Vra vir Faffa

Blou-uier by skape

Vraag

'n Boer verloor jaarliks 'n klomp ooie weens blou-uier, selfs al word sy ooie daarteen geënt. Hoe kan hy dit voorkom?

Antwoord

Vraag:
‘n Boer in my omgewing kry jaarliks na blou-uier enting akute blou-uier gevalle onder sy stoetooie en verloor elke keer ‘n klomp ooie.

Hy het al melk laat ontleed en in die resultate is daar elke keer ‘n ander bakteri&eumlle stam geïsoleer. Wat kan hy doen om blou-uier te voorkom in sy kudde? – Hannes (handel.frankfort@bkb.co.za)

Antwoord:
Oorsake van blou-uier of mastitis:
Die volgende kieme word dikwels geïsoleer:

  • Staphylococcus aureus, verskeie stamme
  • Streptococcus spp.
  • Mannheimia (Pasteurella) haemolytica verskeie stamme
  • Eschericia coli
  • Mycoplasma agalactiae
  • Corynebacterium spp. mag ‘n rol speel

    Ander kieme wat ook al gevind is:

  • Pseudomonas aeruginosa
  • Corynebacterium pseudotuberculosis
  • Clostridium perfringens tipes
  • Histophilus spp.
  • Klebsiella pneumoniae

    Die kieme kom vrylik in die omgewing van die dier of in die dier self voor en dring in meeste gevalle die speenkanaal binne. In die geval waar die mastitis deur S. Aureus veroorsaak word, skei die kieme ‘n gevaarlike gifstof af wat tot gangreen lei (die uier dop af). Ander kieme veroorsaak ‘n etterige inflammasie wat akuut (kortstondig) tot chronies (langdurig) kan wees. Sommige ooie kan draers van kieme wees en kan selfs klinies gesond lyk.

    Mastitis is veral baie algemeen in intensiewe toestande. Warm en nat toestande is ideaal vir die oorlewing van hierdie bakterieë en dit maak die kans vir besmetting groter. Ooie wat baie melk produseer, is ook meer vatbaar vir blou-uier. Koue kan ook mastitis veroorsaak deurdat die bloedtoevoer na die uier verminder word. Tydens nat toestande kan modderaansameling op die spene ook ‘n nadelige effek hê.

    Wanneer lammers groter en sterker word, kan hulle met die gestampery die uier kneus en soms ook die vel stukkend byt – dit verhoog ook die kanse vir blou-uier. As ‘n lam vrek, kan ‘n ooi te veel melk hê en kan sy mastitis ontwikkel. In melkbokke mag mastitis voorkom waar foutiewe melkmasjiene (vakuum te hoog en swak higi&eumlne) ‘n groot rol speel.

    As mastitis gedurende die eerste week na geboorte voorkom, is die oorsaak dikwels dat die lammetjie te swak is om die dik taai biesmelk uit te suip, wat dan tot gevolg het dat kieme in die agtergeblewe bies begin vermeerder. Wat in ooie met lang wol kan gebeur, is dat lammers die wol in plaas van die spene suig met gevolglike opbou van melk in die uier waar kieme dan vermeerder. Dorpers het dikwels lang haarlokke wat naby die spene hang omdat hulle nie geskeer word nie en lammers suig soms daaraan. Lammers kan ook vrek omdat hulle nie genoeg melk drink nie.

    As daar elke jaar in dieselfde kamp gelam word, mag daar ook ‘n opbou van kieme plaasvind. Onthou dat ooie wat mastitis het gewoonlik nie hulle lammers toelaat om te drink nie. Hierdie lammers sal by ander ooie melk probeer steel. Met sy bek vol kieme van die mastitismelk, kan die lam maklik vele ander ooie aansteek.

    Siektetekens:
    Die meer akute mastitisgevalle kom gewoonlik in die vroeë stadium van laktasie voor terwyl die meer chroniese gevalle veroorsaak deur A. Pyogenes dikwels ná speen gevind word. Die eerste ding wat ‘n boer gewoonlik sien, is dat ‘n lammetjie van ‘n ooi met akute mastitis baie maer is en selfs vrek. Sulke lammers probeer ook by ander ooie melk steel.

    ‘n Ooi met blou-uier raak lam, lê baie en wil nie vreet nie. Binne ure is die uier baie warm, soms geswel en die ooi het ‘n hoë koors. Die vel van die uier word rooi, daarna blou en daarna swart as die uier gangreneus word. Dikwels kom die vel van die uier af en word vogtig. ‘n Klein hoeveelheid bloederige, waterige vloeistof kom uit die speen uit en droog later op. Ooie met gangreneuse mastitis mag na ‘n paar dae vrek, in sommige gevalle "val" die uier af of droog uit. Ooie wat oorleef, vermaer en eet sleg.

