Vra vir Faffa

Biosekuriteit in die veebedryf

Vraag

Dit is belangrik vir die veeboer dat daar nie nuwe siektes sy plaas binnekom nie en daarom is 'n biosekuriteitsplan so nodig, sê een van ons kundiges.

Antwoord

Dit is belangrik vir die veeboer dat daar nie nuwe siektes (nuwe besmettings) sy plaas binnekom en binne sy kudde of tussen kuddes versprei nie. Gewoonlik het die diere op ‘n plaas nie ‘n goeie of geen weerstand (geen immuunstatus) teen nuwe siektes wat die plaas binnekom nie. Hierdie nuwe siekte of siektes tas gewoonlik baie diere aan en baie diere kan ook vrek, met gevolglike groot ekonomiese verliese. Daarom is ‘n biosekuriteitsplan ‘n noodsaaklike instrument om die boer te help om dit te beheer. ‘n Biosekuriteitsplan spel al die handelinge wat op die plaas uitgevoer word uit om te verseker dat nuwe siektes nie die plaas binnekom en die diere besmet nie.

Staat se verantwoordelikheid
Op nasionale vlak is die Staat verantwoordelik vir die beheer van biosekuriteit in die land. Daar moet beheer wees oor die invoer en uitvoer van alle lewende diere. Die Staat moet verseker dat ingevoerde diere gesond en vry van siektes en besmettings is. Die Staat beheer ook die invoer van produkte soos kombuisafval vanaf internasionale skepe en vliegtuie wat siekteveroorsakende agense soos die bek-en-klouseervirus kan bevat.

Uitbrekings van bek-en-klou-seer waar diere besmet is deur kombuisafval met die bek-en-klou-seervirus het al voorgekom, met nadelige gevolge vir die land se industrie. Die siekte bek-en-klou-seer, wat ‘n aanmeldbare siekte is, word daarom deur die staat beheer. Op nasionale vlak is die Staat ook verantwoordelik vir die beheer van brusellose en tuberkulose. Beide bogenoemde siektes kan vanaf die diere na die mens oorgedra word met nadelige gevolge. Siektes wat van die dier na die mens oorgedra word, word soönoses genoem.

Vee-eienaar se verantwoordelikheid
Siektes wat nie op nasionale vlak vir die veebedryf ‘n gevaar inhou nie, moet self deur die vee-eienaars op plaaslike vlak beheer word. Die vee-eienaar is op plaaslike vlak self vir biosekuriteit verantwoordelik. Daar is meesal entstowwe beskikbaar teen die siektes (byvoorbeeld knopvelsiekte, bloutong, ensovoorts) wat deur die eienaar self beheer moet word. In die beheer van hierdie siektes is goeie bestuur van die boedery ook belangrik om produksieverliese te beperk en goeie veegesondheid te verseker.

Weerstand van diere
Dit is belangrik vir die veeboer om te verseker dat sy diere se weerstand optimaal is vir goeie gesondheidstatus asook vir biosekuriteitsdoeleindes. Goeie voedingsbestuur, parasietbeheer en die vermindering van stres op die dier is belangrik om te verseker dat die dier se gesondheidstatus optimaal is. Diere ervaar baie stres gedurende droogteperiodes waar kos skaars is, oorstromings en vloede, gedurende geboortes van kalwers of lammers of met die speen van die kalf of lam.

Indien die diere se gesondheidstatus goed is, sal hulle weerstand teen siektes optimaal wees. Daar moet verseker word dat diere in ‘n goeie kondisie is en die gesondheidstatus optimaal is as hulle teen siektes ingeënt word, want dan sal hulle spesifieke immuniteit teen daardie siektes ook optimaal wees.

Siekteveroorsakende faktore moet so ver moontlik voorkom of verminder word. Toets vir diere wat draers is van siektes soos beesvirusdiarree of brusellose. Met die aankoop van diere moet verseker word dat die aangekoopte diere siektevry is, sodat daar nie siektes na jou plaas of kudde versprei nie. Dooie diere moet begrawe of verbrand word. Karkasse van diere in die veld kan ‘n bron van lamsiekte-besmetting wees vir gesonde diere wat daaraan lek. Groot getalle vrektes by diere (beeste, skape) het al voorgekom deurdat hulle aan besmette karkasse lek.

Voorkoming en beheer van siektes
Met die voorkoming en beheer van dieresiektes op plase moet die omstandighede van elke plaas soos reënval, temperatuur, aanwesigheid van parasiete (bosluise, wurms ensovoorts), waterbronne, weidings, diersoort, produksiesisteem, wisseling van diere, aanwesigheid van wild en voëls en bestuurspraktyke in ag geneem word vir doeltreffende siektebeheer en biosekuriteit. Die inkoop van nuwe diere en verskuiwing van diere tussen kampe het ‘n wesenlike invloed op dieregesondheid en daar moet hiermee rekening gehou word (sien gedeelte hieroor later in artikel).

