Vra vir Faffa

Bloedderm en rooiderm in skape en bokke

Vraag

Daar word gepraat van rooiderm en bloedderm in skape. Wat is die verskil tussen die twee?

Antwoord

Rooiderm

Rooiderm of draaiderm is ‘n siekte van skape en bokke, wat op geil weidings loop. Fisiese oorsake kan ook aanleiding tot draaiderm gee. Die siekte word orals in Suid-Afrika aangetref.

Oorsaak

Wanneer skape of bokke oor ‘n lang tyd sappige weidings met ‘n hoë proteïengehalte bewei, vergroot die dikderm geweldig en kan dan maklik van posisie verander. Die gevolg is dat die dikderm nie op die gewone plek in die bekken gevind word nie, maar onder in die buikholte.

Omdat die grootpens en die dikderm met sagte, vloeibare kos gevul is, kan hulle maklik uit hulle posisie draai. Indien dit gebeur, word feitlik die hele derm gedraai en die bloedsirkulasie word afgesny. Gifstowwe word opgeneem en kieme begin groei in die veranderde omstandighede. In dergelike omstandighede tree die dood gou in.

Afgesien hiervan lei sekere bewegings van die dier ook tot die siekte. Vrektes word telkens voorafgegaan deur bepaalde fisiese omstandighede wat verdraaiing van die derm veroorsaak bv. skeer, die sny van kloutjies en enting, m.a.w. handelinge waartydens skape  en bokke omgekeer word. Wanneer kleinvee getel word, sal sommige in die lug spring en omval. Bokke is lief om bo-op voorwerpe te spring en mekaar van die “kasteeltjie” af te stamp. Dit alle kan meebring dat die derms uit posisie verskuif en verdraai.

Kliniese tekens

Diere wat rooiderm onder lede het, word selde voor die oënskynlik onvoorspelbare dood opgemerk omdat die verloop van die siekte so vinnig is. Buikpyn gekenmerk deur ‘n geblêr of gekreun, rekbewegings en ‘n geskop na die pens, is die enigste opvallende tekens. Ná die dood blaas die dier vinnig op.

Nadoodse tekens

As die karkas versigtig onder die buik oopgemaak word, stulp die vergrote, bloedrooi, opgeblaasde dikderm gewoonlik heel eerste uit. By nadere ondersoek, sal dit blyk dat feitlik die hele dermkanaal kloksgewys (van onder die dier gesien) verdraai is. Die derminhoud is bloederig en met gas gevul. Ontbinding tree baie vinnig in. Die grootpens is relatief klein en kan leeg wees.

Behandeling

Omdat die siekte so skielik ontstaan en vinnig verloop, word die diere óf dood aangetref óf vrek hulle lank voordat veeartsenykundige hulp beskikbaar is. Behandeling is dus nie ‘n praktiese uitweg nie.

Voorkoming

Dit is belangrik om die oormatige uitsetting van die dikderm te voorkom. Dit is egter onprakties om die diere heeltemaal van té voedsame weidings te onttrek.  Weidings kan afgebroke bewei word.

Gelukkig is daar ‘n baie eenvoudige en heel praktiese oplossing vir die rooidermprobleem: diere wat gereeld growwe vesel in die vorm van hooi kry, sal selde rooiderm ontwikkel. In Nieu-Seeland waar die siekte dikwels voorkom, word aanbeveel dat diere bv. 5 dae op lusern loop en dan 2 dae op grasweiding. Met hierdie stelsel kom die toestand selde voor. Hou ook die proteïengehalte van die weiding binne redelike perke deur dit byvoorbeeld nie oormatig met stikstof te bemes nie.

Skeer, dip en ent diere op sappige, groen weidings versigtig.

Bloedderm

Bloedderm word veroorsaak deur ‘n klostridiale bakterium, Clostridium perfringes tipe A.

Besoek  die volgende webadres vir meer inligting oor hierdie toestand

https://hulp.landbou.com/wp-content/uploads/2014/03/cffe2dd6-cf21-4483-908e-f86d5391e18f.pdf

Bronne:

Bruére and West, .M. 1993.The sheep, health, disease, production. Veterinary Continuing Education, Massey University, Palmerston North, New Zealand. ISSN 0112-9643

De Wet , J en Bath, G. 1994. Kleinveesiektes. Tafelberg Uitgewers. IBN 0 624 03203 5

Geskryf deur: prof. Gareth Bath (gfbath@gmail.com) en dr. Faffa malan (dokfaffa@nashuaisp.co.za)

5 April 2015


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X