    Ander vorms van mastitis mag minder erge tekens tot gevolg hê. Die uier is warm en geswel en die melk is vlokkerig en mag selfs bloed bevat. Indien so ‘n uier kwart(e) nie gou behandel word nie, mag so ‘n kwart of die totale uier tot niet gaan. Na speen mastitis wat deur A. Pyogenes veroorsaak word, word dikwels eers met skeertyd opgetel wanneer die geaffekteerde kwart etter of groengrys etter afskei.Die uier van aangetaste ooie is knopperig en onegalig verdik.

    Behandeling:
    Kontak jou veearts so gou as moontlik en bespreek die uitbreek van mastitis met hom/haar. Isoleer die siek ooie saam met hulle lam(mers) so gou moontlik. As daar meer as een geval is, ondersoek al die ooie. Voel vir knoppe, harde warm uiers en isoleer ook hierdie ooie. Ooie wat die mastitis episode oorleef, is dikwels draers wat die kieme na die volgende lamseisoen oordra en is dus ‘n bron van aanhoudende mastitis in die kudde. Onthou om altyd jou hande te ontsmet nadat met een skaap gewerk is, aangesien kieme ook so oorgedra kan word.

    Behandel die uiers met antibiotika, mastitismiddels asook ander middels soos deur u veearts voorgeskryf. Antibiogramme kan ook gedoen word om vas te stel watter middels die beste werk. Dit word gedoen deur melk na ‘n laboratorium, wat hierdie toetse kan uitvoer, te stuur. Probeer om al die melk uit te melk voordat mastitismiddels in die speenkanaal toegedien word.

    Voorkoming:
    Alle ooie wat mastitis gehad het, behoort liefs uitgeskot te word. Dit lyk of die infeksie nooit 100% opklaar nie en dat ooie met die volgende lamming weer mastitis kry. Deur hulle lammers tree hulle as bron van besmetting vir die ander ooie op. Gaan alle uiers 4 weke na speen goed deur, voel vir enige harde bindweefsel. As een helfte beskadig is en sy het met die volgende lamming ‘n tweeling het, gaan een lam vrek. Skot alle ooie met probleme uit want dit is die vinnigste manier om van skape wat kiemdraers is, ontslae te raak. Waar streng seleksie vir gesonde skape gedoen word, is gevind dat ‘n mens mettertyd van mastitis ontslae kan raak.

    Waar slegte weer tydens lamtyd voorkom, kan goeie skuilings die voorkoms van mastitis verminder. Waar ooie met baie hoë melkproduksie gespeen word, kan hulle op ‘n laer voedingspeil geplaas word om mastitis te voorkom. Hoe vroe&eumlr lammers gespeen word, hoe groter is die kans dat ooie mastitis kan ontwikkel weens die feit dat hulle nog baie melk produseer.

    Waar ooie baie melk produseer, kan daar selfs oorweeg word om droë koei mastitismiddels tydens opdroging toe te dien. Bespreek dit met u veearts. Ooie moet ook nie in klein, intensiewe kampies lam wanneer blou-uier op ‘n plaas voorkom nie.

    Omdat daar so ‘n uiteenlopende reeks van kieme wat blou-uier kan veroorsaak ter sprake is, is dit raadsaam om minstens een monster aangetaste melk, wat steriel geneem is, te versamel. Hierdie monster moet op ys, so gou moontlik na ‘n diagnostiese labarotorium gestuur word sodat die kieme wat betrokke is, geïdentifiseer kan word.

    Dit is baie belangrik om tussen die verskillende tipes van blou-uier te onderskei, aangesien daar verskillende entstowwe is vir die verskillende tipes blou-uier. Onderstepoort se blou-uier enstof vir skape sluit Mannheimia haemolytica tipe 2,7 en 9, asook 2 stamme van Staphylococcus aureus in. Waar Mannheimia haemolytica ‘n probleem is, kan Multivax P (G1517) of Multivax P Plus (G3694) toegedien word.

    Indien die organisme wat blou-uier veroorsaak nie in die entstof teenwoordig is nie, kan u veearts melkmonsters neem en wegstuur na ‘n laboratorium om vas te stel watter kieme verantwoordelik is vir die mastitis uitbreke. Daar is verskeie instansies wat dan ‘n spesiale entstof teen daardie kieme kan vervaardig.

    Bronne:
    De Wet J & Bath G. 1994. Kleinveesiektes. Tafelberg-Uitgewers Beperk, Kaapstad.
    Bruère A N & West D M. 1993. The sheep: health, disease and production. Veterinary Continuing Education, Massey University, Palmerston North, New Zealand. ISSN 0112-9643
    Persoonlike mededelings: drs Ariena Shepherd (Winterton) en Johan van Rooyen (Steynsburg)

  • Geskryf deur: Drs Faffa Malan en Sunelle Srydom, Intervet, ‘n deel van Schering-Plough en prof. Gareth Bath, Fakulteit Veeartsenykunde, Universiteit van Pretoria.

    15 Februarie 2008


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X