Vra vir Faffa

Beweiding van Rooigras, Tef en Oulandsgras

Vraag

Verkeie vrae het ingekom oor die beweiding van Tef, Oulandsgras en Rooigras. Hulle word hieronder beantwoord.

Antwoord

Vraag: Ek wonder al lank, of daar  ‘n voordeel is vir grassaadverspreiding en aanplanting, as beeste vir ‘n kort rukkie na saadvorming op veldgras sou wei en hulle dan onttrek sou word.  Sal die gras se stand digter word daardeur of moet beeste liewers glad nie op graskampe wat gespaar word vir die volgende seisoen,  wei nie. Die veld is oorwegend rooigras en tussen Sasolburg en Koppies.

Baie dankie, Groete, Erina Fourie
 
Antwoord:As jy sou dink dat die beeste die saad vreet en op die manier versprei, gebeur  dit ongelukkig net met sekere grasse en  speel  dit ’n onbeduidende rol. Nee wat, beeste kan gerusde kampe bewei, hulle neem min saadhalms in, trap dit meer plat en bevorder so ontkieming.
 
Vraag: Ek is van die Vaaldriehoek en wil graag weet of ek my gevestigde Oulandsgraslande deur my beeste kan laat wei nadat hulle gesny en gebaal is en weer gegroei het. Die gras is baie mooi na al die re?n, maar nie so dat kostes om weer te baal dit regverdig nie. Wat stel u voor moet ek doen?
Moet die gras langerig wees in die winter om wel die polle en grond teen erge koue te beskerm of moet hulle liefs kort wees.  Ek persoonlik hou nie van brand nie, volgens my word te veel skade aan grond aangerig.
Ek sal dit opreg waardeer as u my kan laat weet.
 
Antwoord: Jy kan gerus die Oulandsgras laat bewei na hooimaak. Hierdie jong groei van hoë kwaliteit kan jy  laat afwei tot op ’n hoogte van 8 – 10 cm. Te veel brand doen skade, maar om Oulandsgras af en toe te brand is ook nie ‘n fout nie.
 
Vraag: Ek het hierdie jaar tef op van my droë lande geplant en laat wei deur my beeskudde, om baalkostes te bespaar, maar om wel die lande te benut.  Ek is van die Vaaldriehoek, is daar dalk iets anders wat ek eerder kan plant vir somerweiding of eerder vir herfs, voordat die beeste na die mielielande kan gaan. Of kan ek tef en iets anders dalk  meng?
 
Antwoord: Ondervinding leer dat beeste Tefhooi beter benut as wanneer dit bewei word. As julle egter sukses met beweiding gehad het, volhard daarmee. ’n Ander eenjarige gewas wat vir somer en herfs geplant kan word, is Baster Babala want dit sal meer produseer as Tef. Suiwer stand moet nie met  Tef gemeng word nie.
 
Vraag: Ek probeer ook om van my graskampe (rooigras en soetgras) te spaar deur hulle glad nie te laat bewei nie. Ek het nou al gewonder of effense weiding deur die kudde, dalk net vir ‘n paar dae,  nie die gras se hervestiging vir die volgende seisoen sal aanhelp nie.
Baie dankie, Groete, Frans
 
Antwoord: Bedoel jy glad nie te laat wei nie? Om nie te wei vir meer as 2 seisoene is net so skadelik as oorbeweiding. Die veldkampe wat vir die winter gerus word, moet vroeg in die somer wel bewei word. Dit stimuleer groei. Daarna kan dit vanaf Des/Jan gerus word vir die winter. Kampe wat vir somerweiding bedoel is, moet ten minste elke tweede of derde jaar in die laat somer gerus word om saad te vorm.
 
Geskryf deur: prof. Chris Dannhauser, weidingskundige (chriswei@vodamail.co.za)
26 April 2011

Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X