Verseker dat alle diere ingeënt is teen die heersende siektes in die area en wat op die plaas voorkom. Alle nuwe diere wat op die plaas ingebring word, moet getoets en vry wees van siektes. Dit is wys en raadsaam om jou veearts te raadpleeg oor voorkoming en beheer van dieresiektes en watter stappe geneem moet word om te verseker dat die biosekuriteit op jou plaas optimaal is.

Vir die meeste belangrike siektes in Suid-Afrika is daar doeltreffende entstowwe beskikbaar om die siektes by diere te voorkom soos byvoorbeeld sponssiekte, dikkop, knopvelsiekte, bloutong, bloednier, perdesiekte, brusellose, nuwesiekte, varkparvovirusbesmetting ensovoorts. Waar daar nie entstowwe beskikbaar is om diere in te ent nie, moet die voorgeskrewe bestuurspraktyke om daardie siektes te voorkom, nougeset nagekom word soos byvoorbeeld vir snotsiekte, tuberkulose, longsiekte ensovoorts.

Boerderystelsels
Vir intensiewe boerderystelsels soos melkkoeie wat op ‘n nulbeweidingsisteem of beeste in ‘n voerkraal aangehou word, is die biosekuriteit anders as vir vleisbeeste wat op ‘n ekstensiewe stelsel aangehou word. Kontak jou veearts om ‘n volledige biosekuriteitsprogram saam te stel wat doeltreffend kan werk ooreenkomstig die boerderystelsel.

Mense kan draers van siektes wees. Besoekers kan onwetend siektes van buite en van plaas tot plaas versprei. Alle besoekers moet bewus wees van die biosekuriteitsmaatreëls op die plaas. "Geen toegang"-bordjies kan met oorleg aangewend word. Besoekers kan gevra word om rubberstewels van die plaas aan te trek. Diere moet gereeld vir siektes getoets word en siek diere moet geskei word van gesondes. Dis wenslik waar diere aangekoop word om hulle vir ‘n tydperk van drie tot vier weke in kwarantyn te plaas.

 

Aspekte van hantering by ingekoopte diere
Alle diere wat ingekoop word vir die plaas moet gedip word om eksterne parasiete (byvoorbeeld bosluise, luise, myte) te elimineer. Dit is aan te beveel dat die diere gedip word voordat hulle op die plaas aankom. Ingekoopte diere met hartwater- of rooiwaterbosluise kan die plaas besmet en reeds gevestigde diere kan vrek aan bogemelde siektes as die bosluise hulle byt en besmet as daar nie hartwater of rooiwater op die plaas voorgekom het nie. Die bontbosluismannetjie dra die hartwater-veroorsakende organismes oor:
Verseker dat alle ingekoopte diere verkieslik ontwurm word, om die interne parasiete te elimineer sodat die plaas nie besmet word nie. Raadpleeg jou veearts vir die besonderhede hieraan verbonde.
Dis wenslik om ingekoopte diere vir drie weke apart te hou (in kwarantyn) alvorens hulle by ander troppe diere gesit word. Indien die ingekoopte diere ‘n siekte onder lede het en nog in die broeitydperk (inkubasieperiode) van die siekte was, sal die siekte tot uiting kom gedurende die kwarantynperiode.

  • Alle diere wat ingekoop word, moet vir sekere siektes wat van ekonomiese of strategiese belang is, getoets word byvoorbeeld brusellose en tuberkulose. Raadpleeg jou veearts vir besonderhede.
  • Indien draerdiere wat dikkopsponssiekte-kieme (Clostridium novyi) of ander mikroörganismes dra, ingekoop word hou dit ‘n groot gevaar in vir nie-geïmmuniseerde diere wat reeds op die plaas is. Raadpleeg jou veearts aangaande immuniseringsprogramme (inenting) wat gevolg moet word om diere te beskerm.
  • Die verskuiwing van diere tussen kampe op dieselfde plaas hou altyd ‘n potensiële gevaar in vir uitbreke van sekere siektes soos rooiwater, bosluisgedraagde galsiekte, sponssiekte, miltsiekte ensovoorts. Verseker dat die immuniseringsprogram vir jou plaas op datum is.

    Gevolgtrekking
    In ag genome die risiko’s waarmee die veeboer gekonfronteer word, is dit net raadsaam om te sorg dat daar ‘n biosekuriteitsplan vir die plaas is en dat almal daarby hou. In hierdie geval – soos so baie ander – is voorkoming beter as genesing.

     

  • Geskryf deur: Dr. J. H. du Preez, besturende direkteur: Instituut vir Suiweltegnologie, MPO.
    Hierdie artikel het in die Dairy Mail verskyn.

    24 Februarie 2009


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X