bosluisweerstandstoetse kan help met die keuse van ‘n aktief. ‘n Monster van 60 tot 80 volgesuigde bloubosluise word ingestuur en dié word dan blootgestel aan die verskillende aktiewes. Daar word bepaal hoeveel wyfies eiers lê en of dié eiers wel uitbroei. Sodoende kan daar bereken word teen watter aktiewes daar bosluisweerstand is en aanbevelings kan dan gedoen word watter aktiewes gebruik kan word om bloubosluise te beheer.

Intervet bied hierdie diens gratis aan al ons kliënte by ons Navorsingseenheid te Malalane. Kontak u naaste Intervetverkoopspersoon om van hierdie diens gebruik te maak.

Geskryf deur: Dr. Sunelle Strydom, Intervet

29 Junie 2007


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X