Vra vir Faffa

Bloednier-inenting voor wurmdosering?

Vraag

Wat is die maksimum tydperk wat kan verloop tussen die inenting vir bloednier en voordat vir haarwurm gespuit kan word?

Antwoord

Bloednier-inenting voor wurmbehandeling in skape

Vraag:

Wat is die maksimum tydperk wat kan verloop tussen die inenting vir bloednier en voordat vir haarwurm behandel kan word?

Antwoord:

Vraag:
Ons het op die oomblik ‘n groot haarwurm probleem en het na aanleiding van ‘n artikel van u daaroor ‘n ivermektien gekoop om te spuit. Volgens inligting op die spuitstof moet bloednier eers gespuit word voordat behandeling plaasvind. Wat is die minimum tydperk wat kan verloop tussen die inenting voordat behandeling kan geskied? – Adri Henning (adrih@telkomsa.net)

Antwoord:
Die bloednierkiem, Clostridium perfringens tipe D is ‘n normale inwoner van die dermkanaal van skape. As toestande in die derm vir die kiem gunstig raak, vermeerder hulle geweldig en skei dan ‘n gifstof (epsilon toksien) af, wat die dier laat vrek as die dier nie immuun teen die gifstof is nie. Die bakterieë vermeerder as daar baie stysel in die derm teenwoordig is, soos bv. wanneer diere op ‘n hoër voedingspeil geplaas word. Daar is egter ook ‘n paar ander faktore wat ‘n rol speel in die voorkoms van die siekte soos bv.:
– Dermstase
– Skielike verandering in voerprogram
– Skielike verandering van swak na geil weiding
– Wei op aangeplante voere
– Ooreet van konsentrate
Ontwurming
– Koksidiose.
– Verandering van weersomstandighede
– Verlepte weiding

Inenting teen bloednier

Aangesien bloednier ‘n siekte is wat enige tyd kan toeslaan, is dit baie belangrik dat skape volgens ‘n bestuursprogram geïmmuniseer (ingeënt) word.
– Ooie wat voorheen met bloednierentstof ingeënt is, moet 4 weke voor lamtyd geïmmuniseer word. Indien hulle nie voorheen geënt was nie en indien daar onsekerheid oor hulle immuun status bestaan, moet die ooie tweekeer met ‘n tussenperiode van 4-6 weke ingeënt word, die laaste 4 weke voor lamtyd.
– Indien die lam genoegsame kolostrum (biesmelk), wat teenliggame teen die bloedniergifstof bevat inneem, sal die lammetjie vir 13 tot 19 weke beskerm wees (passiewe immuniteit). Daar moet onthou word dat jong lammers wat ‘n passiewe immuniteit teen bloednier het en dan met bloednierentstof ingeënt word tussen 2 en 44 dae ouderdom, hulle nie ‘n goeie immuniteit ontwikkel sal ontwikkel as hulle met bloednierentstof ingeënt word.

– Lammers wat die eerste keer ingeënt word op 2-3 maande ouderdom moet een keer met ‘n bloednier entstof wat ‘n olie adjuvant bevat of as alternatief met ‘n entstof wat ‘n aluin adjuvant bevat en dan 4 weke later weer (skraagdosis) met dieselfde entstof ingespuit word. Hierdie program gee ‘n goeie immuun respons vir ten minste 6-8 maande. Ent dan weer met ‘n bloednierentstof wat aluin as adjuvant bevat.

 – ‘n Jaarlikse inspuiting van ‘n geregistreerde bloednier entstof behoort die immuniteit daarna in stand te hou.

– Volwasse diere wat vir die eerste keer ingeënt word, wys teenliggame in die bloed na 10-14 dae. Gee eers die olie adjuvant entstof en 4-6 weke daarna die aluin entstof. Gee weer na 6-8 maande en daarna jaarliks.

– Bokke wat ingeënt word, volg dieselfde program. Inenting by bokke is nie so effektief soos by skape nie. By bokke ontwikkel ook swelsels by die inspuitingsplek wat met kaasagtige limfklier absesse verwar kan word.

– Daar is ook entstowwe wat diere teen bloednier, sowel as teen ander siektes soos klostridiale besmettings en pasteurellose immuniseer

In alle gevalle waar entstowwe gebruik word, lees die ingeslote pamflet goed deur.

– Indien bogenoemde programme gevolg word, is dit nie nodig om skape voor dosering te ent nie aangesien hulle ‘n goeie immuniteit behoort te hê. Indien daar onsekerheid is of hulle ingeënt is, neem dan aan dat hulle nie immuun is nie en volg die program soos hierbo beskryf voor diere gedoseer word.

– Onthou altyd dat dit NIE die entstof is wat die dier beskerm nie, maar die dier se eie immuunstelsel wat teenliggame teen die siekte opbou na entstoftoediening. Daar is dus altyd ‘n geringe kans dat diere ten spyte van inenting nog siek kan word.

Geskryf deur: Dr. Faffa Malan, Intervet.

Bron:
Infectious diseases of Livestock 2nd edition 2004, Coetzer JAW en Tustin RC Oxford University Press, ISBN 019 578202

13 April 2007

 


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X